Stel vir jou kind ’n voorbeeld deur jou eie geld verantwoordelik te bestuur. Gee vir haar sakgeld waarmee sy self verantwoordelikheid kan neem vir kleiner persoonlike uitgawes en spaardoelwitte. Só leer sy om later ook groter besluite oor haar geldsake te neem. Hierdie besluite berei haar voor op die harde finansiële wêreld wat op haar wag.

Christelle Louw, finansiële adiviseur by Citadel, gee dié raad:

Wenke vir laerskoolkinders

Leer jou kind van jongs af om met ’n basiese begroting te werk – sodra sy leer tel. Namate sy ouer word, kan jy haar begin leer oor die waarde van geld en die verskil tussen moet hê en wil hê.

Sodra sy skool toe begin gaan, kan jy vir haar maandeliks op ’n spesifieke datum sakgeld gee. Help haar om te “begroot” vir die maand, byvoorbeeld ’n vaste bedrag vir snoepiegeld, en ’n ekstra bedrag wat sy opsy sit vir iets groters op haar wenslys. 

Help haar om haar “spaarplan” in ’n boekie te bestuur, en betaal ’n klein bedrag as rente op haar spaargeld om die gewoonte aan te moedig. Jou kind kan ook huistake verrig om ’n ekstra inkomste te verdien, en die geld kan in die “spaarvarkie” betaal word om die spaartydperk te verkort. 

Kweek jou kind se entrepreneursvaardighede deur eenvoudige verkoopprojekte aan te pak. Jy kan byvoorbeeld namens haar lekkers in groot maat aankoop, wat sy dan in kleiner verrassingspakkies of versierde botteltjies kan verdeel en verkoop vir maatjies en vriende.

Wenke vir jou tienerkind 

Maak vir jou tiener ’n bankrekening oop waarmee sy self haar geldsake kan bestuur. Wys vir haar hoe om Microsoft Excel te gebruik om haar begroting op te stel, en illustreer vir haar die gevare van skuld en rente wat ophoop deur ’n paar somme te maak. 

Gee vir jou tiener toenemend die ruimte om selfstandig en onafhanklik finansiële besluite te maak en self verantwoordelikheid te neem vir haar uitgawes.

Teen dié tyd kan sy tot 30% van haar sakgeld spaar vir ’n spesifieke doelwit. Jy kan haar beloon met “rente” deur maandeliks ’n sekere persentasie by te voeg indien sy haar spaarteiken haal. 

Versterk jou tiener se entrepreneursvaardighede deur haar aan te moedig om haar eie geld te verdien. Sy kan byvoorbeeld vir iemand anders werk as ’n kelner of kinderoppasser, maar sy kan ook self ’n besigheid begin. 

Jy kan jou tiener al van vroeg af leer hoe beleggings werk deur haar aan te moedig om ’n gedeelte van haar spaargeld belastingvry in ’n sogenaamde TFSA te belê. Dit kan ’n klein eksperiment wees waar sy sien hoe die rentekoers haar spaargeld laat vermeerder, en sy kan selfs met aandele begin werk en haar dividende sien groei. 

Soek jy raad en leiding met jou aftrede of finansies? Citadel sal jou help om ’n finansiële padkaart vir die toekoms saam te stel. Besoek die webtuiste hier.