Op 31 wink haar vierde werk. Gaynor Siljeur van Kaapstad is in September aangestel as ’n inhoudsredakteur van die sagtewaremaatskappy Microsoft se webtuiste www.msn.co.za. “Goeie geleenthede duik op en ek gryp dit aan terwyl ek jonk is. Ek wil nie twintig jaar van nou af wonder hoekom ek goue kanse laat verbygaan het nie,” verduidelik sy.

Daarteenoor is die bekende Anna Wintour, op wie se lewe Meryl Streep se hardekwas-karakter in The Devil Wears Prada glo gegrond is, al sedert 1988 in haar pos as redakteur van die Amerikaanse Vogue. Sy is een van die wêreld se mees suksesvolle en invloedryke tydskrifredakteurs in ’n era waar die gedrukte media aan’t taan is.

Tog wonder jy of dit bevorderingsmoontlikhede in die wiele ry as jy te lank in een pos bly. Lyk dit nie asof jy geen ambisie het nie? Maar wat sê dit van jou lojaliteit as werknemer as jy té vinnig van een werk na die volgende aanbeweeg?

Ons woon in ’n nuwe wêreld wat nuwe denkpatrone verg oor die aanstelling van kandidate in nuwe poste, verduidelik Retha Alberts, ’n plaaslike bestuurskonsultant en leierskapsafrigter wat internasionaal werk. “In die korporatiewe omgewing oorheers die Baby Boomers [sogenaamde naoorlogse kinders, gebore tussen 1946 en 1964] steeds in bestuursposte. Húlle het dikwels ’n meer konserwatiewe aanslag en kyk na kandidate met ’n lang werksgeskiedenis by dieselfde onderneming. Lojaliteit, stabiliteit en vasbytvermoë tel in kandidate se guns.”

Daarteenoor lyk dit asof sogenaamde “job hopping” – om gereeld van werk te verander – baie meer aanvaarbaar is onder millenniërs. “Ek het die afgelope vyf jaar baie met mense uit dié groep gepraat en besef: Millenniërs werk om te leef en Baby Boomers leef om te werk. Dít op sigself skep konflik. Oop kommunikasie en begrip vir albei partye se verwagtinge moet reeds tydens die aanvanklike onderhoude uitgeklaar word.”

Van die vernaamste redes hoekom millenniërs van werk verander is, volgens Retha, omdat hulle nuwe stimulasie soek. Of hulle meen hul baas wend hul kennis, kreatiwiteit en inisiatief ondoeltreffend aan.

“Hulle het ’n lae toleransie vir oninspirerende of ouderwetse bestuurstyle. Dit word soms – verkeerdelik – vertolk as ’n teken van eiegeregtigheid. Weens werkskaarste sukkel baie jongmense ook om werk te kry en gryp dikwels na die eerste, beste pos wat hulle kan kry. Ná ’n paar maande spring hulle dan na iets beters.” Sy raai sulke werknemers aan om liefs binne hul eie maatskappy meer ervaring op te doen en tussen verskillende afdelings te skuif.

Gaynor sê: “My plan was nie om so baie rond te beweeg nie, maar die lewe het my verras met interessante moontlikhede. En ek het by elke werksplek vaardighede aangeleer wat my weg tot die volgende aanstelling gebaan het.” Sy was ’n jaar lank ’n intern by SARIE, toe twee jaar lank ’n digitale inhoudsvervaardiger vir ’n Engelse vrouetydskrif, en daarna ’n digitale joernalis by ’n reistydskrif. “Ek het baie hard gewerk, maar was ook gelukkig om al die geleenthede te kry sodat my loopbaan kon groei.”

Retha meen werkgewers kan gerus meer in werknemers se tegniese en sagtewarevaardighede belê. “Dit lei dikwels tot groter werksbevrediging en ’n kleiner omset van personeel.” Werkgewers wend toenemend aanlyn kursusse aan om werkers se vaardighede te slyp, wat hulle aanmoedig om hulle beter te bekwaam en langer by die maatskappy te bly, sê sy.

Gaynor glo by elke nuwe werk doen jy hope ondervinding op en leer ook jouself beter ken omdat jy voortdurend met verskillende tipes mense oor die weg moet kom. “Mense kyk na my CV en is beïndruk deur die ondervinding wat ek al opgedoen het. Goeie menseverhoudings het my ook al baie in my werk gehelp.” Die kortste wat sy nog by ’n maatskappy gewerk het, was sewe maande.

René de Waal, ’n menslikehulpbron-konsultant by ’n Kaapse maatskappy en 40-plusser, sê: “My portuurgroep het by ons ouers geleer om ’n loopbaan te bou wat sekuriteit gee. Die uitgangspunt was: Jy trou, kry kinders, en ’n stabiele werk is onmisbaar.” Sy reken jonger mense sal makliker aanbeweeg vir ’n salarisverhoging, terwyl iemand van Generasie X (gebore middel-1960’s tot vroeë 1980’s) of ’n Baby Boomer werksekuriteit verkies.

René meen ook die politieke landskap, die Wet op Billike Indiensneming en die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging het ’n groot uitwerking op werkers. “Werknemers van voorheen benadeelde groepe is baie gesog, veral op hoër bestuursvlakke, en hulle weet dit. Hulle beweeg gereeld na hoër salarispakkette. Regstellende aksie lei weer daartoe dat groepe wat oorverteenwoordig is, meestal wit mans, aan hul werk vasklou.”

Die voordele van personeelwisseling vir maatskappye is dat “nuwe bloed” die werksomgewing interessanter kan maak en waarde toevoeg tot die maatskappy. Ook omdat nuwe vaardighede by die werkspan gevoeg word. Maar, soos Retha sê, gereelde laterale werksverandering – waar die motivering bloot ’n beter salaris is – is gevaarlik. “Geleidelike verandering, wat uiteraard ’n beter salaris insluit, maar ook groei en langtermyngeleenthede inhou, is wel aanvaarbaar vir werkgewers.

“Dit duur sowat drie tot ses maande om ’n nuwe aanstelling ingeburger te kry. Dít moet jy ook verstaan as jy van werk verander. Moet nie té ongeduldig wees en binne ’n jaar of twee wéér wil aanbeweeg nie,” maan Retha.

Dit gaan oor balans. Ervare werkers gee insig en hul insette is belangrik om voort te bou op die kultuur en tradisies van die maatskappy, meen René. “Die nuwe garde bevraagteken en vernuwe, en wys daar kan soms op ou metodes verbeter word.”

Cara Rademeyer, ’n projekbestuurder van 20 plus by ’n digitale agentskap in Kaapstad, is baie bly dat sy vir ses jaar in ’n korporatiewe omgewing met baie tradisies as produksiebestuurder gewerk het voor sy haar huidige pos aanvaar het. “Dit was ’n groot aanpassing om in my nuwe werk gereeld nuwe spanne te bestuur, omdat mense so gereeld aanskuif na beter salarisse,” sê sy. Die gemiddelde ouderdom van haar ontwikkelaars is tussen 25 en 35.

“Dit is baie van hulle se eerste werk. Sommige sukkel nog om verantwoordelikheid binne die span te aanvaar. Dit stel reuse-uitdagings aan ons, hul bestuurders, want jy werk gedurig met nuwe persoonlikhede en die span se samestelling verander. Maar voortdurende nuwe insette hou dinge vars en dwing my om my bestuurstyl aan te pas. Dit laat my weer groei, so ek is baie dankbaar dat ek op my tone gehou word.”

Cara sê sy het begrip daarvoor dat daar ’n groot omset van werkers is, want goeie ontwikkelaars is skaars en hulle besef dit. “Die tegnologie verander blitsvinnig en wanneer ontwikkelaars in ’n omgewing werk waar hulle met ouer tegnologie werk, gaan hulle skuif. Enersyds omdat hulle meer wil leer, maar ook om meer geld te verdien.”

Is daar dus vaste “bly of gly”-reëls? Retha sê navorsing wys in die geval van senior poste sal ’n CV met ’n getroue werksgeskiedenis in jou guns tel. “Diepte en professionele verfyning, wat spreek van emosionele intelligensie en deursettingsvermoë, word hoog geag in topposte.”

Jessie West, aanlyn sake-afrigter en skrywer van CV’s, reken jy moet nie korter as ’n jaar by ’n maatskappy werk nie. Volgens haar kan ’n korter werksperiode die indruk skep dat jy sukkel om aan te pas by nuwe uitdagings en dat jy nie toegewyd is nie. Victoria Sawtelle, gemeenskapsbestuurder van die loopbaan-blog zety.com (voorheen Uptowork), reken twee tot drie jaar by dieselfde werk is nodig om jou vaardighede in ’n spesifieke veld te verbeter.

Maar almal se behoeftes en omstandighede verskil. ’n Keniaanse sake-afrigter, Perminus Wainaina, sê werkers met kort kontrakte by konstruksiemaatskappye of nie-regeringsorganisasies gaan vanselfsprekend gereeld van werk verander. Hy meen ook dit is normaal dat jong gegradueerdes af en toe sal skuif. “Die meeste werkgewers sal lugtig wees om jou aan te stel as jy ses verskillende werke binne ses jaar beoefen het. Jy moet egter konsekwent wees. Dit is te wagte dat die meeste jongmense binne drie tot vier jaar van werk sal verander. Iemand in ’n senior pos behoort minder van werk te verander.”

Perminus glo wel ’n nuwe werk is soms die enigste manier om nuwe vaardighede aan te leer en jou salaris te verbeter. “Wanneer jy te lank by een plek bly, kan party werkgewers dit uitbuit omdat hulle reken dat jy vir altyd lojaal sal wees. Ek raai werknemers dus aan om elke drie tot vier jaar van werk te verander. Nie noodwendig na ’n ander maatskappy nie, maar binne die organisasie. Mik altyd daarna om jou vaardighede uit te brei, anders sal niemand jou ernstig opneem nie.” (www.linkedin.com/pulse/how-often-should-you-change-jobs-perminus-wainaina)

Volgens René moet ’n mens versigtig wees om te stereotipeer. Elke mens se behoeftes en redes verskil oor hoekom hulle langer of korter by ’n werk bly of verkies om ’n skuif te maak. Kortom: Die geheim vir ’n goeie CV is dat jy lank genoeg by ’n werk bly om te wys jy is lojaal, maar die moed het om aan te beweeg wanneer die tyd ryp is, om te wys jy het ambisie.

“As jy twyfel oor jou groei, win raad in by ’n sake-afrigter oor wanneer dit tyd is om te groet, sodat dit nie op jou toekomstige CV kan lyk asof jy te bang is om nuwe uitdagings aan te gryp nie,” sê Retha.