Bridget Jones, sy met die appelwange en -boude, het as die wêreld se bekendste “singleton” ’n lansie vir enkellopers gebreek.

Of het sy? In die 2001-fliek Bridget Jones’s Diary beween sy dié status luid. So ook haar kurwes, hoeveel sy rook, en kan sy net-nog-een-glasie-wyn-drink-of-gaan-dit-te-veel-wees?

Mos die tradisionele siening van ’n alleenloper: bietjie meer alleen, bietjie minder vervuld as getroudes. Want is dit nie almal se droom om te trou nie? En daarom moet jou lewensgehalte noodwendig laer wees as dit nie gebeur nie.

Hoekom is daar dan meer ongetroude vroue as ooit? In Amerika vorm hulle ’n groeiende, magtige en belangrike stemblok. Voeg ongetroude mans by en dis ’n groot hap van die samelewing, volgens Rebecca Traister in All the Single Ladies: Unmarried Women and the Rise of an Independent Nation (Simon & Schuster, 2016). 

Plaaslik is ons nou wel altyd effens agter die Amerikaanse tendense. Maar almal ken een, twee of meer vroue wat nooit getrou het nie. En ’n vol lewe lei. Nie almal het ’n strop om die nek teen die tyd dat hulle 30, 40 of selfs 50 is nie – sommer nou die dag nog ’n taamlike onortodokse idee.

Navorsing wys ál meer dat alleenlopers emosioneel en fisiek glad nie so hopeloos vaar nie, sê die Amerikaanse sosioloog dr. Bella DePaulo. As alleenloper het sy gevoel sy word “anders” behandel. En vasgestel ander ongetroudes voel net so. Die eindproduk was twee dekades se navorsing en ’n boek, Singled Out: How Singles Are Stereotyped, Stigmatized, and Ignored, and Still Live Happily Ever After (St. Martin’s Griffin, 2007).

Aanvaarde mites oor die huwelik veroorsaak onnodige skade, sê sy. Soos dat dit miserabele, kranklike mense transformeer in gelukkige, blakend gesonde huweliksmaats. “Dis negatief vir alleenlopers omdat hulle glo daar is iets verkeerd met hul lewe. 

Selfs al besef hulle op ’n sekere vlak dalk hulle wil nie trou nie. Dis ook sleg vir getroudes. Want al is hulle in ’n negatiewe verhouding, dink hulle steeds: ‘As ek alleen is, is ek dalk selfs ongelukkiger.’”

Wel, miskien maerder. Mense wat nooit getroud was nie, of geskei is, se liggaamsmassa-indeks (LMI) is minder en hul bloeddruk laer as getroudes s’n, volgens ’n studie in die Amerikaanse Journal of Women’s Health. Die studie sluit net ouer vroue in. Maar ’n oorsig van 20 studies oor veranderinge in huwelikstatus en gesondheid (mans en vroue) het oor die algemeen dieselfde bevind: Trou jy, is die kans goed dat jy gewig aansit. Skei jy, verloor jy gewig (Amerikaanse Journal of Obesity).

Daar is egter nie juis ’n verskil tussen getroudes en ongetroudes se gesondheid nie. Dis geskeides wie se gesondheid geknou word, volgens nog Amerikaanse navorsing. Al hoe meer stemme gaan op dat trou beslis nie die enigste pad na selfvervulling is nie. “Women pay most for the dream of marriage,” sê Terri Hilmey, Amerikaanse spanningsverhaalskrywer en self getroud met twee kinders, op TED Talks (www.ted.com, invloedryke video’s van kundiges). 

Dit is so dat getroude vroue meer balle gelyk in die lug moet hou. Maar om alle getroude vroue in ’n groep te plaas en te etiketteer as meestal “gelukkig” of “ongelukkig” hou nie water nie. Dieselfde geld vir ongetroudes, volgens dr. Hannetjie van Zyl-Edeling, sielkundige van Johannesburg, wat ook as dieetkundige gepraktiseer het. Daar is nie een reël wat deurlopend vir die groepe geld nie.

FOTO Ashley Schulze / Unsplash
FOTO Ashley Schulze / Unsplash

NET ’N BIETJIE LIEFDE

Jasmina Najjar is ’n joernalis wat onder meer oor sosiale diskriminasie skryf. Toe sy van Londen na Libanon, Beiroet, trek, het sy haar skielik bevind in ’n samelewing waar die ratio mans tot vroue 1:5 is. Met vroue soveel in die meerderheid is daar baie alleenlopers. Jy moet dus iets anders vind wat jou gelukkig maak, buiten die huwelik, sê sy op TED Talks. Ons weet bowendien die huwelikspad is allermins met rose besaai.

Rolprente, popliedjies, staatsbeleid en sosioloë skryf voor ons moet trou, want “love is all you need”. Die mens het egter ’n behoefte aan meer, volgens Laurie Essig en Lynn Owens, Amerikaanse sosioloë, op die webtuiste The Chronicle of Higher Education (www.chronicle.com). ’n Verbintenis aan ’n groter netwerk (gemeenskap, plek). En ’n doelwit bo en behalwe ons primêre seksuele verhouding.

Daar is inderdaad baie soorte liefde, nie net vir ’n maat nie, beaam dr. Van Zyl-Edeling. Ook vir jou kinders, familie, die gemeenskap, natuur. En ander dinge wat belangrik is: outonomie, ’n doelwit, ’n lewe met betekenis. Só het ’n Amerikaanse studie met nonne bevind hulle floreer. Want hulle is betrokke by hul kerkgroepe en vind baie bevrediging in vrywillige gemeenskapswerk.

Ons is uiteraard sosiale wesens en ons beste lewenslesse en persoonlike groei kom vanuit ons verhoudings met ander, sê sy. Soos die Beatles sing: (Do you need anybody?) I just need someone to love (Could it be anybody?) I want somebody to love, Oh I get by with a little help from my friends.

Dis ook nie net ongetroudes wat sosiaal moet woeker nie. Getroude pare is dikwels meer geïsoleer as alleenlopers, suggereer ’n Amerikaanse studie in die Journal of Marriage and Family. Mense wat nooit getroud was nie, bring byvoorbeeld meer tyd saam met hul ouers en vriende deur. Daardie huisie in die voorstede kan ’n eensame plek word. Volgens ’n nasionale Amerikaanse peiling wat in die sewentigs afgeskop het, is ons minder as ooit geneig om vriende met ons bure te wees. (Dieselfde geld waarskynlik plaaslik.) 

Alleenlopers verbreek die patroon en sosialiseer oor die algemeen meer met vriende en bure, help en ondersteun hulle, volgens dr. DePaulo.

Wat ook al jou huwelikstatus, jy moet op sosiale vlak belê om jou welstand lewenslank te verseker. ’n “Sosiale portefeulje” hê, nes ’n finansiële een, stel dr. Gene Cohen, Amerikaanse gerontoloog, voor. Vroue investeer dikwels in hul kinders, maar hulle kan oorsee gaan woon. Dis dus ook nie altyd die antwoord nie, voeg dr. Van Zyl-Edeling by.

Dr. Cohen stel voor ons verdeel ons “sosiale portefeulje” in vier groepe en ontwikkel belangstellings in elkeen.

Energieke aktiwiteite saam met ander: soos sport, reis.

Energieke aktiwiteite alleen: tuinmaak, stap in natuur.

Minder energieke aktiwiteite met ander: toeskouer-sport, kuier, sosiale media.

Minder energieke aktiwiteite alleen: TV-kyk, TV-speletjies.

Daar is ’n historiese rede vir die huwelik. Dr. Van Zyl-Edeling het eenkeer in ’n gesprek met ’n Anglikaanse priester gevra: “Hoekom word gefrons oor seks buite die huwelik?” Vroeër jare was min vroue in staat om finansieel vir hulself te sorg – haar plek was mos in die huis, het sosiale reëls bepaal. Sy was dus meer kwesbaar en dit was veiliger vir haar en die kinders binne die huwelik, was sy antwoord. Nie meer nie.

“Die eerste keer in menseheugenis het vroue soveel regte, is ons so selfstandig. Hoekom dit opgee as jy nie regtig wil nie? Doen jou ding sonder om jou neus op te trek oor ’n ander se huwelikstatus. Kies die wêreld waarin jy wil woon en gooi die gras daar nat. Soek vervulling in die rol wat jy kies. Maniere om jouself gelukkig te maak, of jy getroud is of nie. Dis soos ’n kledingstuk wat jy aantrek, die rol het nie krag op sigself nie,” sê dr. Van Zyl-Edeling

Uit ’n spirituele perspektief het jy lesse om te leer waar jy nou is. Maak vrede met jou keuse en leer daaruit wat jy kan. As jy in ’n situasie is waar jy onderdruk word (jy voel byvoorbeeld jy het nie ’n stem in jou huwelik nie), leer om jouself te handhaaf. As dit regtig nie meer werk nie, maak ’n ander plan. “Tot die dood ons skei, beteken nie net liggaamlike dood nie, maar ook die dood van ’n verhouding,” sê sy. 

Sink die huwelik jou dieet?

Studies wys vroue in ’n vaste verhouding sit dikwels gewig aan. Dit het Jenna Bergen, ’n Amerikaanse fiksheidsinstrukteur, selfs genoop om ’n boek te skryf. In Your Big Fat Boyfriend: How to Stay Thin When Dating a Diet Disaster (Quirk Books, 2009) gee sy wenke oor hoe om dié slaggat te vermy.

Maar wat skuil daaragter? Daar kan emosionele redes wees, meen dr. Van Zyl-Edeling, deel van ’n magstryd in die huwelik. Jou (oortollige) gewig kan soms selfs jou verhouding in stand hou. Sy sien dit by kliënte: Sommige mans voel veiliger as hul vrou gewig aansit. Hy dink sy is dan nie so aantreklik vir ander mans nie. Toe sy eendag ’n eetplan oorhandig aan nog ’n kliënt, ’n diabeet, het sy dit na haar toe teruggegooi. Die vrou was geïrriteerd met haar opmerking: “’n Positiewe uitvloeisel van dié eetplan is dat jy ook gewig sal afskud.” “Ek wil nie,” reageer die vrou toe. “Dis my enigste wapen teen my man – hy haat dit dat ek oorgewig is.”

Gewig = beskerming/om ander van jou lyf af te hou, sê dr. Van ZylEdeling. Dit skep afstand tussen jou en ander mense. Soos die oorgewig vrou, joviaal, vol (soms riskante) grappies. Sy is klaarblyklik sosiaal bedrewe, maar dis bloot ’n front.

Daar is ook praktiese redes: Jy eet dalk nou kos wat nie deel is van jou eie gesondheidsprofiel nie. Dis immers moeite om vir elkeen afsonderlike maaltye te berei. Jy pas ook jou eie ritme by jul roetine aan. Syself sou byvoorbeeld sesuur saans wou eet. “My man werk egter tot agtuur en dis vir my belangrik dat ons saam eet. Eintlik sou ek verkies om smiddae my hoofmaaltyd te eet.”

Is daar boonop kinders, het jy minder tyd vir jouself en jou goeie gesondheidsgebruike sneuwel dalk. “Ek-tyd” word miskien deur jou gesin se behoeftes ingesluk. Enkellopers het dus meer tyd/geleentheid om ’n gesonde leefstyl na te jaag, sê dr. Van Zyl-Edeling. Net so, sê dr. Elna Rudolph, mediese dokter en seksuoloog van Johannesburg. “In ons kultuur glo ons boonop die vrou moet mooi na haar man kyk. Sy neem dit baie ernstig op, kook om hom te beïndruk en eet net so lekker saam.” (Of julle kook sáám dat die stoom trek.)

Volgens Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl, het jy voorheen jou gewoontes gehad en hy syne. As hy byvoorbeeld ’n rys-vleis-en-aartappel-man is en jou minder kilojoule-belaaide slaaien-groente-gewoontes bly agterweë, is dit ’n resep vir gewigstoename. Julle het nou boonop ’n dubbele inkomste en eet dalk meer uit. En koop anderste soorte kos.

Soos julle die dominee voor die huwelik vir huweliksberading besoek, moet jy ook by ’n dieetkundige aanklop wat jou eetpatroon kan evalueer. Sodat jy wéét watter kos jou gewig laat aansit. En belê in ’n gesondheidskookboek, is Mariza se raad. 

KONTAK:

Dr. Hannetjie van Zyl-Edeling: 011 487 1744, han@emlct.com, www.freechildcompany.co.za

Dr. Elna Rudolph: 086 7272 950, info@mysexualhealth.co.za, www.mysexualhealth.co.za, www.DrElnaRudolph.com

Mariza van Zyl: 021 872 8423, www.bettereat.net

Bykomende bronne: theconversation.com, nymag.com, psychologytoday.com, harvardpress.com