Mia Berry Bester en haar man, Juan, bly in Dakar, Senegal. FOTO Verskaf

Hoekom Senegal?

Dis nie ’n land wat op die meeste Suid-Afrikaners se toer-lysie is nie, met soveel ander lande op die kontinent wat iets besonders bied. Dit is nogal ’n verleentheid om te erken, maar al wat ek van Senegal geweet het, is dat dit ’n stilhouplek in Wes-Afrika op pad na die VSA is. Gelukkig het my man, Juan, die tipe werk [hy konsulteer in openbare finansies vir die Verenigde Nasies se Kinderfonds, UNICEF] wat jou vinnig uit jou gemaksone ruk.

Watter werk doen jy?

Ek het meer as tien jaar as ’n grafiese ontwerper en later kunshoof by verskeie publikasies in die Kaap gewerk. Tans is ek ’n bietjie van alles: ’n toermaat, ondersteuningsnetwerk, skoonmaker en tuisteskepper. Ek probeer ook om ’n vryskut- grafiese kunstenaar te wees, maar dink ek moet my titel verander na “toeragentskap wat spesialiseer in ongewone ervarings”.

Hoe veilig is Senegal?

Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt wen Senegal ’n topprys vir veiligheid. Dit is seker een van die veiligste plekke in Wes-Afrika met ’n stabiele en relatief oopkop regering. Sowat 94% van die bevolking is Islam, maar die mense is baie gematig en hulle respekteer die minderheidsgroepe. Ek dink die rede dat Senegal nie in die top-10 van veiligste lande in Afrika is nie, is weens die Casamance-rebellie in die 1980’s. ’n Deel van dié omgewing is steeds ontoeganklik vir toeriste, maar in die res van die land hoor jy nooit van enige moeilikheid nie. In sekere dele, veral by die markte, word toeriste wel gewaarsku teen sakkerollery, maar ek dink as Suid-Afrikaners is ons so bewus van misdaad dat ons oor die algemeen eintlik oorversigtig is. In dieselfde asem, hier slaap ons dikwels met oop vensters en loop ná sononder deur donker strate huis toe sonder om bedreig te voel. Die grootste gevaar in Senegal is die paaie en as voetganger moet jy maar dikwels uit die pad spring vir een of ander voertuig wat aan die verkeerde kant van die pad ry om slaggate, poele water of diere te mis.

Pragtig geverfde pirogues op ’n strand op Toubab Dialaw, ’n vissersdorp net buite Dakar. FOTO Verskaf
Die son sak oor die Corniche des Almadies, die mees westelike punt van Afrika.FOTO Verskaf

Het jy maklik aangepas?

Aanvanklik was dit ontsettend moeilik. Ons het in die warm, tropiese reënseisoen hier aangekom en dit was gewoon onaangenaam om enigiets gedurende die dag te probeer doen. Die humiditeit is so hoog dat sweet in strome teen jou lyf afrol sonder lugversorging. Dan moet jy nog jou gedehidreerde liggaam in ’n vuurwarm, grilvuil, stowwerige taxi (vol muskiete) kry wat na skaap ruik! Maar die ergste was om geskikte verblyf te kry. Iets wat net naastenby aan die standaarde van “skoon en in werkende toestand” voldoen. Ons het in die eerste drie weke vier keer getrek – ’n hele storie, of eerder nagmerrie, op sy eie. Nou ná ’n paar maande voel ons vorige ervarings gelukkig soos ’n onwerklike, vae droom en kan ons die “land van taranga (gasvryheid)” in sy volle glorie geniet.

Skape is heilig?

Ja, die plaaslike mense is versot op hul skape en beskou hulle selfs as familie. Ons het net voor Eid al-Adha, ’n belangrike dag op die Islamitiese kalender, hier aangekom. Oral was hordes skape, en op die snaaksste plekke! Die oggend van die fees het ons van die vreemdste, skril geluid wakker geskrik. Dis toe die woonstelopsigter se skaap wat in die parkeerarea sy lot staan en inwag: om geslag te word ter herinnering aan Abraham se gehoorsaamheid. Skape is ook ’n statussimbool en daar is selfs ’n gewilde werklikheidsreeks op TV, Khar bii (Die skaap), waarin landwyd na die mooiste ram gesoek word. Hulle ry in taxi’s rond, word liefdevol gestreel en op uitstappies strand toe gevat om in die see gewas te word. Spierwit en silwerskoon met ’n bloedrooi strik om die nek, gereed om mee te spog.

Die Mosquée de la Divinité met sy pragtige uitsig oor die Atlantiese Oseaan.

Grondboontjies is glo gesog?

Dis een van die grootste landbouprodukte en skep werk vir byna ’n miljoen mense. Op elke strand, straathoek en in elke stalletjie is daar mense wat grondboontjies verkoop. Dis ’n hele familiebesigheid: Ma wat boontjies in ’n skottel saam met warm sand oor ’n oop vuur rooster, en kinders wat dit sorteer en in sakkies opmaak om te verkoop op silwer skinkborde wat op die kop gebalanseer word. Mafé, ’n vleisbredie met grondboontjiesous, is een van die nasionale geregte. Senegal is die poort na Afrika? Dit sit aan die mees westelike punt van Afrika en is geografies goed geleë om Afrika met sowel Europa as Amerika deur lug- en seeroetes te verbind. Dit was nog altyd ’n belangrike handelsroete en destyds ook die naaste en mees geskikte hawe vir slawehandel na Europa. Daar word geraam byna die helfte van Senegambië (Senegal en Gambië) se bevolking is in dié tyd as slawe aan die Amerikas verkoop. Wat vir my so ongelooflik is, is dat die Senegalese so positief na hierdie hartseer deel van hul geskiedenis kyk. Hier is geen kwade gevoelens oor kolonialisme nie, en die mense is werklik trots op hoe sterk en dapper hul voorouers was.

Praat jy vlot Frans?

Non! Je ne parle pas français ... buiten ’n paar Franse kookterme wat ek in huishoudkunde geleer het. Gelukkig kan Juan ’n bietjie Frans praat, anders sou ons ons doodgesukkel het. Ek het in die begin spyskaarte in restaurante met Google Translate vertaal. Nou weet ek gelukkig hoe om kos en drankies te bestel. “Non merci” is ook iets wat jy vinnig leer om van lastige smouse ontslae te raak. ’n Franse paartjie het vir ons vertel dat die Senegalese ’n baie ou weergawe van Frans praat en dat van die woorde nie meer vandag gebruik word nie. Dit het ons beter laat voel! Ek het intussen op Wolof begin fokus en is absoluut mal oor die taal. Dit is die meeste mense hier se eerste of tweede taal en baie makliker om te leer as Frans.

Juan braai by ons woonstel in Dakar – dis immers in ons bloed! FOTO Verskaf

Musiek is die lewensaar van Senegal?

Enige musiekliefhebber sal in sy element wees met die ryk en diverse musiekerfenis van Senegal. Waaroor ek gaande is, is dat jy meestal net plaaslike musiek hoor. Selfs internasionale treffers word aangepas om meer eg Senegalese klanke te bevat. Byna almal wat jy raakloop, het oorfone op en van oud tot jonk is óf besig om musiek te luister óf besig om musiek te maak. Kinders sal maklik sommer leë plastiekhouers bymekaarmaak en daarop begin trom speel. My mond het al oopgehang oor die ongelooflike musikale klanke wat uit sulke weggooigoed opgetower word. Mbalax is seker die bekendste musiekstyl en uiters gewild. Dit het baie interessante ritmiese klanke en jy kan nie anders as om te wil dans wanneer ’n orkes begin speel nie.

Hoe verken jy Senegal?

Daar is verskeie maniere – van die kleurryke minibustaxi’s wat car rapide (“vinnige bus” in Frans) genoem word, tot pirogues (lang, smal motoraangedrewe kano’s), perdekarre en ryloop (ja, dit is ’n opsie!). Dit hang maar af van hoe avontuurlustig jy is en hoeveel gemak en persoonlike ruimte jy verkies. Dis altyd opwindend om ’n pirogue na een van die eilande te vat. In die deltagebied is dit loshande die beste manier om dorpies, versteek tussen wortelbome, te besoek.

Een van die reuse-kremetartbome waarin jy kan klim as deel van Accro Baobab se avonture. FOTO Verskaf

Kibbel jy oor pryse?

Dis so deel van die Senegalese kultuur, dit word eintlik van jou verwag. Die pryse, veral op markte, word so aangepas dat daar genoeg ruimte is vir onderhandeling. Dis ook nie net beperk tot die markte nie. Buiten restaurante en supermarkte wat vir buitelanders voorsiening maak, kan jy basies enige plek ’n winskopie kry. ’n Vriendelike groet in Wolof (na nga def!) doen wondere om ’n goeie kibbelsessie te begin.

Hoe verskil die landskap van Suid-Afrika?

Senegal is ’n klein landjie, net effens groter as die Oos-Kaap. Vir my is die grootste verskil dat dit baie plat is. Hier is dele met rollende heuwels, maar nie enigiets wat eens naby aan ’n berg kom nie. Maar hier is ongelooflike verskeidenheid, van die noorde se woestyngebied tot die suide se tropiese savanna. Tussenin is kilometers enorme oeroue kremetartbome en ’n rivierdelta met duisende kanale tussen wortelbome so ver jy kan sien. Die strandlandskap is ’n kombinasie van swart vulkaniese rots en poskaartmooi wit poeiersand. En die bonus: Hierdie Atlantiese water is warm!

Die Marche´ Kermel, waar jy oor enigiets van vars vis tot antieke Afrikamaskers kan kibbel. FOTO Verskaf
Geroosterde grondboontjies wat die kinders op straat vir 50 sent per pakkie verkoop. FOTO Verskaf

Sien jy baie armoede?

Dis iets waarmee jy elke dag gekonfronteer word. Dis nie soos Suid-Afrika waar gegoede woonbuurte ver van informele nedersettings is nie. Ons bly in ’n woonstelblok met ’n muur om en ’n deurwag, in dieselfde boomryke straat as ’n hele paar ambassades, en skuins agter ons bly ’n familie saam met hul skape en hoenders in ’n sinkplaathut, wat in die dag as ’n winkeltjie bedryf word. Ek hoop om oor vyf jaar ... kinderboeke te illustreer terwyl ek klein mede-avonturiers grootmaak op een of ander interessante plek soos Suid- Afrika! Ons het ’n wonderlike land en jy moet eers weggaan om dit te besef. Ek wil werk aan idees om my kunsagtergrond met terapie te kombineer om opheffingswerk te doen. Om die reënboog terug in die reënboognasie te sit sodat ons almal toegang tot die spreekwoordelike pot goud het.

Woon jy oorsee? Vertel ons daarvan!
Stuur ’n e-pos na Pieter.Hugo@sarie.com