Geld is die oorsaak van baie verbrokkelde verhoudings. Dalk ken jy dit?

Vonk-feit*: 44% van Suid-Afrikaanse vroue sê bekommernis oor geld is die hoofrede waarom die vonk in hul verhouding geblus is.

Wanneer die finansies knou en jy sukkel om die mas op te kom, is dit maklik om jou frustrasies op die persoon wat die naaste aan jou is, uit te haal – en in die meeste gevalle is die persoon aan die ontvangkant jou lewensmaat. Ons het vir Kerese Thom van Coach on Call gevra hoe om onder die omstandighede die vonk in julle verhouding te hou.

  1. Luister. Dikwels is ons so vasberade om ons sê te sê en ons eie standpunt oor te dra dat ons nie na die ander persoon luister nie. Gebruik die tydjie om werklik aandagtig na hom te luister – sonder onderbrekings of vrae – en fokus op sy gevoelens, die positiewe en die negatiewe.
  2. Stel 'n lys op van al die redes waarom jy in die eerste plek op hom verlief geraak het. Dit is maklik om dit uit die oog te verloor wanneer elke dag se dinge jou oorweldig. Fokus daarop voor jy weer verwyt of ontplof.
  3. Alle paartjies verval in roetines en rolle waarmee hulle gemaklik en vertroud is, maar wat nie noodwendig gesond is nie. Wanneer ons baklei, neem ons gewoonlik onbewustelik gevestigde standpunte in. Staan dus terug wanneer daar weer 'n argument broei en kyk wat jou uitgangspunt is en wat jy graag wil bereik. Sê vir jouself dat daar 'n rede is waarom julle telkens oor dieselfde ding baklei: Al die vorige argumente het niks bereik nie.
  4. Oefen hierdie drie stappe en maak 'n punt daarvan om elke dag 'n tydjie saam deur te bring en oor enigiets behalwe julle bekommernisse te gesels. Dit kos niks om in die park te gaan stap nie en dis boonop romanties!

Vertel ons hoe jy die vonk in jul verhouding hou. Ons wil graag hoor. Daar wag 'n fantastiese prys op die eerste SARIE/LUX Spark-paartjie.

Klik hier om deel te neem.

*LUX Chanel 5 Suid-Afrika Spark-navorsing 2013