‘Ons klink ’n glasie op ons oupas van doerie tyd’

Stefan Gerber en Alexander Milner, eienaars van die Stellenbosse wyn-onderneming Boer & Brit

Die Rooinek en die Boer het hand geskud – 120 jaar ná hul ooroor-grootjies in die Anglo-Boereoorlog teen mekaar baklei het.

Stefan Gerber en Alexander George French Mordaunt Milner (kortweg Alex) het in hul tweede jaar as wynboukunde-studente aan die Universiteit Stellenbosch ontmoet.

“En toe ontdek ons dat ons ooroorgrootjies, president Paul Kruger en veldmaarskalk John French, vyande was in die oorlog.” Maar albei jong mans was lief vir wyn – en braai – en het saam ’n besigheid begin.

“Ons deel ook passies soos perdry en die natuur. Alex wou Afrikaans leer praat en ek wou beter Engels praat, so alles het goed uitgewerk,” sê Stefan.

Hul sakeonderneming bly groei met wyn wat oral in Suid-Afrika versprei en uitgevoer word na onder meer Amerika, Brittanje, Australië, België, Nederland en sekere lande in Asië.

As studente het hulle in 2002 “sommer vir die pret” ’n bietjie wyn gemaak op ’n lappie erfgrond van Alex. “Maar ons het gou agtergekom ons moes nog baie leer en dat wyn nie sommer vanself goed proe nie. Dit verg streng dissipline en higiëne.”

Stefan het ná sy studies ’n paar jaar in Indië wynbou bestudeer en toe sowat twee jaar lank by De Morgenzon-wynlandgoed op Stellenbosch gewerk. Alex is ook ’n ruk lank Indië toe.

In 2009 was hulle gereed om vir hulself te werk. En met R2 500 elk het hulle Boer & Brit begin.

“Ons het twee vaatjies rooiwyn gehad, ’n malbec en ’n tempranillo. Ons gooi dit toe saam en noem dit ‘Rooinek and Rockspider’ en gee dit vir een van Suid-Afrika se groot wynskrywers, Neil Pendock. Hy was mal daaroor.” Binne twee weke nadat hulle dit einde 2009 gebotteleer het, was vier uitvoeragente op hul spoor.

Hulle was baie dankbaar – maar aanvanklik versigtig. “Ek glo nie jy kan verwag om binne die eerste drie jaar van ’n nuwe besigheid geld te maak nie. Jy moet net baie hard werk, met nuwe planne vorendag kom en besef die bank is nie eintlik van plan om entrepreneurs te help as jy nie sekuriteit kan verskaf nie,” sê Stefan nugter.

Al hoe meer mense, tot die top- Britse wynskrywer Jancis Robinson, het hul wyn geproe. Kort voor lank is twaalf bottels van die 2008-oesjaar van hul wyn, The Field Marshall, na die kelder in Brittanje wat wyn aan die Britse koningsgesin verskaf.

“Dit is ’n moeilike bedryf. Hoe vinniger verkope groei, hoe moeiliker kan jy kontantvloei beheer. Jy besef gou minder is meer. Ons het eerder minder reekse en gehalteprodukte. Ons sake-uitkyk is effens tong in die kies – daar moet ook pret in besigheid wees. Ek is ’n bietjie meer waaghalsig, terwyl Alex baie konserwatief is en altyd sal kyk vir afslag. Maar ons vul mekaar goed aan.

-In ons wêreld word jy daagliks gekonfronteer met veranderende markte en prysmededinging. Ons moes baie gou bepaal wát ons onderskei van ons mededingers. Anders sou ons dit net nie gemaak het nie,” sê Stefan.

’n Goeie boekhouer is van onskatbare waarde, meen hulle. “En ons is die ore en oë van kliënte. Ons glo in ’n ouwêreldse styl van wynmaak, met Nuwewêreldse wingerd. Ons het ook die snobisme uit wyn gehaal.”

Sedert hulle begin het, het hulle al die Boer & Brit L’Union (’n shiraz) bekend gestel, asook die Boer & Brit Mt. Leeukop (’n Rhône-versnit) met ’n etiket met die gesigte van Jan van Riebeeck en presidente Paul Kruger, FW de Klerk, Madiba en Thabo Mbeki asook ’n klein stortkoppie op. (Dink in die lyn van Mount Rushmore.)

Daar is ook ’n verskeidenheid rooi- en witwyne, soos die Trans-Karoo (’n pinotage en chenin blanc) en die Boer & Brit The General (’n Bordeaux-versnit).

Dié twee hoop vir seker hul kleinkinders kan ook eendag saam ’n glasie wyn klink.

Etikette van Boer & Brit-wyne Foto verskaf
Etikette van Boer & Brit-wyne Foto verskaf
Etikette van Boer & Brit-wyne Foto verskaf