‘Wees avontuurlik, vertrou jou instink – jy sal nooit weet tot jy probeer nie’ Juweliersontwerper Sharon Botha

Op 54 het die liefde Sharon Botha soos ’n weerligstraal getref. Sy kon nie ophou glimlag nie.

“Ek was ’n pyn in die nek, drie jaar lank,” skerts Sharon oor die “lighoofdige geluk” wat sy pal ervaar het sedert sy die dag by die Ruth Prowse-kunsskool in Kaapstad ingestap het om na ’n juweliersware-uitstalling van studente te kyk. En net gewéét het: Dís wat sy wil doen.

Dit was ’n oorweldigende, emosionele oomblik wat haar gedryf het om daad by die woord te voeg. Van 2011 tot 2013 het Sharon aan dié skool juweliers-ontwerp studeer; haar enigste vraag aan die departementshoof was hoe die studente ’n ouer mens sal hanteer. “Maar dit was fine, ek het elke dag met ’n reuse-glimlag saam met die klomp ingestap, elke oomblik geniet . . . ek het my passie ontdek!”

Vandag lewe Sharon steeds “haar beste lewe”, soos sy dit stel. Sy het kliënte van oor die wêreld heen wat haar treffende, bonkige silwerjuweliersware koop. “Ek is nog elke keer verras en uit my nate as ek ’n kompliment kry vir een van my stukke,” vertel sy. Haar onderneming – Cole Jewellery in Woodstock, Kaapstad – het einde verlede jaar boonop die KamersMakers-toekenning vir die beste stalletjie gekry.

Sharon was as kind al kreatief. Op laerskool het sy kunsklasse geneem en haar droom was om eendag kunsskool toe te gaan, maar “ek is na ’n kloosterskool waar sulke ligsinnige nonsens nie aangemoedig is nie!” Uiteindelik het sy as skoonheids-terapeut gekwalifiseer, waarvan sy niks gehou het nie, en ná haar troue was sy dertien jaar lank ’n tuisbly-ma vir hul drie kinders (haar man het dit so verkies) tot met hul egskeiding in 1992.

Daarna het Sharon haar kreatiewe talente ingespan, want met drie jong kinders moes sy geld verdien. “Ek dink ek het partykeer meer uitgegee as wat ek ingekry het. Ek het naaldwerkklasse gegee, appliekwerk gedoen, vir ’n paar jaar bedlinne ontwerp, groetekaartjies gemaak . . .”

Tien jaar ná haar egskeiding is sy weer getroud, en sy en Johan het tussen hulle ses kinders. (En nou al vier kleinkinders.) Saam het hulle ’n kralewinkel in Kaapstad begin, wat ’n groot sukses was.

“Ons het later drie winkels gehad, maar toe tref die credit crunch ons. Al die tuisbly-ma’s wat so graag krale-skeppings gemaak het, het ophou koop. Dit was ’n moeilike tyd. Toe ek by Ruth Prowse wou begin swot, het ons pas ons huis verloor. Ek het gesmag na kreatief wees, maar ek moes eers Johan se seën kry en hom oortuig – ons lewe was immers in ’n warboel. Hy’t huiwerig ingestem.”

Dit was nie maklik nie: om voltyds te studeer, ’n huishouding te bestuur, ’n sterwende besigheid te sluit, haar huwelik bymekaar te hou en na haar ma om te sien, maar dit was dit werd. “Ek sal dit weer doen – in a heartbeat.

Vandag weet Sharon dat sy nie die selfvertroue sou hê om die wêreld van juweliersontwerp te betree as sy nie ’n ordentlike kwalifikasie gehad het nie. Dít het haar bemagtig. Om te ontwerp gee haar eindelose plesier. Sy het nooit kon dink dat sy soveel emosie in ’n stuk juweliersware kon sit nie. “Ek is mal daaroor om met my hande iets te skep. Ek hou van metaal, van die bonkigheid van silwer. Maar dis fisiek uitputtend, ure en ure se inspanning. Jy kan net na die toestand van my hande kyk!”

Sharon inkorporeer verskillende stene in haar werk, soos robyne, toermalyn, geelkwarts, swart spinel en pêrels. Selfs rooi sydraad.

Haar reeks silwerjuweliersware met rooi draad as aksente is gebaseer op die Chinese geloof dat ’n onsigbare rooi draad diegene verbind wat bedoel is om te ontmoet, ongeag tyd, plek of omstandighede – die draad sal nooit breek nie. “Dit vind aanklank by soveel mense. Op die oomblik is Johan in China, al my kinders woon oorsee, maar die onsigbare draad verbind ons,” verduidelik sy.

Struikelblokke is daar egter ook. In die wintermaande is verkope heelwat laer. En Sharon is nie ’n natuurlike bemarker nie. Sy leer elke dag meer van sosiale media, hoe die sakewêreld in 2019 werk. Begrotings is ook “angswekkende goed”, maar sy doen dit.

Een van haar beste vriende van kleintyd het vir haar die geld gegee vir die perseel in Woodstock van waar sy haar besigheid bedryf. (“Dit het my soveel van dankbaarheid geleer.”) Hier werk sy lekker, omring deur jonger ontwerpers. “Daai jeugdige idees is verfrissend, en ek speel die universele moeder wat my neus oral kan indruk. Ek sê mos: Best life ever!”

Aan inspirasie het sy nooit ’n tekort nie. Tans bly sy op ’n plaas buite Stellenbosch en in haar kop het sy reeds ’n reeks idees wat vorm aanneem, geïnspireer deur die grasse in die omgewing. “Daar is soveel ontwerp-idees wat in die wind waai, jy moet hulle net vang.” Volg Sharon op Instagram by @colejewellery

Leigh Wolfaardt in haar ateljee by ’n skildery wat die lewe aan die Tuinroete uitbeeld.

‘Ek bly die wêreld verken, dit gee my energie’ Kunstenaar Leigh Wolfaardt

Omring deur pikkewyne, olifantrobbe en albatrosse, met ’n uitsig op gletsers en sneeubedekte pieke . . . in ’n navorsingskamp op die verruklik mooi eiland Suid-Georgië naby Antarktika.

Één met die natuur op Dassen-eiland, die klein natuurreservaat aan die Weskus van Suid-Afrika. Ingeburger op die Falkland-eilande met fassinerende mense en “charismatiese” pikkewyne . . .

Kunstenaar en illustreerder Leigh Wolfaardt was nog altyd baie lief vir die natuur en buitelewe. Toe sy boonop met ’n bewaringsbioloog met ’n passie vir afgeleë wildernisgebiede trou, en sy al dié plekke saam met hom kon verken, het haar kreatiwiteit vlerke gekry. Oral waar hulle gewoon het, het sy haar unieke styl verder ontwikkel – van olieverfskilderye tot keramiekwerk.

Deesdae bly Leigh en haar man, Anton, op hul familieplasie aan die voetheuwels van die Tsitsikamma-berge by The Crags aan die Tuinroete.

Hulle is omring deur berge, strande en woude, alles naby haar ateljee, waar sy steeds haar liefde vir die natuur in haar kuns uitbeeld. Benewens ’n nuwe reeks kunswerke en kaartjies oor Suid-Afrika se fauna en flora het sy ’n tekstielreeks ontwerp met die ikoniese plante van die Tuinroete as tema. (Die Wildside-reeks is in samewerking met Pru Bolus van Langa Lapu, wat materiaal met die hand maak, en dis beskikbaar by ZandlaZam, The Crags.)

Leigh kan ook steeds nie voorbly nie met die internasionale vraag na haar werk oor die Falkland-eilande, waar sy en Anton van 2008 tot einde 2013 gewoon het.

“Ek skep elke jaar nuwe kunswerke om my Falklands-reeks uit te brei en dit opwindend te hou. Dis so bevredigend. Ek kry ’n kick daaruit om te weet dat dit soveel mense plesier gee, van Asië en Europa tot Amerika. Daar is ’n groot toeristemark op die eilande.

My topverkopers is die kunsafdrukke van veral die geelkuif- en ikoniese koningspikkewyn wat daar broei. Die eilandbewoners geniet weer my werk wat hul dorp en kleurryke leefstyl op ’n nuwe manier uitbeeld,” vertel sy.

Leigh en Anton het albei gespring vir die kans om in so ’n skouspelagtige deel van die wêreld te woon toe hy ’n navorsingspos (met die fokus op albatrosse en stormvoëls) in die Suid-Atlantiese Britse eilande Tristan da Cunha, Falkland en Suid-Georgië kry.

“’n Klompie jare tevore, toe ons vyf jaar op Dasseneiland gewoon het waar Anton bewaringsbestuurder was, het ons al ’n voorliefde vir eilandavonture ontwikkel. Ons was dol op die strak, gestroopte natuurskoon. Ons kon maande aaneen daar bly – soms net ons twee én die sowat 20 000 pare Afrika-pikkewyne – sonder om land toe te gaan. Ek het daar veral aan illustrasies vir boeke en omgewingsprojekte gewerk. Op die Falkland-eilande het ek weer gefokus op pikkewyne, albatrosse, walvisse en robbe. Dikwels het ek as veldwerker saam met Anton gegaan en dan kon ek die spesies van naby bekyk. In opdrag van die eilandregerings het ek selfs ’n paar posseël-reekse ontwerp. Ek is mal oor die gedagte dat my kunswerkies op koeverte deur die wêreld reis.”

Leigh het skone kunste aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer, maar sy het eintlik al as kind geweet “daar was geen ander opsie as om skeppend te wees nie”. Sy het drie ouer broers, wat almal by die kunste betrokke is. “Een van my vroegste herinneringe is ons vier om die eetkamertafel, omring deur verf, kryte, potlode en pastelle terwyl ek geesdriftig my verbeeldings-wêreld inkleur op groot stukke papier langs my baie vaardiger broers!” Sy glo al het sy dalk nie kans gehad om so na aan die natuur te leef nie, sou sy dit steeds as inspirasie gebruik. “Die natuur is divers en kompleks, en die patrone en teksture verras en inspireer my altyd. Dis so uplifting.”

Sy skets nie terwyl sy in die veld is nie, maar “versamel” stories, waarnemings, herinneringe en ervarings. “Ek hou daarvan om bloot waar te neem, want ek kry meer ‘gesien’. Ek neem wel dikwels foto’s terwyl ek stap, elke dag. Terug in my ateljee herskep ek my waarnemings in pen-en-ink, olieverf [’n gunstelingmedium], linosnee-afdrukke of klei.” Leigh het baie planne. “Daar is nog soveel fauna en flora om te verken, ek het skaars begin. In 2019 wil ek veral op skilder en keramiekwerk fokus, steeds met die natuur as inspirasie.

Ons boer ook tussendeur, en Anton is gereeld in Antarktika vir sy seevoël-bewaringsprojekte, maar in dié stadium is ek gelukkig om net hier te bly. Ek sal egter nooit ophou om die wêreld te verken nie, dit gee my energie en inspireer my. Dis heerlik om iets te skep wat ander mense geniet en jou siel lig.”

Leigh groei nog elke dag as sakevrou, maar sy het al ’n paar dinge geleer: Glo in jouself en jou kuns. Werk aan ’n dik vel en luister na kritiek. Moenie bang wees om te vra nie. Delegeer – jy kan nie alles self doen nie. “Ek glo ook jy moet jouself uit jou gemaksone dwing – jy sal aangenaam verras wees om te sien waar die lewe jou orals heen neem en watter avonture op jou wag!” Besoek www.leighwolfaardt.com

Soms was dit net ons twee en die 20 000 pare Afrika-pikkewyne op die eiland Leigh