Moenie vasklou aan die outydse siening dat jy ’n rolling stone is as jy van werk verander nie. Hoe gereeld jy dit doen, hang af van mens tot mens – solank jou loopbaan uitdagend bly en jy groei.

Vra jouself af: Wat wil ek nog bereik? Stel dan realistiese, haalbare doelwitte. Jy kan byvoorbeeld nie verwag om dadelik bevorder te word nie. Sodra jy die doelwitte behaal het, stel nuwes of beweeg aan. Maak net seker daar’s ’n logiese patroon in jou loopbaanvordering op jou CV. Dit moenie lyk of jy sonder ’n plan rondval tussen werke nie.

Moet ook nie in dieselfde pos bly net omdat jy bang is vir risiko’s nie. Só gaan geleenthede verby. Miskien onderskat jy jouself, of jy’s te lojaal of bekommerd oor jou baas se reaksie, daarom doen jy nie vir ander poste aansoek nie. Of jy glo liewer ’n bekende as ’n onbekende ergernis… Maar dit kan veroorsaak dat jy stagneer en nie jou potensiaal bereik nie.

Daar is ’n paar algemene redes vir bedanking. Dalk voel jy jy’t ’n plafon bereik. Jy wil nuwe uitdagings aanpak, maar jy vaar so goed in jou huidige pos dat jou hoof jou daar wil hou. Of jy voel jou bydrae word nie meer waardeer nie. Dalk pas jou huidige pos nie meer by jou loopbaanbeplanning in nie of jy het bloot ’n beter aanbod gekry.

’n Salaris wat te min is of ’n moeilike baas laat mense ook skuif – veral as die werk boonop met hul gesinslewe inmeng of te stresvol is. Wanneer jy wel verandering oorweeg, vra jouself eers ’n paar eerlike vrae. Dis belangrik dat jy vir die régte redes skuif:

Is daar nuwe vaardighede wat ek moet aanleer om my te bring waar ek wil wees?

Kan ek die vaardighede by my huidige werk aanleer, of moet ek dit iewers anders gaan doen?

Maak my werk my nog opgewonde of bring dit maar net geld in? Voeg ek nog waarde toe?

Het ek reeds my kort-en langtermyndoelwitte bereik?

Het ek al alles van die pos, die omgewing waarin ek werk en die bedryf geleer?

Het ek alle moontlikhede ondersoek om in my huidige omgewing te vorder?

Is daar nog uitdagings of doen ek my werk met my oë toe?

Kan ek nog identifiseer met my taak, my kollegas en die organisasie se leierskap en waardes?

Is die werk nog bevorderlik vir my loopbaan, of stagneer ek of gaan selfs agteruit?

Wil ek nog presteer of verlam my werk my eerder?


Indien jy voel dit is tyd om aan te beweeg, kan jy die volgende raad volg:

Doen dit só

* Voor jy bedank, moet jy ’n skriftelike aanbod van jou nuwe werkgewer kry.

* Vind uit hoe jou maatskappy se bedankingsbeleid werk en gee betyds kennis.

* Moenie impulsief of wanneer jy kwaad is, bedank nie. Jy wil nie brûe verbrand nie: ’n Mens weet nooit wanneer julle weer moet saamwerk nie! Bedank vreedsaam en beklemtoon die positiewe, soos dat jy persoonlike ontwikkelingsbehoeftes het.

* Onthou om te onderhandel oor uitstaande betalings soos ’n pro-rata bonus, kommissie of verlof-uitbetalings.

* Moenie jou nuwe pos as afdreigmiddel vir ’n hoër salaris gebuik nie, waarsku Anelle Simonis, senior loopbaankonsultant aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool. As jou baas jou wel ’n beter aanbod maak, vra jouself hoekom jy in die eerste plek wou bedank en of jou baas se aanbod by jou loopbaanbeplanning inpas. Indien wel, kry dit op skrif voordat jy ja sê. Loopbaankundiges reken egter jy moet baie mooi dink voordat jy so ’n teen-aanbod aanvaar. “In die meeste gevalle hou dit mense in elk geval nie veel langer tevrede nie,” sê dr. Zani Dannhauser, bedryfsielkundige aan die Universiteit Stellenbosch. Jou kollegas sal dalk ook wonder of jy nog toegewy is aan jou werk.

* As jy mondeling kennis gegee het, moet jy dit ook op skrif plaas vir jou direkte hoof en die personeelafdeling. Hou jou brief kort en saaklik. Gee die datum van jou laaste werkdag. Jy kan ook jou hoof bedank, maar hou dit professioneel. Dis ’n amptelike dokument – jy kan altyd later ’n meer persoonlike brief skryf as jy wil.

* Handel projekte af in jou kennismaand(e) en gee ’n vorderingsverslag aan jou bestuurder. Bied aan om jou opvolger op te lei, of help die maatskappy om ’n geskikte plaasvervanger te vind.

* Moet jou nie skaar by kollegas wat ontevrede is oor hul werk en nou by jou wil kla nie, waarsku Zani. En moenie sê jy’s nou beter daaraan toe as hulle nie. Jul loopbaanpaaie kruis dalk weer. Bedank hulle en kry hul kontakbesonderhede, ook diegene met wie jy weer kan saamwerk. En onthou: Jy wil verwysings hê vir die toekoms. As iemand anders jou baas bel, moet hy of sy glad nie huiwer om jou aan te beveel nie!

* Daar lê vir jou ’n opwindende tyd voor, maar doen eers ’n bietjie selfondersoek sodat jy nie ou foute in jou nuwe werk herhaal nie.