Die Emmy-bekroonde televisiereeks Big Little Lies, gaan oor die trauma van misbruik in ’n gewelddadige verhouding. Nicole Kidman vertolk die rol van Celeste wat in ’n oënskynlike gelukkige huwelik met Perry (Alexander Skarsgård) is. Agter geslote deure raak dit egter duidelik dat Perry se gewelddadigheid Celeste se lewe in gevaar stel. 

SKERMGREEP YouTube / HBO

In haar boek How to Spot a Dangerous Man Before You Get Involved skryf die Amerikaner Sandra Brown dat nege uit tien vroue nie weet wat ’n man lewensgevaarlik maak nie. Ons verhoudings bied nie altyd die liefde en vertroeteling wat ons toekom nie. Maak seker jy sien enige gevare betyds raak.Photo by Louis Blythe on Unsplash

’n Gevaarlike man maak ’n vrou emosioneel, fisiek, seksueel, finansieel of spiritueel seer. Dit kan ook ’n kombinasie hiervan wees. ’n Gevaarlike man kan nie groei of verander nie en het nie insig in sy eie gedrag in ’n verhouding nie. Hy laat ’n vrou nie maklik toe om hom te los nie. Die grootste jammerte is dat ’n vrou in so ’n verhouding gekondisioneer word om abnormale gedrag as normaal te sien, en dan begin patologiese (versteurde) gedrag vir haar aanloklik lyk in ’n verhouding, skryf Sandra

Dis ongelukkig ’n werklikheid, sê dr. Tanya Robinson, ’n forensiese spesialis van Johannesburg. “Baie vroue wil nie die wolf in skaapklere raaksien nie. Of jy dink jy kan jou man verander, of dat jy nie sterk genoeg is om teen hom op te staan nie. Of jy weet dalk net nie waarvoor om op die uitkyk te wees nie. “Ongelukkig dra gevaarlike mans nie ’n plakker wat jou waarsku nie. Inteendeel, hulle kan baie vriendelik voorkom. Maar voor jy weet, word jy in ’n blik gedruk. Sulke tipe mans is obsessief, jaloers en het gewoonlik obsessies met gewere. Hulle lei jou maklik om die bos. “In die begin dink jy dalk hy’s jou droomman, maar dan begin tekens kop uitsteek. As sy aggressie, jaloesie en buie ’n herhalende patroon word, is jy in ’n gevaarlike verhouding.”

Kenners sê daar’s verskillende soorte gevaarlike mans: van makliker uitkenbaar, soos die gewelddadige man wat jou slaan, tot die uitgeslape, sjarmante een wat dit moeilik maak om die tekens te herken.

“Jy kry die psigopatiese man, wat uiters gevaarlik is. Hy vermom die gevaartekens tot hy jou in sy greep het, hy mishandel jou én ander mense. Daar is ook die tipe met ’n verhoudingsafwyking wat emosioneel afhanklik is van jou. Of die man wat jou as sy eiendom sien. So ook die man wat ’n humeur het, ’n beheervraat is, die verhouding domineer, van mag hou. Hy sal jou skiet, of dit nou beplan was of nie,” sê Lisa Vetten, navorser by die Universiteit van die Witwatersrand se Instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing (WiSER). Sy doen al sedert 1991 navorsing oor geweld teen vroue en het vir jare saam met die organisasie People Opposing Women Abuse (POWA) met slagoffers gewerk. “Die syfers neem nie af nie,” sê sy.

Al die verskillende soorte het wel ’n paar karaktertrekke gemeen, sê Tanya. “Hy beheer jou van die begin af, sonder dat jy dit besef. Hy’s gewoonlik selfversekerd en selfs sjarmant. Hy maak leuens of stories op, voel nie skuldig nie, toon nie empatie nie. Hy kan onverantwoordelik optree en aanvaar nie verantwoordelikheid vir sy dade nie. Daar’s gewoonlik ook ’n geskiedenis van korttermynverhoudings of huwelike, of afwykende gedrag. In die meeste gevalle was sulke mans kleintyd self ’n slagoffer of getuie van mishandeling.”

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die gevaartekens:

Sandra lig die volgende drie trekke uit wat sy reken die meeste gevaarlike mans gemeen het:

1. Hy wil vinnig ernstig raak. Wil 24/7 jou aandag hê/by jou wees. Gewoonlik is dit omdat hy jou wil laat glo jul gevoelens vir mekaar het vinnig en intens verdiep.

2. Hy’t al baie mislukte verhoudings of huwelike gehad, want hy kan nie alleen wees nie. Hy aanvaar ook nie verantwoordelikheid vir sy aandeel in die mislukte verhouding nie, maar blameer eerder sy eks. Dis ook hoekom hy gou ernstiger wil raak – sodat jy jou in ’n ernstige verhouding bevind voor jy uitpluis hoekom al sy vorige verhoudings misluk het. Kyk ook met watter soort meisies hy al uitgegaan het of getrou het, dis ’n aanduiding van sy tipe teiken.

3. Hy’t ’n geskiedenis van probleme. Die beste manier om te bepaal hoe hy gaan optree, is om te kyk hoe hy in die verlede opgetree het. Buiten sy vorige verhoudings, vind uit oor sy geskiedenis. Het hy dalk ’n misdaadrekord, is hy al behandel vir ’n geestestoestand soos depressie? Dis rooi ligte en kan dui op ’n herhalende gedragspatroon.

Prof. Anni Hesselink van UNISA sê daar is gewoonlik ’n sneller wat ’n man daartoe dryf om sy maat te vermoor. “Dis gewoonlik iets wat hom bedreig laat voel, of hom laat voel hy verloor beheer of mag. In die meeste gevalle is dit wanneer jy gedreig het of besluit het om hom te los, of hom gelos het. Ander algemene snellers wat tot moord lei, sluit in jaloesie (oor jou finansies, intellek, sosiale status of die vermoede of wete dat jy ’n ander man ontmoet het), wraaksug, gevoelens van teleurstelling, agterdog en mislukking.”

As jy ja sê op meer as vyf van die volgende vrae, moet jy op jou hoede wees:

- Verkleineer of beledig hy jou?

- Het hy erge woedeuitbarstings?

- Is hy aggressief?

- Het julle seksuele probleme?

- Stamp of slaan hy jou?

- Verander jy jou gedrag, kleredrag, haarkleur, wat jy eet, vriende, ens. om hom gelukkig te maak?

- Wil hy heeltyd in beheer wees en al die besluite neem?

- Probeer hy jou heeltyd verander en aanvaar jou nie soos jy is nie?

- Is hy baie jaloers en besitlik? (Kyk hy bv. na jou selfoon- of Facebook-boodskappe)

- Is/was jy al ooit bang vir hom?

- Voel jy geïsoleer? (Belet hy jou bv. om sekere dinge te doen/ mense te sien?) - Is jy die een wat altyd jammer sê of jou keuses prysgee ter wille van syne? - Het hy ’n obsessie met vuurwapens?

Hoe gemaak as jou instink inskop?

“Luister na jou instink,” sê dr. Robinson. “As jy hulpeloos, depressief of angstig begin voel, is jy in ’n gevaarlike situasie. Emosionele teistering, manipulasie, beheer oor jou lewe, emosies, denke en finansies is rooi ligte.” Lisa sê as jy besef jou man is gevaarlik, aanvaar jy gaan hom nie kan beheer of verander nie. “As jy hom ’n laaste kans wil gee, moet hy verantwoordelikheid aanvaar en gewillig wees om te verander, soos byvoorbeeld instem om vir terapie te gaan.

Besluit dan waar jy die streep trek. As dit by ’n vuishou is, en hy slaan jou weer, moet jy wegkom.” As terapie nie werk nie, en veral as jy besef jou man is die psigopatiese tipe, moet jy so gou moontlik probeer wegkom, waarsku dr. Robinson. “Betrek onmiddellik ’n familielid of vriend, of selfs ’n terapeut of POWA, om jou te help.

Moenie vir hom sê jy gaan hom los nie. As jy eers weg is met jou kinders, veral as jy voel jou lewe is steeds in gevaar, kan jy die polisie en ’n prokureur gaan sien en ’n hofbevel kry wat hom verbied om naby julle te kom. Jy kan egter nie net op die hofbevel staatmaak nie. Maak seker julle is veilig. Gaan bly ver weg as jy kan, sit ’n alarmstelsel in, lig die veiligheidswagte in jou area in oor jou situasie.”

Dis nie maklik nie, maar doen dit voor dit te laat is, sê Lisa. “Jy’s dalk bang, dink dis nie finansieel moontlik om met jou kinders weg te kom nie, of dat jy waardeloos is sonder hom. Maar ’n nuwe lewe ís moontlik.”

Moenie dat liefde so blind is dat jy nie die gevaartekens raaksien nie.