Drink net een glasie wyn, het ’n vriend Hannelie de Wet op ’n partytjie aangemoedig. Sy was toe in graad tien. Min het die predikants-dogter daardie aand geweet sy sou op 45 ’n alkoholis wees.

Vandag is Hannelie, ná jare van hel vir haar en haar gesin, reeds tien jaar “skoon”. Tog, eenmaal ’n alkoholis, altyd een.

“Die enigste manier waarop ek hierdie siekte op ’n afstand kan bly hou, is om nooit weer ’n druppel drank te neem nie. Nie eens in kos nie.

“Daardie aand, ná daardie een glas, was ek die gees van die partytjie. Sorgeloos en vol bravade. Ek het gevoel ek wou soos ’n nar op tafels dans. Ek het besef drank kan my kitsoplossing wees vir die leë, donker gevoel, vir die magneet wat my gemoed afgetrek het.”

Hannelie de Wet
Hannelie de Wet

Jare later eers sou Hannelie vasstel daardie swaarte in haar binneste, soms afgewissel deur gevoelens van euforie, was bipolêre gemoedstoornis. “In my geval is albei siektes, bipolariteit en alkoholisme, geneties.”

In haar verdere skooljare het sy nie weer gedrink nie, behalwe soms ’n halwe glasie by gesinsetes op Sondae. Ook as BSc-student by Maties het sy nog nie ’n ernstige drankprobleem gehad nie. “Maar ek het wel toe reeds geweet ek drink om ‘normaal’ te voel. Ek het altyd ja gesê wanneer iemand my drank aangebied het, of dit wyn, bier of hardehout was.”

Ná haar huwelik en die geboorte van haar drie kinders het sy ál meer begin drink. Kosie, haar man van nou reeds 34 jaar, het op die familieplaas by De Doorns geboer en Hannelie was biologie-onderwyseres op die dorp. Tussendeur het sy spyseniering gedoen.

Soms het sy en Kosie saans ná werk ’n drankie geniet, maar mettertyd wou Hannelie elke aand wyn, whisky of brandewyn drink. “Ek het elke laatmiddag self vir my drank geskink, minstens twee glase, en wanneer Kosie tuisgekom het, het ek aangedring dat hy vir my nog skink. Kosie was bekommerd en het gewaarsku ek moet afskaal, maar ek het my nie aan hom gesteur nie.

“Teen 40 het alkohol my brein oorheers. Soggens met opstaantyd het ek net daaraan gedink. Ek het heeltyd planne beraam om skelm te drink en het my drank weggesteek. In my klerekas, my klomp pare winterstewels, die motorhuis, in my motor. Meestal witwyn, sider en whisky.

“Wanneer ek ons drie tieners op kosskool in die Paarl vir naweke of vakansies gaan haal het, was ek darem meestal nugter. Maar mense kon agterkom ek drink. My oë was rooi en hoewel ek baie maer was, was my gesig opgeswel.”

Op ’n dag het die kinders in haar klas haar drankasem geruik en een het die skoolhoof gaan vertel. Hy was baie simpatiek en het Hannelie huis toe gestuur met die waarskuwing dat sy nie weer in so ’n toestand skool toe mag kom nie. Maar sy hét, en hierdie keer het die hoof gesê sy moet vir ’n kwartaal verlof neem en professionele hulp kry.

“My drinkery het my huwelik laat agteruitgaan. Ek het ontken my drankprobleem was die oorsaak van my en Kosie se moeilikheid, ek het hóm voorgehou as die oorsaak vir my drinkery. Hy het my dan ‘vals beskuldig’ dat ek te veel drink. Ek het dit eenvoudig meer gedoen om tydelik van Kosie, my ‘probleem’, te ontvlug. Die rebel in my het losgekom. Ek was ook óp van perform. Moeg vir ma wees, sat van my kinders perfek probeer grootmaak.”

Net soos die skoolhoof, asook ’n vriendin, het Kosie Hannelie probeer oorreed om professionele hulp te kry, maar sy het bly weier. Hy het naderhand gehoop hy sou haar tot haar sinne skud deur haar om ’n egskeiding te dagvaar.

“Dit het net mooi die teenoorgestelde uitwerking gehad. Ek was woedend en het gesê as hy my dan nie meer wil hê nie, moet hy my maar los. Hy het later besef sy eis gaan my steeds nie laat ophou drink nie en het die dagvaarding teruggetrek.”

Saam met twee vennote het Kosie ’n beesplaas in Mosambiek op die been gebring en tussendeur het hy gereeld huis toe gekom. “Dit was nog altyd sy droom om iewers in Afrika ’n boerderyprojek te begin, maar in my hart het ek geweet hy vlug eintlik van my drinkery. Ook dít het my nóg meer laat drink.”

Hannelie se familie en vriende het aanhou smeek dat sy professionele hulp kry, maar nog talle krisisse sou eers opduik voordat sy eindelik aan haarself sou erken sy is haar enigste struikelblok. “Daar was die dag toe ek my twee dogters in die Paarl gaan haal het vir aanlegtoetse by die Universiteit Stellenbosch. Terwyl hulle daarmee besig was, het ek twee bottels wyn gaan koop en dit gepolish. Tydens middagete het hulle agtergekom ek het gedrink en toe ek hulle weer aflaai vir hul verdere toetse, het hulle my motorsleutels afgevat.

“Maar ek het spaarsleutels in my handsak gehad en in my dronkenskap teruggery dorp toe. By ’n sirkel het ek in ’n student se motor vasgery. Ek het nie stilgehou nie, eenvoudig aangery. Die polisie het my agtervolg en van die pad getrek. Hulle was baie simpatiek en het my na ons vakansiewoonstel in die Strand geneem waar ek toe gebly het terwyl Kosie in Mosambiek was. “Gelukkig is my alkoholvlak nie getoets nie.”

’n Ander keer het Hannelie tot laataand saam met ’n vriendin in ’n restaurant op Somerset-Wes gekuier en, soos gewoonlik, te veel gedrink. “Ek was dapper genoeg om weer agter die stuur in te klim. By ’n draai op die dorp het ek reguit aangery, teen ’n chevronbord vas, en die motor het op Woolworths se voorstoep beland. “Ons koppe het met ’n slag teen die voorruit gestamp en toe ons bykom, was die polisie en insleepdiens daar. Ek was gelukkig dat my alkoholvlak weer nie getoets is nie en weer het die polisie my na die woonstel geneem.”

Op 47 het sy die keerpunt bereik. “Dit was ’n Saterdagmiddag en ek was rock-bottom. Ek wou nie langer leef nie. “Ek sou my kinders in die Paarl ontmoet, maar het eerder twee bottels drank saam met al wat ’n beskikbare pil is gedrink en daarna op my bed gaan lê. Die kinders het onraad vermoed toe ek nie vir ons afspraak opdaag nie en het Strand toe gejaag. My seun en ’n vriend het by die woonstel ingebreek. Hulle het my, bewusteloos, in ’n trollie van die woonstelkompleks gelaai, na die motor gestoot en met my hospitaal toe gejaag.

“Toe ek bykom, my dogters langs my hospitaalbed met hartseer in hul oë, het ek my geskaam. Hoe kón ek dit aan my mense doen? Net daar het ek erken ek sou onmiddellik professionele hulp móét aanvaar.” Hannelie was daarna oor ’n tydperk van twee jaar by rehabilitasiesentrums en het ook by Alkoholiste Anoniem (die AA) aangesluit. Dit was ’n stryd, met herhalings van opstaan, val en weer opstaan.

“Tydens jou onttrekking aan drank sweet jy intens, jy bewe, jy kry stuipe en boonop gryp depressie jou. Dan wil jy drink om hierdie simptome te verlig. Dis soos om duisende flikkerende liggies in jou brein te hê wat nie behoorlik werk nie. Soms brand die liggies, net om dan af te skakel. Dit het my brein etlike maande geneem om van die skok van my misbruik van en onttrekking aan drank te herstel.”

Intussen het ’n psigiater Hannelie met bipolêre gemoedstoornis gediagnoseer en met die regte medikasie begin behandel. Nog ’n steunpilaar tydens haar herstel was Pierre Louw, ’n terapeut van Scienza. Dit is ’n intensiewe buitepasiënt-behandelingsprogram vir middelmisbruik.

“Hy het my gesin by my behandeling betrek. Kosie en die kinders het besef dis nie hul skuld dat alkohol my baas is nie. Dat hulle nie my siekte kon beheer of my gesond kon maak nie. Ek alleen sou die sleutel wees tot my herstel.

“My gesin het met groot simpatie gesprekke met my gevoer wanneer ek (redelik) nugter was. Hulle het my vertel wat ek in my dronkenskap aangevang het, want meestal kon ek nie onthou hoe ek opgetree het nie en het ek nie die impak van my drinkery besef nie. My mense het geleer hulle moet my nie konfronteer wanneer ek ‘moeilik’ is nie.”

Haar familie, vriende en kinders wat haar so ondersteun het, was ook die groot rede hoekom sy uiteindelik deurgedruk het ... “En natuurlik my Hemelse Vader wat my met sy onvoorwaardelike liefde en genade ’n tweede kans gegee het.”

Hannelie het tydens haar herstelpad vriende verloor. ’n Voorwaarde was dat sy afstand doen van mense wat nie verstaan dat hulle nie voor haar moet drink nie. “Jy bly veg jou lewe lank teen alkohol, selfs al is jy ‘skoon’. Sou ek vandag een glas wyn drink, is dit tickets. Ek sal die hel van alkoholisme van voor af beleef. En dít sal ek nie aan myself of my mense doen nie.”

Deesdae woon sy en Kosie op Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap, waar sy “tien honde uit ’n bos kook” en begin skilder het. Sy help ook vir Kosie, ’n bestuurder van Henties, om die maatskappy se vrugtesappe te versprei.

“Ek is dankbaar vir my mense en die bystand van kundiges. Dankbaar om vandag te kan weet ek het nie alkohol nodig om gelukkig te wees nie.”

 Hanneke, Alna, Kosie, Hannelie se man, Hannelie e
Hanneke, Alna, Kosie, Hannelie se man, Hannelie en hul seun, Kobus FOTO LINDI KOEKEMOER
Hannelie en Kobus.
Hannelie en Kobus
Kosie en Hannelie.
Kosie en Hannelie FOTO LINDI KOEKEMOER
 Hannelie en haar dogters, Hanneke (middel) en Aln
Hannelie en haar dogters, Hanneke (middel) en Alna. FOTO LINDI KOEKEMOER

KOSIE, HANNELIE SE MAN
Alkoholisme is ’n siekte, net soos kanker en depressie. Daarom is daar ook terapie en medikasie wat kan help. Toe Hannelie die dag professionele hulp gaan vra het, het sy een van die grootste besluite in haar lewe geneem. Wanneer die lewe soms druk, is sý deesdae die een wat my en die kinders moed inpraat. 
KOBUS, 32, ONDERWYSER
Ek het tou opgegooi, gefrustreerd geraak om my ma aanhoudend te smeek om op te hou drink. Maar met ’n psigiater se hulp het ek besef dit help nie om vir haar kwaad te wees nie, ook nie om met ’n verslaafde te redeneer nie. Ek is dankbaar vir my pa, wat besluit het om by my ma te staan. En vir my ma, wat aanhou baklei het vir haar en ons genesing. 
HANNEKE, 30, ONDERWYSERES
Ek het my ma terug. As tiener was ek onseker of sy altyd vir my daar sou wees wanneer ek haar die nodigste gehad het. Maar ek het besef nogtans sou dit nie my ma se skuld wees as ek verkeerde besluite sou neem nie. Ek is dankbaar ek het liefde gekies.
ALNA, 27, AKTUARIS
Die seer van die verlede is verby. My ma het dit reggekry om swakheid en menslikheid te erken en om bo haar omstandighede uit te styg. Ek is trots om haar Mamma te noem.

KONTAK: 

Alkoholisme Anoniem se hulplyn 24/7: 0861 435 722

Pierre Louw, Scienza: 083 283 5278