Michelle Obama is elegant, warm, snaaks en slim. Sommige sê selfs slimmer as haar man, Barack, voormalige Amerikaanse president. Die gewildste vrou in Amerika, volgens ’n peiling in Desember verlede jaar. Becoming, haar memoires, is ’n treffer: In Amerika en Kanada is sowat 1,4 miljoen eksemplare verkoop binne die eerste sewe dae nadat dit verskyn het. Die belangstelling in haar is inderdaad wêreldwyd: Die boek gaan in 28 tale vertaal word.

Tog is daar tydens Barack se verkiesingsveldtog na haar as ’n “woedende swart vrou” verwys; een van die moeilikste hoofstukke wat sy in haar boek sou skryf. “Ek is ’n vrou, swart en sterk, wat vir sekere mense net herlei kan word na ‘kwaad’,” sê sy. En dan, het sy uitgevind, luister niemand na die punt wat jy wil maak nie.

Ja, die grense begin vervaag oor wat paslik “manlik” en “vroulik” is. Tog bestaan verouderde sienings steeds oor wat aanvaarbare gender-gedrag is.

Die Oscar-bekroonde aktrise Jennifer Lawrence was in 2015 en 2016 die wêreld se bes betaalde aktrise. En in 2013 op die nuustydskrif Time se lys van 100 invloedrykste mense ter wêreld. Ook sy spring nie gender-stereotipes vry nie. Sy skryf op Lenny (www.lennyletter.com): “Ek het my mening gegee sonder om doekies om te draai; geen aggressie nie, net prontuit. Die man saam met wie ek gewerk het (wel, hy het eintlik vír my gewerk), sê: ‘Hokaai! Ons is almal in dieselfde span.’ Asof ek op hom gegil het. Ek was geskok, want niks wat ek gesê het, was persoonlik, aanvallend, of, om eerlik te wees, verkeerd nie.”

Die werklike verskille tussen mans en vroue se leierskapstyle is klein, volgens navorsing. Daar is egter ’n onbetwisbare vooroordeel in hoe die samelewing na sterk vroue in leiersposisies kyk. Hulle word meer negatief bejeën as mans wanneer hulle op dieselfde kragtige manier kommunikeer. Dubbele standaarde geld steeds: Mans is “eerlik en reguit”; vroue ’n “feeks”.

Dié gender-vooroordeel verwring selfs die manier waarop prokureurs in die hof gesien word, luidens ’n studie in die joernaal Law and Human Behavior. Mans en vroue het driftige, manlike prokureurs as gebiedend, kragdadig, bekwaam en ’n goeie aanstelling ervaar. Die grimmige vroulike prokureur as skril, ondoeltreffend, onaangenaam en ja, histeries. “’n Goeie prokureur is veronderstel om tradisioneel manlike eienskappe in die hof te wys: toorn, kragdadigheid, gesag. Maar wat gebeur, is dat mans hierdeur bevoordeel word terwyl vroue gestraf word indien hulle dieselfde trekke toon,” volgens die navorsers.

Vroue se dilemma met selfgelding word heerlik gesatiriseer in ’n stuk in die Washington Post met bekende aanhalings uit die geskiedenis wat aangepas is sodat Evas dit met veiligheid op ’n vergadering kan sê. Sonder om op tone te trap.

Moses: “Laat my mense gaan!” Vroulike Moses: “Farao, luister, ek verstaan jou punt heeltemal. Regtig. En ek wil nou nie inmeng by jou besluit nie, maar ek moet net vra of jy nie tog sal oorweeg dat dit dalk nie so ’n slegte plan is om hierdie mense te laat gaan nie? Of het jy reeds daarteen besluit?”

Nou ja, vroue was nog altyd diegene wat moes sus en paai. Mos sugar and spice ... En as hulle hul dus ferm uitspreek en toornig by die werk raak, kyk almal skeef op.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

‘Buddies’ wat ‘stoei’

“Ons bespreek dit gereeld in my klas,” vertel prof. Anita Bosch, leerstoel: vroue en werk aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool. “Die vroue mor: ‘Ek voel gefrustreerd, want hulle lúister nie na my nie. Maar as ’n man dieselfde ding ophaal, is almal die ene ore.’”

Bygesê, dis nie alle vroue se ervaring nie. Roberta Durrant, vervaardiger en regisseur van onder meer die rolprent Krotoa, sê sy was nog altyd net haarself en ervaar nooit ’n teenreaksie nie. “Omdat ek ’n vrou is, moet ek dinge op ’n sekere manier doen? Nee!”

Dat daar oorwegend by professionele vroue ’n behoefte is om anders op te tree en aan te pas, is egter nie te betwyfel nie, sê prof. Bosch. Terselfdertyd moet ’n bewustheid ook by mans geskep word. “Mans raak byna buddies wat ‘saamspeel’, kompeterend is en ‘stoei’ – en kom nie agter daar is ander mense in die groep wat nie op dieselfde manier ‘speel’ nie. Vroue (en sommige mans) wat nie so aggressief praat, doen, oorkom nie.”

Die meeste werkplekke is nie sensitief hiervoor nie. As oorlewingstrategie pas vroue aan. Navorsing wys vroue raak gender-buigsaam: meer androgien, met ’n kombinasie van manlike en vroulike eienskappe. Mans bly egter vasgevang in die tradisioneel manlike rol en boonop aangemoedig om die benadering te bly volg.

Jy, as vrou, dink as jy meer soos ’n man optree, is jou probleme opgelos en jy gaan deel van die groep word. Maar loop jou trompop vas teen sosiale norme van wat as manlik en vroulik beskou word. Hoewel dit tussen kulture verskil, is daar ooreenstemmings. ’n Vrou moet versorgend (nurturing), relatief sag en warm wees. “Tree jy te manlik op, word jy ook nie gehoor nie,” sê prof. Bosch.

Vroue wat geoordeel word dat hulle “soos ’n man probeer wees”, word uiteindelik uitgeskuif, as hulle nie op hul eie padgee nie, beaam Marcia Reynolds, skrywer van Wander Woman: How High-Achieving Women Find Contentment and Direction, op psychologytoday.com. Dus pas jy aan, verweef ’n bietjie meer sagtheid, vroulikheid in jou aanslag. Sodat jy beter “gehoor” word.

Só het Michelle Obama byvoorbeeld met ’n span saamgewerk wat haar toesprake nagegaan, haar met haar lyftaal gehelp en haar selfs geleer het om haar stemtoon aan te pas. Die meeste mans is egter nie bereid om aan te pas nie, die sosiale boete is te groot, sê prof. Bosch. Want vroue word nog ’n mate van gender-buigsaamheid toegelaat. Mans wat egter as meer vroulik bejeën word, word nie as ’n goeie leier/man gesien nie. “Om jou manlikheid te bewys moet jy voorgee jy is die sterkste en mededingendste. Daar is kompetisie om jou manlikheid te bewys, anders word jy as te sag beskou. Een manier is om ander dood te praat.”

Hoewel dinge plaaslik begin verander, is daar nog baie vooroordele. Sy het mans selfs al hoor verdedig: “‘Dis mos hoe ’n vrou moet wees, die Bybel sê so.’ Hoe diep die vooroordele vasgelê is, hang af van hoe jy grootgeword het. As dit aan dogma gekoppel is, is dit moeilik om buite daardie raamwerk aan te pas,” sê sy.

Ons sit plaaslik boonop met ’n vrot ekonomie wat geleenthede beperk en die prentjie verder deurmekaarkrap. Vroue verloor eerste hul werk as die ekonomie taan, veral in laer, ongeskoolde werke, volgens haar. Dié onbewustelike gender-stereotipering kom boonop by albei geslagte voor, by vroue soms nog meer as mans. Vroue se sosiale domein is die huis en kinders, dit word nooit bevraagteken nie. Hulle tree baie streng op teenoor ’n vrou wat buite die groep se raamwerk beweeg. Dalk is daar selfs afguns omdat jy jou ding suksesvol daar buite doen, sê sy.

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

Laat jouself geld – diplomaties

Tussen die duiwel en die diep blou see: As ’n vrou te nice is, word sy gesien as swak, manipulerend. Te aggressief, tree sy “soos ’n man op”, of sy is sommer ’n “teef”, volgens Marcia Reynolds. Vroulike selfgelding is ’n fyn kuns, wat sy “diplomatiese selfgelding” noem. Daar is ’n verskil tussen jou idees in mense se keel afdruk en hulle oorreed om daarna te luister. Dit beteken nie jy staan terug nie, maar verpak waaraan jy glo op ’n manier sodat ander mense dit sal hoor, verstaan en hopelik ondersteun.

Natuurlik moet jy idees kan deel wat strydig met die algemene siening is, want dit kan bruikbaar wees en jou bydrae raakgesien word. Maar die manier waarop jy jouself uitdruk, het ’n invloed op hoe goed jy gehoor en geoordeel word, volgens haar.

Michelle Obama sê sy leer liewer die vaardighede aan om meer tegemoetkomend oor te kom, sodat die boodskap oorgedra word. Dus laat vaar jy van die kleiner veldslae om die oorlog te wen. Eksperimenteer met verskillende maniere van dinge doen, oefen dit, sien of dit in jou omgewing werk. Vroue moet ook besef hulle móét meer mededingend wees, op hul eie, outentiek vroulike manier, volgens prof. Bosch.

Pas aan, byt vas en doen wat jy belowe het. Sodra werknemers weet hulle kan jou vertrou, sal aanvaarding volg. “’n Vroueleier moet haarself oor en oor bewys, tot op ’n punt waar sy geloofwaardigheid kry. Mense wonder of jy kan, hou jou dop, is onseker oor jou. Kry ’n vrou wel geloofwaardigheid, is sy in ’n baie sterk posisie waarvandaan sy kan werk,” sê prof. Bosch.

“Ons hoef nie vir Barbie spiere te gee om saam met haar flink kop te gaan nie,” volgens Marcia Reynolds. “Ek glo ons is verby die tyd dat ’n vrou soos ’n man moet optree om suksesvol te wees. Ongelukkig is dit nog nie duidelik wie sy by die werk moet wees nie, selfs al is sy ‘outentiek’.

“Dalk moet ons jong vroue én mans aanmoedig om te wees wie hulle wil, sonder om manlikheid en vroulikheid te definieer en mense op grond van hul geslag te oordeel.”

FOTO Getty Images / Gallo Images
FOTO Getty Images / Gallo Images

Baan jou weg daardeur

Ons moet strewe na kulturele veranderinge sodat mans en vroue nie verskillend beoordeel word vir dieselfde gedrag nie. Baan intussen jou weg deur verbale “landmyne” met strategieë wat deur navorsing ondersteun word.

Dra tegelykertyd ’n boodskap van warmte en bekwaamheid oor. Baie vroue gebruik kwalifiserende woorde (miskien, ek dink, dalk, baie) en vergunnings (kan ek, jammer, verskoon my) om hul taal te versag en te keer dat hulle te aggressief oorkom, veral as hulle versoeke rig en hul mening gee. Dit kan jou egter onseker en minder bekwaam laat lyk. Dra die inhoud van jou boodskap duidelik en reguit oor, maar begin en eindig met warmte. Begin byvoorbeeld ’n e-pos met ’n kort, warm groet en eindig dit ook so.

Reguit woorde en sterk liggaamstaal en gesigsuitdrukkings ontlok nie ’n negatiewe reaksie nie; mits jy jou ook oopstel vir ander se idees en gedagtes. Dus samewerking aanmoedig, ooreenkomstig vroulike stereotipes. Vroue wat hulself op dié manier monitor, kry 1,5 keer meer bevorderings as selfgeldende mans en 3 keer meer as Evas wat dit nie doen nie.

Wees bondig. Vroue wat buite verhouding langer as ander in ’n professionele opset praat, word minder bekwaam as praatsieke mans geskat. Bron: cultureplusconsulting.com

Ek was besig om tam te raak, nie fisiek nie, maar emosioneel ... Dit was asof ’n karikatuur-weergawe van my daar buite verwoesting saai, ’n vrou van wie ek aanmekaar hoor, maar wat ek nie ken nie – ’n te lang, te vurige, gereed-om-te-kastreer Godzilla ... genaamd Michelle Obama
Uit: Becoming (Crown Publishing)