Dalk het jy die eerste keer in ’n fliek of TV-reeks gehoor van ’n “klik-plaas” (click farm). Soos in die satiriese reeks Silicon Valley, waar Richard Hendricks erken hy het een gebruik om dit te laat lyk asof baie meer mense Pied Piper se nuwe app ngebruik as wat werklikwaar die geval is.

As jy dinge vir die internet skep, sink of swem jou loopbaan op ’n oseaan van klikke. Dis waar vir die joernalistiek, YouTube en skeppers van apps soos Richard en sy spannetjie nerds.

Mense kan nou maar die “klik” afkam, nes ons swak aanlyn kopie “klik-aas” (clickbait) noem. Maar dis ’n eenheid van vertroue, waarde; van verbruikers se belangstelling in jou produk. En sogenaamde klik-plase bestaan regtig. ’n Associated Pressverslag in 2014 wys die vinger na ’n geheime bedryf, gewoonlik in Suidof Suidoos-Asië, wat van duisende LinkedIn-konneksies tot YouTubekyke en Facebook-likes verkoop. Soms doen robotte die werk, soms swoeg onderbetaalde werkers voor rekenaars.

Jy dink moontlik dit het niks met jou uit te waai nie. Maar dit het! Fopnuus het ’n uitwerking op ’n magdom dinge, na gelang van die inligting wat oorgedra word. Dit versprei boonop vinniger en bereik meer mense as die waarheid, het Amerikaanse navorsing bevind. En het ’n belangrike impak op die politiek, maar ook op gesondheid, voeding, klimaatsverandering, selfs  finansiële inligting.

Ons dink dalk fopnuus en bleeksiel gaan saam soos sout en peper, Jin en Jang. Maar in der waarheid kan dit deur enigeen geskep en versprei word.

Die BBC het gedurende die Covid-19-grendeltyd honderde misleidende stories ondersoek. En ’n idee gekry wie daaragter sit. Hulle het sewe groepe onderskei. (Sien kassie hierbo.)

Baie sulke stories word as ’n grap gebore, of omdat mense regtig-egtig verveeld is. Maar sommige word geplaas om jou doelbewus te bedrieg. Eerstens om jou sover te kry om te klik sodat hulle geld uit advertensies kan maak, of selfs uit ’n skelmstreek. Of om jou anders oor iets of iemand te laat dink. Maar jy, ja ook jy, kan aandadig daaraan wees dat dit soos een van die plae van Egipte aanteel. Hoe meer mense ’n plasing “like” op Facebook, hoe meer mense op Yahoo! Answers saamstem ’n plasing is bruikbaar, hoe meer verander dit ander mense se persepsie dat dit iets van gehalte is, het navorsing bevind. Of dit nou fopnuus is, of nie.

“Waninligting – die meeste mense verkies deesdae dié term bo ‘fopnuus’ – is nie altyd georkestreer nie,” sê prof. Herman Wasserman, direkteur: filmen mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad. “Hoewel daar natuurlik wel georkestreerde veldtogte is, veral wanneer dit by die politiek kom. Dit het ons in verskeie verkiesingsveldtogte gesien. En hier ter plaatse onder meer met die Bell Pottinger-sage.* Veral wanneer dit kom by die verspreiding van waninligting, is gewone gebruikers van die sosiale media en boodskapplatforms soos WhatsApp ook aandadig en aanspreeklik.”

In ’n aanlyn peiling in Kenia, Nigerië en Suid-Afrika het prof. Wasserman en dr. Dani Madrid-Morales van die Universiteit van Houston in die VSA boonop bevind Afrikane deel fopnuus meer gereeld as Amerikaners: 41% van Keniane, 33% van Nigeriërs en 32% van Suid-Afrikaners het erken hulle het al politieke nuusstories aanlyn gedeel wat later opgemaak blyk te wees. In Amerika was dit 16%.

Die Nigeriese skrywer Adaobi Tricia Nwaubani vertel in ’n kostelike artikel op BBC.com komediante in haar land steek die draak met ma’s wat heeldag en aldag op WhatsApp is. Daar is ’n algemene klagte onder jonger Nigeriërs oor die aard en aantal WhatsApps wat hulle van hul ma ontvang. Jy word wakker en daar is tien video’s van jou ma af. En elkeen begin met: “Jy móét  hierna kyk!” “Dit kan iemand help!” Een vrou het op Twitter gekla haar ma sit uie in die huis se hoeke – aangeprys op WhatsApp omdat dit glo gifstowwe absorbeer. Verskeie ander het beaam hul ma volg ook dié onjuiste raad. Toe nog ’n dogter haar ma daarop wys haar “gesondheidswenke”, konkoksies om te meng en te drink, is twyfelagtig, was haar antwoord: “Jy weet nooit, probeer dit net.”

Nou ja, dis beslis nie beperk tot Nigerië en ma’s nie. Almal wat tydens die inperking deel van ’n WhatsAppgroep was, kan daarvan getuig. Een van die belangrikste motiverings hoekom mense waninligting aanstuur, is ’n misplaaste sin vir burgerlike verantwoordelikheid, het prof. Wasserman se navorsing bevind. “Jy ontvang ’n boodskap oor een of ander wonderkuur vir die coronavirus en stuur dit aan ‘net ingeval’ iemand daarby kan baat vind. Al weet jy self nie of dit waar is nie. En ontstellend, sulke boodskappe word dikwels aangestuur selfs al weet mense dis nie waar nie.” In die studie het 25% van Suid-Afrikaners, 29% van Keniane en 18% van Nigeriërs “ja” gesê op ’n vraag of hulle al nuusstories gedeel het wat hulle weet opgemaak is.

“‘Pret’ is nog ’n motivering – mense stuur dit ‘sommer vir die grap’ of ‘sommer vir interessantheid’ aan, maar besef nie hoe skadelik dit kan wees nie. Juis in dié tyd dat betroubare mediese  inligting so belangrik is. ’n Ander motivering is ‘bewusmaking’ – mense stem nie noodwendig saam met die waninligting nie, of weet nie of hulle dit kan vertrou nie. Maar stuur dit nietemin aan omdat hulle voel mense moet weet wat die ronde doen, of om te wys hulle is ‘op hoogte’ van die jongste nuus,” sê hy.

Glanspersoonlikhede speel ’n belangrike rol om misleidende aansprake in die hoofstroom te laat beland. En gooi politici nie weg nie. (Ja, president Trump!) Bekendes (politici, celebs) met ’n groot sosialemedia-gevolg is “sleutelverspreiders van waninligting”, volgens die Britse koerant The Guardian (theguardian.com). Terwyl sosiale media-platforms vinniger as in die verlede optree om vals inligting oor die coronavirus uit te lig, help van die voorste akteurs en vermaaklikheidsterre – met miljoene volgelinge op Twitter en Instagram – om die vlamme aan te blaas. Hulle bereik dikwels baie meer mense as hoofstroomnuusdienste.

Politici en celebs is verantwoordelik vir die skep of verspreiding van 20% van vals inligting oor die coronavirus, het navorsing aan die Oxford-Universiteit se Reuters-Instituut vir die Studie van Joernalistiek bevind. Maar dit gee aanleiding tot sowat 69% van alles wat op sosiale media aangaan. Terwyl die meeste vals inligting op sosiale media dus van gewone mense afkomstig is, maak sulke plasings deur jou en my baie minder opslae.

Maak Hollywood se Woody Harrelson op sy Instagramblad ongegronde aansprake oor die coronavirus-uitbreking en die installering van 5G-netwerke in Chinese stede, trek dit egter teen die spoed van lig deur die kuberruim. (Die histerie rondom die tegnologie bons al op sosiale media rond sedert die selfoon in sy kinderskoene was. Sommige kritici het toe aangevoer die 2G-luggolwe kan kanker veroorsaak.

Nou, met die verskyning van 5G, kry daai vuur weer petrol. Letterlik. ’n Paar maande gelede is talle selfoontorings n Brittanje aan die brand gesteek en gevandaliseer.) Woody is ook ’n luide anti-vaxxer: Mense wat glo die inenting van kinders is hoogs gevaarlik.

Hoewel daar geen wetenskaplike bewyse is dat immunisering jou kind kan benadeel nie, is dié “komplotters” nie oortuig nie. Daar is ’n reusekloof tussen wetenskaplike bewyse en wat hulle glo die verborge waarheid is.

Die coronavirus is boonop nuut en versprei op so ’n skaal en teen so ’n spoed dat mense verward na antwoorde soek. “Angstige mense sal dikwels enige samesweringsteorie aangryp wat hulle hoop gee of beter laat voel,” sê prof. Wasserman. Plaaslik is ons  nie ontsien nie. In ’n Facebookvideo het ’n Suid-Afrikaner medeburgers gemaan om “besmette” Covid-19- toetstoerusting te vermy en ook die blaam vir die uitbreking op 5G gepak.

Met ’n wattestokkie in sy neus het hy aangevoer hy gee landgenote die “belangrikste boodskap wat jy in jou hele lewe gehoor het”. Hy is summier in hegtenis geneem. Mense wat vals stories oor die coronavirus glo, is ook meer geneig om die regering se riglyne oor die handhawing van sosiale afstand te ignoreer, het ’n Britse studie bevind.

Dié wat glo Covid-19 is gekoppel aan 5G-selfoonmaste, is ook minder geneig om binnenshuis te bly en hul hande gereeld te was. En stel ons almal dus in gevaar.

Nog ’n groep wat in die huidige klimaat van vrees floreer, is die swendelaars, boereverneukers. Wanneer iets mense bang, histeries of verward maak, is daar altyd skelms op die loer wat kwakmedisyne verkwansel. Só verkoop ’n maatskappy, 5GBioShield, ’n USB-geheuestafie teen £283 (sowat R6 000) wat jou beskerm teen die elektriese “mis” wat alle elektroniese ware glo afgee. Maar toetsing het gewys dis niks meer as ’n standaard-128 MG-USB-stafie nie.

Daar is honderde sulke maatskappye op die internet wat my en jou met  ’n slap riem probeer vang. Hoekom ons daarvoor val? Die inligting is dalk vals, maar die verduideliking meer toeganklik; Jan Alleman kan dit verstaan. Al is daar berge wetenskaplike getuienis wat die teendeel bewys, is dit dalk in ’n vaktaal wat ons aan die slaap sus, volgens die tegnologie-webtuiste telecoms.com.

En nes jy dié slaggate misgetrap het, moet jy koes vir die “ingeligtes” met kennis uit die “binnekringe”. ’n Dokter, professor of hospitaalwerker (glo), met skrikaanjaer-nuus. Die “ingeligte” is natuurlik allesbehalwe dit. Die Britse ambulansdiens moes byvoorbeeld in April vure doodslaan nadat ’n vals stemboodskap op WhatsApp vinniger as die virus self versprei het. ’n “Werknemer” het beweer ambulanse gaan nie meer beskikbaar wees vir mense met Covid-19 nie.

Dat ysskaatsbane as nood-lykshuise ingespan gaan word. En dat ’n derde van sterftes in komende weke babas, kinders en tieners gaan wees met geen onderliggende gesondheidskwessies nie. Natuurlik pure snert.

In Afrika moet ons ook nie die rol van humor, grappies, satire, riemtelegramme en skinder vergeet nie, sê prof. Wasserman. In ’n artikel noem die Britse historikus en aktivis Stephen Ellis die verskynsel dwarsoor die kontinent “sypaadjie-radio”. Dit word ondersteun deur die wydverspreide mondelinge tradisie in dié samelewings en is die nie-amptelike bespreking van die sake van die dag.

“Dis sake van openbare belang waaroor daar nie ’n amptelike aankondiging was of waar die amptelike inligting nie vertrou kan word nie,” volgens prof. Wasserman.

“Ongelukkig kan grappies en satire ook waninligting versprei omdat mense nie altyd weet watter inligting om te vertrou en waarvoor om net te lag nie.”

In die tyd van ’n pandemie kan dit dodelik ernstig wees. ’n Man in Arizona in die VSA het ’n vistenkskoonmaakmiddel gedrink en gesterf omdat hy geglo het dit sal hom teen die coronavirus beskerm. Dit was nadat pres. Trump gesê het dit sal interessant wees om te toets hoe mense met Covid-19 reageer as hulle met ’n soort antiseptiese middel ingespuit word. Later het hy gesê hy was net sarkasties.