My man het sy werk verloor weens die pandemie. Skielik is die huishoudelike begroting met die helfte gesny. Ons het twee kinders op laerskool. Hoe kan ons ons rande rek?

In krisistye is dit belangrik om kop te hou. Die grootste foute spruit dikwels uit oorhaastige of emosionele optrede. Probeer besluite neem wat nie jou finansiële gemoedsrus op lang termyn sal belemmer nie.

Begin met ’n bestekopname. Gaan deur elke item in jul begroting (of stel een op!) en bepaal waar jy kan sny. ’n Paar maande sonder DStv is ’n sinvolle opoffering. Kyk vir goedkoper alternatiewe vir kruideniersware of jou selfoonkontrak. Dink mooi oor wat noodsaaklik is. Moenie summier versekeringspremies staak nie. Hoewel dit aanloklik kan lyk om jou bydraes tot byvoorbeeld ’n siekefonds in jou sak te hê, kan ’n mediese noodgeval wat nou opduik jou geldelik kelder.

Hersien saam met jul adviseur jul langtermyn- finansiële plan. Dan weet julle waarheen julle op pad is. Dalk het julle voorsiening gemaak vir nooduitgawes waarop julle nou kan terugval. Verkry ’n oorsig van jul bates en laste. Julle is dalk in die versoeking om bates soos aandele, effektetrusts of ’n fisieke bate soos ’n kunswerk te verkoop, maar maak seker julle verstaan hoe dit jul langtermynplan gaan beïnvloed. Dit help nie om iets waarvoor jy so hard gewerk het vir ’n appel en ’n ei te verkwansel nie.

Kyk na jul skuldposisie. Korttermynskuld is gewoonlik die duurste. Probeer oortrokke kredietkaarte en klererekeninge vermy.

Indien jou man deur sy werkgewer tot ’n aftreefonds bydra, staan hy heel waarskynlik nou voor ’n klompie interessante keuses. Dink baie versigtig oor die moontlikheid om aftree-geld nou te onttrek. Dit kan belastingimplikasies hê en jul neseier beïnvloed.

Maak ook seker julle ondersoek en gebruik die hulp wat beskikbaar is, soos die Werkloosheidsversekeringsfonds. Krisistye is moeilik, maar gee ons ook die kans om weer te besin oor ons prioriteite.

Inligting Jaanre Muller, portefeuljebestuurder: PSG Portefeuljebestuur en Aandelemakelary, Hermanus