FOTO'S Stephané van Eck

Ons almal wil ons omring met ’n bietjie mooi. En tans is die groot tendens volhoubaarheid, iets wat goed is vir die omgewing, mens en dier. Boonop is dit goeie terapie om iets vernuwends te skep met jou hande; iets wat jy self plant, pluk en kan gebruik.

Daarom het ons gaan kers opsteek by Chris Willemse en Dané Erwee, eienaars van die bekende OKASIE-blomwinkel (okasie.co.za) en mede-eienaars van die trouvenue Johannesdal 1207 (johannesdal1207.co.za) buite Stellenbosch, oor die nuutste tendense in blomme en plante. Pieter Honeyborne, hul winkelbestuurder, vertel veral inheemse plante soos wildedagga, kransaalwyne en lekkerruikmalvas is nou gewild. Eetbare gewasse sal sommerso tussen blomme en struike geplant word. Of dit word in rangskikkings en stillewes gebruik, soos daardie bak selfgekweekte bloedrooi tamaties op jou kombuistafel.

Gedroogde blomme en blare het ook ’n terugkeer gemaak. Volgens Pieter is dit ’n veelsydige medium. Jy kan dit op hul eie saam groepeer, terwyl gedroogde grasse, blare en sade ’n ander dimensie skep as jy dit in rangskikkings saam met vars sny- of tuinblomme gebruik. Geparste blomme maak weer die interessantste kunswerke (sien hiernaas). Bome in potte en mandjies op ’n stoep of binne jou huis is ook groot nuus.

Pieter sê mense moet onthou ’n blompot is nie net iets wat water hou nie, dis net so belangrik soos die blomme, en jy kan dit baie kreatief gebruik deur byvoorbeeld blare om die pot te draai. Jy kan nooit te veel blompotte hê nie, maar versteek altyd ’n plant se plastiekpot in ’n mooi plantpot. 

S EWIGE KLEUR
EWIGE KLEUR

’n Blomstudie, soos dié kleurryke skildery (mede-eienaar Dané Erwee se handewerk), sorg seisoen ná seisoen vir kleur. Dit hang in ’n slaapkamer van Johannesdal 1207 buite Stellenbosch, maar sal ewe mooi lyk in enige ander vertrek. 

BOME IN POTTE
BOME IN POTTE

Die inheemse kiepersol is ’n klein tot mediumgroot boom wat geskik is om in potte te plant. Maak net seker dat dit goed dreineer en voldoende lig kry. Dié vier kiepersols van verskillende hoogtes in potte en mandjies gee ’n besonderse atmosfeer aan die beskutte stoep. Palms en selfs sitrusbome is ook geskik om in potte te plant.

’N ENKELE BLOM
’N ENKELE BLOM

Een blom in ’n vaas kan net so ’n groot impak hê soos ’n hele bos blomme. Hier is ’n enkele lelie op die diep bedkopstuk geplaas om ’n sagte kontras met die kleurryke kussing te skep. 

MAAK DIT SELF
MAAK DIT SELF

Hierdie werk van geparste blomme is deur Tracy Robertson, ’n werknemer van OKASIE. Die reuse-skaal en die blomme wat met hul lang stele en al gedroog is, maak dit spesiaal. Gewoonlik word blomme en blare wat dun is (bv. gesiggies en varings) gebruik, maar sy het gekies wat vir haar mooi is: tuinrose, kantblomme, papawers en ’n verskeidenheid sade en blare, al was dit vlesiger en die droogproses dus langer. As jy so iets wil probeer, maak seker jou plantmateriaal is heeltemal uitgedroog voor jy dit raam, anders sal jou prent wasem en dalk muf. Die klein blomtapisserie maak ’n kleurryke pasmaat.

’N TWEEDE KANS
’N TWEEDE KANS

’n Vars bougainvillea-tak is met gedroogde artisjoksade en pynappellelies gekombineer vir dié treffende rangskikking. Pluk bougainvillea as die klein wit blommetjie binne al oop is, dan hou dit langer in water en kan dit met groot sukses gedroog word. Dit behou ook sy kleur. Die klein skildery is van ’n vlooimark.

PERFEK VIR ’N STOEP
PERFEK VIR ’N STOEP

As jy nie groen vingers het nie of soms vergeet om jou plante nat te gooi, is so ’n euphorbia vir jou. Dis gehard, het min water nodig en hou van die son. Boonop groei dit ewe mooi in die tuin of in ’n pot, maar onthou om dit gereeld terug te snoei. Dit groei baie maklik van ’n steggie.

TAKKE VOL VRUGTE
TAKKE VOL VRUGTE

Hoe mooi is die takke wildeblomappel (crabapple) vol vruggies nie? Wat die tafellandskap nog mooier maak, is die verskeidenheid besonderse vase wat gebruik is. Moenie bang wees om die takke wild en wakker in te steek nie; groter is beter. ’n Wildeblomappelboom is geskik vir groot en klein tuine. Die appeltjies is eetbaar en jy kan ook lekker daarmee kook.

TEKSTUUR EN VORM
TEKSTUUR EN VORM

Hierdie stillewe van plante en blomme is in perfekte harmonie, al is dit so uiteenlopend. ’n Frangipaniboom, belladonnalelies en ’n fyn varing is saam gegroepeer om geur en tekstuur te aksentueer. Die geheim vir welige plante is genoeg lig, maar nie direkte sonlig nie, en die regte hoeveelheid water.

IN HARMONIE
IN HARMONIE

’n Gerf blou ridderspore (delphiniums) is in ’n swaar pottebakkersvaas van dieselfde kleur blou gerangskik. Dit staan op ’n Oosterse sytafeltjie voor ’n spieël wat met ou tapisserieë oorgetrek is. ’n Toonbeeld van kalmte, nostalgie en harmonie. 

Foto’s geneem by Johannesdal 1207, johannesdal1207.co.za.