Dis die maklikste manier om jou kind se doen en late oorsee te volg, om kontak met jou ou skoolvriende te behou, en om nuus met die mense in jou lewe te deel. Sosiale media het die lewe ingrypend verander – soveel dat jy jou deesdae nie daarsonder kan indink nie.

Maar kenners waarsku gereeld teen die negatiewe effek daarvan. Een studie wat verlede jaar deur die Temple-universiteit in die VSA gedoen is, sê mense in hul middeljare is veral kwesbaar vir dié slegte invloed. Mense bo 30 wat op sosiale media aktief is, is inderdaad 22% meer geneig om ’n middeljarekrisis te hê as dié wat nie sosiale media gebruik nie. Dis omdat jy ná 30 en in jou middeljare begin wonder oor jou lewensdoelwitte en of jou portuurgroep dalk al meer bereik het. Dan vergelyk jy jouself maklik op sosiale media met ander, sê die studieleiers.

Sosiale platforms buit ook dié gevolge uit. Hannes Wessels, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg met ’n spesiale belangstelling in sosiale media, sê ’n mens moet onthou dat as iets gratis is, is jý die produk.

“Sosiale platforms maak geld deur dit vir ondernemings maklik te maak om spesifiek vir jou te adverteer. Hoe langer jy aktief is, hoe meer inligting versamel hulle oor jou en jou belangstellings om aan maatskappye te gee. Dus gebruik hulle verskeie sielkundige beginsels om jou so gereeld as moontlik daar te kry, en dan so lank as moontlik te laat bly. Baie van dié taktieke word ook in dobbelhuise gebruik.”

Roxanne Frizlar, ’n leefstylafrigter en aanlynkommunikasie-konsultant van Kaapstad, sê ons moet onthou dis nie sosiale media se “skuld” nie. “Ja, dit gee sekere probleme ’n vastrapplek wat dit nie andersins sou gehad het nie, maar dit bly net ’n instrument – jý besluit hoe jy dit gebruik.”

Vroue, wat sosiale media meer as mans gebruik, moet veral versigtig wees. Hoewel daar in Suid-Afrika byna ewe veel manlike en vroulike gebruikers is (teenoor ontwikkelde lande waar vroue verreweg die grootste gebruikers is), neig vroue om meer tyd daarop deur te bring, wys die plaaslike digitale bemarker Qwerty Digital se jaarlikse digitale verslag vir 2017.

Maar Dean McCoubrey, stigter van MySociaLife, wat digitale opvoedingsprogramme by skole en maatskappye in Kaapstad aanbied, sê as jy dit reg gebruik, hou dit eintlik verskeie voordele vir die samelewing in, van filantropiese gedagtes tot blote pret. “Maar nes jy leer hoe om ’n motor te bestuur of alkohol verantwoordelik te gebruik, moet jy deesdae leer hoe om sosiale media tot jou voordeel in te span.”

One young woman posing for social media in Barcelo
FOTO Getty Images / Gallo Images

Hier is vier aspekte van jou lewe wat deur sosiale media geraak kan word ... en hoe jy dit kan hanteer. 

Geestesgesondheid

Die grootste probleem, sê Dean, is dat dit maklik is om jou alledaagse lewe met iemand anders se hoogtepunte te vergelyk – en natuurlik gaan jy dan minderwaardig voel.

“Ons vergeet dat almal net hul prestasies, beste oomblikke en mooiste foto’s op sosiale media plaas. Dan vergelyk jy jou lewe, al die gewone dae én laagtepunte, daarmee – dikwels onbewustelik. Dis menslike natuur om jouself te vergelyk en baie faktore speel ’n rol in ’n lae selfbeeld, maar sosiale media kan beslis toksies wees en ook bydra tot angs en depressie.”

Boonop, sê Roxanne, is aanlyn boeliery ’n geweldige probleem, want die anonimiteit van die internet veroorsaak dat mense mekaar daar vertrap en verneder sonder om twee keer te dink.

Vir dié wat reeds met gesondheidsprobleme sukkel, kan sosiale media ook simptome vererger. “Ja, dit gee ’n gevoel van gemeensaamheid en kan pret wees, maar almal is anders – vir sommige is die nadele meer as die voordele. Let op hoe jy voel as jy dit gebruik. As jy vind jy gebruik dit obsessief, dat dit jou selfbeeld skaad of angs veroorsaak, moet jy dit minder gebruik,” sê Dean.

Wenke
  • Herinner jouself dat dít wat jy op sosiale media sien ’n baie selektiewe venstertjie op iemand se lewe is. Gebruik dan die geleentheid om dankbaar te wees oor die goeie dinge in jou eie lewe, sê Hannes.
  • Sê iets as jy sien iemand word geboelie. “Moenie die boelie aanval en jouself ook ’n teiken maak nie, maar stuur vir die slagoffer ’n opbouende boodskap. Jou boodskap is dalk net wat daardie persoon nodig het om oukei te wees,” sê Roxanne.
  • Daar’s niks fout daarmee om celebs, skoonheid- en modeghoeroes op byvoorbeeld Instagram te volg nie, maar moenie net mense volg wat altyd perfek lyk en optree op sosiale media nie, waarsku Roxanne. Volg ook hutsmerke soos #plussize, #bodypositivity en #selflove vir balans. “Kyk eerder op na mense wat bereid is om ’n meer realistiese prentjie te deel – dié wat nie altyd grimering dra nie, wat praat oor hul depressie, en wat soms gesond eet maar soms ook sjokoladepoeding.”

Verhoudings

Sommige van die oordadige trou-albums en verlowingsvideo’s op sosiale media kan selfs die gelukkigste paartjie laat dink hulle doen nie genoeg moeite met hul verhouding nie. En dié wat trots enkellopend is, kan weer dink daar skort iets met hulle omdat skynbaar almal anders in ’n verhouding is.

Weer eens loop jy hier die gevaar om jouself met ander te vergelyk. En jy sal dan onvergenoegd of ontevrede voel, want niemand deel die besonderhede van hul mees onlangse bakleiery nie, sê Roxanne. Onthou: dis nooit die volle prentjie nie. “Wil jy in elk geval ’n verhouding hê wat altyd perfek is? Niemand is perfek nie, en wanneer julle soms vassit, leer julle mekaar en jul behoeftes ken. Dis ook die moeilike tye wat julle nader aan mekaar kan bring.”

Terloops, sê sy verder, dis goed dat jy meestal nie die slegte kant van verhoudings op sosiale media sien nie. “Dit kan jou verhouding baie skade berokken as jy oor jou maat skinder op sosiale media. Moet dit nooit doen nie.”

Wenke
  • Dis nie altyd maklik nie, maar moenie jou verhouding met iemand anders s’n vergelyk, of sommer enige raad volg wat jy raaklees nie; dis weinig die volle prentjie. Hoeveel keer sien jy nie hoe paartjies wat die soetsappigste boodskappe op mekaar se profiele skryf “uit die bloute” die verhouding beëindig nie?
  • Sosiale media word gereeld vir ontrouheid geblameer, maar is nie die oorsaak nie – dit maak dit net makliker. As jy bekommerd is daaroor, moenie in die geheim jou maat se Facebook-boodskappe nagaan nie. Gebruik eerder jou energie om aan jul intimiteit en kommunikasie te werk, sê Roxanne. “As julle albei toegewyd is en aan die verhouding aandag gee, gaan geen sosiale platform tussen julle kom nie.”
  • Die gevaar is eerder dat sosiale media jul aandag aflei wanneer julle saam is, sê Hannes. As julle heeltyd op Facebook sit wanneer julle by mekaar is, mors julle daardie tyd saam. Sit die fone weg en gebruik die tyd konstruktief om aan jul verhouding te bou. 

Loopbaan

Sosiale media gee jou toegang tot baie meer loopbaangeleenthede as wat daar in vorige jare was – van artikels wat jou meer oor jou bedryf kan leer tot advertensies vir nuwe poste en netwerkgeleenthede.

Jy kan selfs jou nuwe onderneming gratis só adverteer of produkte direk op sosiale media verkoop, sê Hannes. “Daar is gevallestudies wat wys dat dit veral vir vroue in ontwikkelende lande geleenthede bied wat hulle nie andersins sou gehad het nie. Dié vroue verkoop byvoorbeeld tuisgemaakte produkte so en begin hul eie ondernemings.”

Baie mense het egter ook al op die harde manier geleer dat dit jou loopbaan skade kan berokken. Party het al hul werk verloor omdat hulle private inligting oor hul maatskappy gedeel het of iets skadeliks oor hul baas gesê het.

Deesdae gaan kyk werkgewers ook na jou sosialemedia-profiel wanneer jy vir ’n onderhoud gaan, sê Roxanne, en as jy soos iemand lyk wat aand ná aand partytjie hou, kan die deur net daar vir jou toegemaak word.

Wenke
  • Gaan jou profiel gereeld na en vee foto’s uit wat jou loopbaan skade kan laat skade ly. As jy dit nie wil uitvee nie, stel die privaatheid minstens só dat dit net vir sekere nabye vriende sigbaar is.
  • Dink twee keer voor jy iets deel, sê Dean. Selfs al is jy nie vriende met jou baas op Facebook nie, is die kans goed dat een van jou vriende wel met hom bevriend is. En as hulle sien jy skinder oor sy humeur, kan dit maklik by hom uitkom. “Ook onskuldige stellings kan maklik verkeerd geïnterpreteer word. Probeer dít wat jy sê uit iemand anders se oogpunt lees voor jy dit deel.”
  • Sluit aan by netwerkgroepe vir jou bedryf en lees artikels oor jou beroep. Dis ’n gratis manier om jou kennis uit te brei of selfs kort kursusse te doen.
  • Gebruik persoonlike sosiale media so min as moontlik by die werk. Jy wil nie daardie kollega wees wat altyd op Facebook doenig is nie – almal ken mos só ’n persoon.

Ouerskap

Onlangse statistieke wys dat ouers meer tyd op hul fone deurbring as hul kinders, sê Hannes. Dis dus baie belangrik dat jy goeie internet-etiket leer en sosiale media reg gebruik, want kinders leer deur wat jy doen en nie wat jy sê nie.

Sosiale media kan ook ’n wonderlike hulpmiddel vir ouers wees om minder alleen te voel en raad by ander ouers te kry. Onthou net, dit gee enigiemand ’n platform om ’n kenner te wees, sonder enige kwalifikasies. Daardie ma wie se kind broccoli met ’n groot glimlag eet? Dit het waarskynlik talle probeerslae gevat om die foto te neem, en nou sien jy haar as ’n ghoeroe – en voel sleg oor jy misluk, sê Roxanne.

Fopnuus is veral ’n probleem as jy mense volg wat nie beproefde raad deel nie, voeg Hannes by. “Soveel ouers glo byvoorbeeld fopnuus oor die nadele van inenting, en sommige se kinders het al dodelik siek geword weens siektes wat maklik verhoed kan word. Moet niks glo of deel waarvoor daar nie ’n betroubare bron is nie.”

Wenke
  • Onthou dat jy ’n voorbeeld vir jou kind moet stel. Jy kan nie verwag dat jou kind ’n boek moet lees terwyl jy die hele aand op Facebook sit nie. Maak dit eintlik ’n reël dat alle fone saans minstens ’n uur voor slaaptyd weggesit word, want die blou lig wat dit vrystel, kan jou ook uit die slaap hou, sê Dean.
  • Moenie jouself teen ander ouers meet nie, maar moet ook nie jouself verwyt as jy dit die slag doen nie. Dit wys jy wil die beste vir jou kind hê en dit maak jou reeds ’n goeie ouer, sê Roxanne.
  • Volg ’n gesonde mengsel van kenners en “gewone” mense om raad te kry. Ouers en kinders verskil en niemand het ál die antwoorde nie. Maak egter seker die mense wat jy volg, is betroubaar en opbouend en nie iemand wat jou altyd laat sleg voel oor jouself nie.

Uiteindelik is daar baie voordele aan sosiale media, maar balans is die wagwoord, sê Hannes. “Vra jouself elke keer af of jy jou tyd konstruktief gebruik wanneer jy op sosiale media is. Indien nie, is dit tyd wat jy eintlik kan bestee aan die dinge wat regtig saak maak – jou verhouding, jou kinders, jou stokperdjies en jou gesondheid.”