Weekliks het Ivan, Carol en Optel, die hond, by ons voorhek aangedoen vir ’n hoop koerante en tydskrifte – dit was in die dae voor digitale media en die oes was groot. Soms het hulle ’n geskenkie uit iemand anders se vullisdrom met groot gebaar oorhandig: ’n blou botteltjie met ’n skraap, pienk lawalamp waarvan die gloeilampie geblaas het.

Vir Ivan en Optel het ek dikwels op die grootpad gewaar, met ’n swaar gelaaide trollie op pad na ’n herwinningsentrum ver buite die grense van ons woonbuurt. Oral is dit ’n bekende gesig, dikwels loop dié ridders van die vullisdrom so half in die pad en jy moet uitswaai om nie lompe trollies én man ’n stamp te gee nie. Oor die radio is daar debatte: Sommige mense noem hulle ’n plaag wat van ons strate verwyder moet word. Ander het meer empatie met wat dikwels vir ’n warm maaltyd in ’n leë maag sorg.

En kyk, op ’n ander vlak lewer hulle ’n broodnodige diens. Plastiek en ander materiale wat andersins op vullishope sou beland, word só herwin. Danksy sir David Attenborough se 2017-dokkie Blue Planet II het die bewustheid van die plastiekprobleem en die bedreiging daarvan vir ons planeet hoofstroom geword. Met reg. Plastiek is teenwoordig in byna elke deel van die oseaan – van die oppervlak van die Stille Oseaan tot by die donker dieptes van die Mariana-trog en selfs by die pole. Dis nie bioafbreekbaar nie en verdwyn daarom nooit nie. Maar word bloot in kleiner deeltjies, mikroplastiek, afgebreek. Wetenskaplikes raam as die gebruik daarvan nie drasties verminder nie, gaan daar teen 2050 meer plastiek as vis in die see wees.

Mikroplastiek is ook volop in ons drinkwater. Die deursneemens neem weekliks tot 5 g plastiek in, gelykstaande aan ’n kredietkaart, volgens Netwerk24. Dis vanjaar ook in reën en sneeu gevind.

Dis oorlog

Die jaar 2018 sal onthou word as die een toe ons uiteindelik besef het hoe vernietigend die gewoonte is om plastiek ná net een keer se gebruik weg te gooi. Teen 2019 was dit ’n volskaalse oorlog met ’n klemverskuiwing van verbruikersbewustheid na regeringsbeleid, sê Dion Chang, stigter van Flux Trends (fluxtrends.com). Vanaf Januarie vanjaar moet alle plastiekkoppies, -borde en -wattestokkies in Frankryk gemaak word van biologiese bronne wat natuurlik vergaan. As jy na Rwanda, Marokko, Tanzanië, Burundi en Kenia reis, maak maar seker jou plastieksakke bly tuis. Wetgewing daar verbied dit. Keniane wat plastieksakke invoer of verkoop, kan tot vier jaar tronk toe gaan of met $40 000 (sowat R700 000) beboet word.

Handelsmerke word genoop om sterker standpunt in te neem teen besoedeling en vir volhoubaarheid, spesifiek met hul verpakking. Plastiekstrooitjies en mikrokorrels in skoonheidsmiddels was reeds in die spervuur en nou is die visier op van kontaklense tot ballonne, volgens Dion.

Dit verminder die maak van nuwe plastiek. Maar wat van dié waaronder die aarde reeds versmoor? Innoverende idees vir die versameling en herwinning daarvan duik oral op. Só is Econyl ’n nylonstof uit onder meer afvaltekstielstowwe en ou visnette waarvan daar van drafskoene tot baaikostuums gemaak word. Giulio Bonazzi, grootbaas van die Italiaanse maatskappy Aquafil wie se produk dit is, is al aangehaal: “As ek ’n vullisterrein gewaar, sien ek ’n goudmyn.”

Adidas neem al jare die voortou. Hul FUTURECRAFT.LOOP lyk nes enige ander drafskoen. Maar as dit gedaan is, gooi jy dit nie sommer net weg nie. Jy gee dit vir Adidas terug: Die hele skoen kan hergebruik word om toekomstige drafskoene te skep. Dit het meer as sewe jaar se navorsing geneem, en sluit in nuwe tegnologie om die skoen uit ’n enkele stuk materiaal te maak, sonder gom of hegmiddel. Jy gaan wel nog ’n ruk daarvoor moet wag. Die voorlopige datum vir die bekendstelling is aanstaande jaar, volgens die nuustydskrif Time (time.com). Adidas werk ook aan drafskoene van herbenutte plastiekbottels (Prime Green genoem) en herbenutte oseaanplastiek (Prime Blue). “Ek sal my kop op ’n blok sit dís die nuwe ontwerper-statussimbool van die toekoms. Nie meer Louis Vuitton en kie nie, maar ’n handelsmerk wat volhoubaar is,” sê Dion.

Van hospitaalafval tot skoolskoene

Sowat 1 300 leerders by die Laerskool Chivirikani in Katlehong, suidoos van Johannesburg, spog met splinternuwe skoolskoene – gemaak van herbenutte PVCgesondheidsorgafvalprodukte, nie-besmette PVC-drupsakke en suurstofmaskers. Dit word net een keer gebruik en het in die verlede op die vullishoop beland.

Nog 25 000 leerders landwyd gaan binnekort elk ’n paar van dié skoene ryker wees danksy die My Walk-inisiatief, ’n vennootskap tussen Netcare en die farmaseutiese maatskappy Adcock Ingram. Die skoene is heeltemal herwinbaar, behalwe die veters. ’n Voorloper daarvan is verlede jaar by drie skole (onder meer Chivirikani) getoets en leerders kon terugvoering gee oor die ontwerp en gemak daarvan.

“Skoene is veel meer as iets wat ’n uniform afrond,” volgens Christopher Maluleke, die skoolhoof. “Kinders sonder skoene se waardigheid en selfrespek kan in die slag bly. Wat ’n impak op hul skoolervaring en akademiese prestasie kan hê en hulle dalk daarvan weerhou om aan speletjies en sport deel te neem.”

Trollie vir trollie

Nou het daar in Suid-Afrika, soos ook in onder meer Brasilië en Indië, ’n informele mark tot stand gekom wat herwinbare goed bymekaarmaak en verkoop. Wat so half as ’n naïewe diens beskou word, raak ál meer gesofistikeerd en deel van die wêreldekonomie. “In die Weste dink ons oor die algemeen aan herwinning as ’n verantwoordelike, groen aktiwiteit. Teenoor ontwikkelende lande in byvoorbeeld Asië, waar dit ’n ekonomiese aktiwiteit is,” sê Dion. “Dáár word herwinning nie soseer gedryf deur eko-skuldgevoelens en om jou sosiale aansien te verhoog nie. As jou maag leeg is, is dit nie prioriteit om die aarde te red nie.”

So is die herwinning van afvalglas vir sowat 50 000 Suid-Afrikaners ’n informele bron van inkomste, volgens Shabeer Jhetam, uitvoerende hoof van The Glass Recycling Company. Sowat 80% van alle glas wat plaaslik gebruik word, beland nie op vullisterreine nie. Dit is danksy ’n kombinasie van herbenutting en herbruikbare/inruilbare bottels. Die meeste vervaardigers van bier, wyn en spiritualieë gebruik byvoorbeeld inruilbare glasbottels, wat gesteriliseer, hervul en weer versprei word. “Verbruikers in veral lae-inkomstegroepe is maar te gretig om hul leë glasbottels aan die handelaar terug te besorg, in ruil vir ’n deposito. Ander weer versamel bottels en flesse en verkoop dit aan ’n herwinningsentrum vir ’n inkomste,” sê hy. (Besoek tgrc.co.za.)

Nêrens in die wêreld is dinge so vaartbelyn soos in China nie. Die land het uit sy foute geleer: Net voor die Olimpiese Spele in 2008 is derduisende vullis-“delwers” uit Beijing verjaag in ’n poging om tydens die Spele aan die wêreld ’n netjiese, modern stad te wys. Tot die regering se eie verdriet . . . die vullis het eenvoudig opgestapel. Deesdae is dinge baie meer gestruktureerd. Mense kom haal jou herwinbare afval by jou huis en hoef nie deur jou vullis te krap nie.

Herwinning in China kan inderdaad teen 2050 die grootste sektor naas landbou wees, volgens Adam Minter, skrywer van Junkyard Planet: Travels in the Billion-Dollar Trash Trade (2013), ’n blitsverkoper oor die verborge wêreld van globale herwinning. Die mark in China vir die herwinning van PET (poliëtileen-tereftalaat) alleen beloop miljoene dollar. PET, van fossielbrandstowwe afkomstig, word meestal gebruik om plastiekbottels te maak. Herwonne PET word onder meer vir veselstowwe in die tekstielbedryf ingespan.

Ons moet die gesprek verander: Van eko-gebaar na ekonomiese opheffing.
Dion Chang

Plastiek vir lugtyd

Wêreldwyd het herwinbare plastiek ook ontpop as betaalmiddel vir sekere dienste – meestal lugtyd en openbare vervoer. Duitsland is voor in die koor met hul “deposito-teruggee-skema”. In baie Duitse supermarkte is daar Pfand(deposito)-outomate waar jy die deposito wat by ’n koeldrank (bottel of kannetjie) se prys ingesluit is, terugkry wanneer jy die gebruikte houer daarin voer.

In sekere wêreldstede kan jy jou plastiekbottels as betaalmiddel vir openbare vervoer gebruik. Daar is plastiek-vir-vervoersmousoutomate in onder meer Beijing, Rome, Madrid, Istanboel, Guayaquil (Ecuador) en Surabaya (Indonesië). Dit moedig mense ook aan om meer van openbare vervoer gebruik te maak. Plaaslik is daar by uitsoektakke van Pick n Pay, Woolworths en HomeChoice outomate wat kopers beloon vir hul verpakkingsafval. Maatskappye soos Old Mutual en Liberty 2 Degrees het dit ook in die werkplek. Dié “groen” masjien “lees” die produk se magneetstrook en vergoed jou in jou digitale beursie op die Imagined Earth-app, die plaaslike verskaffer van die tegnologie. Tans kan jy lugtyd daarmee koop, maar ander soorte belonings word ook in die vooruitsig gestel. “Herwinning is een van die maklikste maniere waarop mense en besighede hul impak op die omgewing doeltreffend kan verklein,” volgens Justin Needham, hoofbestuurder van Imagined Earth. (Besoek imaginedearth.com.)

“Ons moet die gesprek verander: Van herwinning as ’n eko-gebaar na ekonomiese opheffing. Dán het ons ’n wen-wen-situasie,” sê Dion. Want herwinning is lankal nie meer ’n “gawe ding” om te doen nie. Dis ’n “moet-doen” om die aarde te red en sommer ook armes van ’n broodnodige inkomste te voorsien.

Herwinning van hoop

Tshepo Mazibuko van Katlehong was vier jaar lank werkloos. Om kos in sy gesin se mae te sit het hy herwinbare vullis begin optel. “Ek was trots op my eerste sak vullis. Maar dit was waardeloos: Ek moes leer onderskei tussen nuttelose rommel en herwinbare goed.”

Tshepo het gou besef een van die grootste uitdagings is die vervoer van afval na die herwinningsentrums wat dit terugkoop. Dis gewoonlik ver van die townships af en die vullisoptellers moet ’n groot deel van hul dag daaraan bestee. Ná 18 maande het sy vrou, Thando, ’n lening gekry en ’n tweedehandse bakkie aangeskaf. Hulle het die ander se optelgoed teen ’n verminderde prys gekoop en na die herwinningsentrum geneem. Dit was die einde niet.

Met ’n twee weke lange entrepreneursprogram van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) agter die blad en geld van onder meer Zimele, Anglo American se ontwikkelingsfonds, het hy sy eie herwinningsentrum in die township begin. Ook nog twee voertuie aangeskaf, insluitend ’n 4-ton-trok. K1 Recycling, sy en Thando se besigheid, versamel tans 80 ton herwinbare afval per maand en het ’n indirekte werkerskorps van sowat 1 000. Dikwels is dit werklose vroue en die gesin se enigste broodwinner.

K1 Recycling snoer nou kragte met onder meer supermarkte saamvir die skep van ’n eenvoudige stelsel om herwinbare afval by lae-inkomstegemeenskappe te versamel – ’n mobiele herwinningsentrum wat Packa-Ching genome word. Jy word per selfoon betaal (e-beursie) en kan lugtyd koop, kontant trek of by deelnemende winkels daarmee betaal. Packa- Ching is tans aan’t woel in Langa, Kaapstad, Buffalo City, Oos-Londen en Ivory Park, Johannesburg.

Vir meer: k1recycling.co.za; packaching.co.za.

Bykomende bron: unenvironment.org