Dit voel asof ek ’n doodloopstraat by die werk bereik het. Elke jaar doen ons dieselfde projekte en elke dag is soos die ander. Ek werk al 12 jaar by dieselfde maatskappy, en nou wonder ek: Moet ek bly waar ek is, of aanbeweeg, al vat ek dalk ’n kans?

DESIREE DU PLESSIS

beroepsvoorligter en psigometris van Johannesburg

Gewoonlik is daar baie dinge wat jou só oor jou werk laat voel. Jy voel dalk nie meer intellektueel gestimuleer nie, jy voel jy kan nie meer iets bydra nie, of jou behoeftes het bloot verander – dalk kry jou gesin nou voorkeur.

Miskien is die probleem ook deels jou werkplek en werkomstandighede – jy het dalk die kultuur ontgroei.

Dis goed om deurentyd jou beroep te bekyk, want dis ’n lewenslange proses. Moenie sleg voel omdat jy sulke gevoelens het nie. Jy, jou prioriteite, belangstellings en behoeftes verander deur die jare.

Indien jy onseker is oor jou volgende stap, kan jy nuwe verantwoordelikhede by die werk aanvaar, veral as jy voel jy leer niks nuuts nie. Maar weet ook dit kan dalk net soos “meer van dieselfde” voel en die ekstra hooi op jou vurk sal nóg stres veroorsaak. Die probleem kan selfs buite jou werk wees. As dit voel asof iets skort, kan jy die behoefte op ander maniere bevredig. Dalk sal ’n kreatiewe stokperdjie, liefdadigheidswerk of ’n nuwe sportsoort jou weer daardie lewenslus gee. As jy egter voel jy het reeds al jou opsies ondersoek en niks lyk belowend nie, is dit tyd vir iets nuuts. Solank jy nie ’n impulsiewe besluit neem nie.

Soek ’n werk waar jy nie net aan die vereistes voldoen nie, maar waar jy ook voel die maatskappy se waardes strook met joune.

Bedank eers as jy seker is van ’n nuwe inkomste. Jy moet ná die tyd beter daaraan toe wees.

ELMIEN ASPELING

sielkundige van Centurion

Wanneer jy eers nagedink het oor wat jou frustrasies veroorsaak, kan jy ’n “bloudruk” vir jou ideale werk ontwerp. Wat is jou behoeftes en hoe moet die beroep lyk waarin dit bevredig word? Hoe sal jy lyk, voel, optree en funksioneer in jou ideale beroep? As jy iets doen wat jy regtig geniet, sal sukses vinniger kom.

Dit kan ook waardevol wees om jou persoonlike werksprofiel by ’n kenner te laat toets. Dié assesserings neem jou belangstellings, aanleg, kognitiewe vermoëns en persoonlikheid in ag. Ook jou geskiedenis, lewensfase en omstandighede soos finansies, gesinslewe, werkaanvraag en die ekonomie. Jy kan self ook lyste van dié faktore maak om jou bloudruk saam te stel.

Kry dan ’n aksieplan met korten langtermyndoelwitte. Moenie verandering met vooruitgang verwar nie. Anders kan jy dalk met dieselfde frustrasies sit nadat die nuutjie van ’n ander werk oorgewaai het. Maak seker jou nuwe plan sal ’n verbetering wees.

Onthou dat enige groot verandering oorweldigend kan wees – berei jou daarop voor. Evalueer weer jou plan ná drie maande, en dan weer ná ses, om te kyk of dit steeds aan jou behoeftes voldoen en of dit die stres werd is.

Is jy gelukkig by jou werk?

Lees nou