Die wêreldpandemie het een ding gewys: Die mensdom is kreatief! Met ons rug teen die muur maak ons ’n plan, dan nog een en nóg een. Soos ’n dief in die nag het Covid-19 toegeslaan. Oral probeer mense sin maak van die “nuwe normaal” – wel, minstens totdat ’n entstof teen die virus gevind word. Dit laat ons by tye moedeloos, selfs reddeloos voel. Maar ook verstom oor mense se vindingrykheid om in ongekarteerde water aan te pas. By die werkplek, as ouers, hoe ons onsself vermaak en weer ’n pad vorentoe vind.

Aanlyn vergaderings oor Skype en die Zoom-platform gedy. Ons corona-voos emosies word getroos deur virtuele kore soos dié van die Roedean-meisieskool wat “Hallelujah” sing onder leiding van Ralf Schmitt, ook koorleier van die bekende Ndlovu-jeugkoor. En die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO) se spesiale videoreeks, met onder meer ’n virtuele opname van Nkosi Sikelel’ iAfrika onder die dirigent Bernhard Gueller. In ’n eerste vir die Atterburyteater in Pretoria word ’n musiekkonsert met gunstelinge soos Amanda Strydom, Theuns Jordaan en Corlea Botha regstreeks gestroom en mensewêreldwyd kan inskakel.

Lede van die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO) hou 'n virtuele konsert tydens die inperking. Dit is op Youtube uitgesaai. FOTO Youtube Skermgreep

Ek en jy kan die wêreld bereis vanuit ons leunstoel. Sportgeesdriftiges neemdeel aan Suid-Afrika se eerste virtuele marathon, die FutureLife Bambelelauitdaging (Zoeloe vir bly sterk), en samel terselfdertyd geld in vir die Hillcrest-vigssentrum in KwaZulu-Natal. Ons kry kalmte deur aanlyn meditasiesessies. En as jy sukkel met bedsake, skype ’n seksuoloog.

Annemie Lombard, webredakteur van SARIE.com, vertel hoe daar in die eerste week van die nasionale inperking aan vier bykomende webtuistes begin bou is: Gesonder met SARIE, Draf dit af met SARIE, Slimmer met SARIE en SARIE Besigbly-&-Mooimaak-gids 1, 2, 3 en 4. Kosredakteur Herman Lensing het self video’s begin verfilm en redigeer uit sy eie kombuis. “Wêreldwyd het internetgebruik tydens die inperking die hoogte in geskiet, ook op SARIE.com,” sê Annemie.

In dié surrealistiese tye lees ons van Libanese studente se doeltreffende “wetenskapfiksie-pret”. Op Moedersdag in die kusstad Jounieh lewer hulle ’n roos per hommeltuig af vir ’n ma wat hoog op ’n woonstelbalkon staan (euronews.com). Wat sou die Franse wetenskapfiksieskrywer Jules Verne hiervan gesê het?

Ek self kry my eerste uitnodiging om aanlyn die aankondiging van die wenners van die US Woordfees op Facebook by te woon. En ’n pêl uit Australië beskryf ’n “virtuele aandete”: Twee egpare, in onderskeidelik Sydney en Wellington, “kuier” vanuit hul eie huis by mekaar terwyl hulle dieselfde spyskaart (Suid-Afrikaans, nogal kompleet met ’n steurgarnaalkelkie, bobotie, geelrys en melktert) kook, wyn drink en musiek luister.

Maar aanlyn is nie die enigste uitweg nie. Annien Smith, ’n smulpaap van Durbanville, het per WhatsApp kos bestel by die egpaar Kirstein, wat een keer per week ’n warm gekookte ete by´ haar huis kom aflewer het.

Volgens dr. Marié-Luce Vogel, buitengewone navorsingswetenskaplike verbonde aan die TRADE-navorsingseenheid aan die Noordwes-Universiteit, is dit goed dat mense soveel maniere gevind het om sin te maak van al die nuwe eise. Maar sy waarsku dat ons nog geen idee het hoe die toekoms gaan lyk nie. Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het byvoorbeeld reeds voorspel dat die Groot Grendeltyd-resessie die ergste in byna ’n eeu gaan wees en dat die wêreldekonomie in 2020 met 3% sal krimp. Die herstel sal moeiliker en langer wees indien ’n tweede of derde infeksievlaag ondervind word. Dr. Vogel meen die vaardighede wat ons nou benut, is juis dié wat nodig is om in die digitale toekoms, of vierde nywerheidsrevolusie, te oorleef. “Ons moet nou kreatiewe denke slyp, asook selfdissipline, analitiese denke, aanpasbaarheid en sterk leierskap. Tegnologiese vaardighede moet ook voortdurend verbeter word.”

Ons moenie die verlede idealiseer nie, sê sy, maar eerder uitsien na die toekoms. “Beskou dit as ’n geleentheid om nuwe tekeninge op ’n skoon vel papier te maak. Ons durf nie terugkeer na wat was nie, want dit was reeds ’n omgewings- en klimaatskatastrofe en daar was soveel ongelykheid op aarde. Nou is juis die tyd om stil te word en te besin oor wat ons werklik vir onsself en die aarde vorentoe begeer. “Dit blyk dat soepelheid van denke, die vermoë om verandering te omarm en aan te pas en saam met veranderde en veranderende omgewings te ontwikkel, soos planmakers reeds doen, nou ons redding is.”

Bereis die wêreld vanuit jou leunstoel

Klik met jou muis en sien die wêreld – hoe lekker is dit nie om in van die bekendste museums, soos die Louvre in Parys, of die natuur rond te loop nie. Virtuele reise is groot. (Klik hier vir ’n toer.)

Lindsay Hendricks, opvoedkundige koördineerder van die Norval-stigting in die Kaap, sê tydens die inperking het hulle heelparty inisiatiewe vir kinders en volwassenes aangebied, soos die #60SecondsArt – ’n reeks digitale kunsstories met vertellings oor kunstenaars en kunswerke. Jy kon selfs jou kinders en jouself besig hou deur aanlyn by norvalfoundation.org/virtualtour/ rond te loop.

Kunsliefhebbers is ook genooi om ’n glasie te klink op die 25ste verjaardagviering van die Rossouw Modernkunsgalery (rossouwmodern.com) op Hermanus en hulle op Facebook en Instagram te volg.

By die Fugardteater in Kaapstad is die moeilike besluit geneem om alle vertonings vir 2020 te kanselleer. Die aanlyn digitale platform The Fugard at Home is intussen bekend gestel, wat teatergangers nuwe prikkelende opsies sal gee in dié swaar tye.

Leonie Dyamond, pilates-instrukteur en ’n planmaker van Kaapstad, sê: “Ek dink gesinne gaan mekaar al hoe meer bystaan om ’n wyer basis van inkomste te genereer.” Sy vertel sy het haar kinders, Wayne Dyamond, ’n elektroniese ingenieur, en Selby Stapelberg, ’n bedryfsingenieur, se kundigheid ingespan met die tegniese implementering van haar aanlyn aanwesigheid. Haar vriend, vryskutfotograaf Stephen Fourie, doen die fotografie en redigering van haar video’s. “Ek en Stephen praat gereeld oor wat is genoeg. Post-corona sal ons ons verwagtinge moet verlaag. Ons maak dalk minder geld as ’n jaar gelede, maar ons kan kos koop en ons debietorders betaal. Mense gaan langer moet werk en dalk nie soveel kan reis of koop nie, maar ons gaan hopelik minder selfsugtig wees en omgee vir ander se behoeftes.”

Annemie sê: “Die digitale migrasie sou miskien geleidelik oor die volgende vyf jaar plaasgevind het, maar weens die pandemie het baie besighede, handelsmerke en individue nou hul voete binne dae aanlyn gevind.” Soos ’n vriendin van my altyd sê: “When the going gets tough, the tough gets pro.”

Eleganter dalk is dié woorde van die Amerikaanse skrywer Susan Elizabeth Phillips: “Hoe graag ons ook al wil, ons kan ons nie teen alles beskerm nie. As ons die lewe wil omarm, sluit dit chaos in."

Planmakers met wie SARIE gesels het, het die volgende gedeel.

“Die aanlyn oefenklas met toiletrolle was ’n treffer.”
Leonie Dyamond, pilates-instrukteur van Kaapstad

Leonie Dyamond tydens een van haar aanlyn pilatesklasse met rolle toiletpapier as "rekwisiete". FOTO Stephen Fourie

Sy is dankbaar dat sy gedwing is om ’n aanlyn teenwoordigheid te hê, vertel Leonie.

“Gelukkig het 75 persent van my kliënte aanlyn pakkette teen R440 per maand per gesin gekoop. Vir mense wat gewoonlik twee keer per week oefen, is dit ’n besparing van 50 persent en waar meer as een lid van ’n gesin by my oefen, het ek slegs een bedrag gevra en die hele gesin kry toegang.” Sowat tien persent van haar kliënte het egter al kennis gegee weens geldnood.

Aanvanklik wou sy nie soseer wins maak nie, maar mense tegemoetkom omdat hulle ontredderd was. En met dié aanlyn opsie verdien sy die nodige. “Ek mis wel die grappies, geklets en deel van die regte klasse. Die ideaal is om die meer persoonlike klasse en aanlyn platform saam te bedryf.”

Van haar kliënte sê die aanlyn oefening help hulle om emosioneel te oorleef in dié swaar tye. Sy het doelbewus pret probeer inbou en gebruik “rekwisiete” soos toiletpapier, handdoeke, ’n pilatesbal en gordels. Die toiletpapier-oefenprogramme (sy hou ’n rol in elke hand en gebruik dit byvoorbeeld as stut om teen te leun) was baie gewild, vertel sy.

Daar is elke week ook prettige oefeninge vir kinders en ’n stel bonusoefeninge vir dié wat hou van uitdagings. Die doel is om die hele gesin soepel en fiks te hou en stres te verminder. Selfs haar 80-jarige pa, prof. Wynand Dreyer van Sedgefield, oefen daagliks saam.

leoniedyamond@gmail.com

“Ek kan kuns in isolasie doen.”
Anna Davel, sangeres

Anna Davel FOTO Phyllis Green

Kort nadat die inperking aangekondig is, het Anna regstreeks op Facebook ’n huiskonsert vir haar getroue aanhangers gehou. Net soos die pianis Charl du Plessis en sangeres-liedjieskrywer Laurinda Hofmeyr. Om dankie te sê vir hul jare lange lojaliteit.

Anna het vanjaar die eerste keer in 25 jaar nie by die KKNK op Oudtshoorn opgetree nie omdat die fees weens die pandemie afgestel is, iets waaroor sy baie hartseer was. “Ek dink nie aanlyn konserte is die antwoord nie, maar dit is nou ’n troos. Niks kom by die onmiddellikheid van die teater nie.”

Sy was ook betrokke by KloekKamer, ’n YouTube-program vir kleuters met ’n poppekas, stories, liedjies en beweging wat ma’s gehelp het om hul kleingoed besig te hou. Een episode per week, sonder vergoeding.

Anna sê filosofies sang is haar talent en sy wil nie bloot wins daaruit maak nie, maar ook mense se lewe verryk.

Een van die sangeres Anna Davel se kunswerke, waaruit sy nou 'n inkomste verdien. FOTO Verskaf

Tot tyd en wyl sy weer kan optree, wil sy geld uit haar kunswerke verdien. “Ek hou van gemengde media, meestal pastelle, waterverf, ink, akriel. Ek het al ’n hele paar opdragwerke van vriende en familie wat my besig hou.” Sy skilder nog altyd, maar musiek het haar tot nou toe so besig gehou dat sy nie daarvoor tyd gehad het nie. “Kuns is baie soos musiekmaak. Daar is elemente wat jy in ’n komposisie organiseer, kleure, tekstuur, lyne, kontras, lig, donker, hard, sag.”

Anna vertel opgewonde van ’n oudiovisuele kunsprojek op sosiale media, Stuur vir my jou woorde. Die kunstenaar Lizanne Barnard het haar genooi om tien kunswerke vir gedigte van die publiek te skep wat Lizanne getoonset het. Dit is verpak in ’n konsert op YouTube en ’n week lank is Anna se kunswerke op Facebook opgeveil. Dié inkomste is nou manna omdat sy die res van die jaar geen konserte sal kan gee nie.

annadavel.com, info@annadavel.com

“Aanlyn meditasie ’n wêreld wat oopgaan.”
Johann van Greunen, gesondheidsberader en reiki-meester van Kaapstad

Gesondheidsberader en reiki-meester Johann van Greunen FOTO Verskaf

Voorheen was hy katvoet vir tegnologie, maar Johann het dit blitsig – danksy “die engele van tegnologie” – bemeester. “As tuiswerker moes ek blitsvinnig geld genereer.”

Hy het besef mense het meer as ooit meditasie, kalmte, insig en emosionele helderheid nodig om kreatief oor die toekoms te dink. Nou ontmoet sy Woensdagaand-aanhuis-meditasiegroep om 19:00 aanlyn, danksy Zoom. “Sodra almal ingeskakel en mekaar gegroet het, skakel hulle die beeld en klank af sodat elkeen in stilte mediteer onder my leiding.”

As mense belangstel in die Woensdagaandsessie, kan hulle bespreek, dan stuur hy die skakel en hulle klik daarop. Hulle hoef nie die Zoom-toepassing af te laai nie. Die ander opsie is sessies per WhatsApp-video. Een van sy lede het sowaar vir haar skoonma op Bredasdorp een van dié meditasie-pakkette vir haar verjaardag gekoop.

Meditasieklasse vir groepe via Zoom en individuele WhatsApp-videosessies is R100 per klas/sessie. ’n Pakket van vyf sessies, geldig vir twee maande, kos R400. Aanlyn berading op albei platforms kos R700 per uur.

Johann sê hy is verstom oor die goeie terugvoering en mal oor die nuwe wêreld van tegnologie wat vir hom oopgegaan het.

johann@johannvangreunen.co.za

“Kliënte skype oor bedsake.”
Dr. Marelize Swart, seksuoloog en sielkundige

Seksuoloog en sielkundige dr. Marelize Swart FOTO Verskaf

Min mense het privaatheid tydens kwarantyn, maar dr. Marelize Swart is besig. Soms word sy selfs uit die badkamer, motorhuis of motor geskype. “Baie mense sukkel deesdae met stres weens werksonsekerheid en gepaardgaande finansiële implikasies. Sedert die aanbreek van die corona-era is daar meer angstigheid en depressive asook kajuitkoors. Verhoudingsprobleme skuif dikwels oor na die slaapkamer.” ’n Groot voordeel van aanlyn terapie, veral met bedsake, is dat die skerm tussen haar en die kliënt gesels vergemaklik, meen sy.

info@drmswart.co.za

“Kospakkies op jou voorstoep.”
’n Kombinasie van persoonlike diens en tegnologie is die suksesresep van Karen en André Kirstein van Ankar Vleis & Biltong in Belville.

Karen en André Kirstein FOTO Verskaf

Hulle het sowat 90% van hul inkomste weens die coronavirus verloor.

Gewoonlik verwerk en lewer hulle vleis en biltong aan klante en die Ankar Boerekok in Boston en verskaf wegneem-etes. Maar nood leer bid, sê Karen. Nou neem hulle kos na hul getroue klante met ’n kostrokkie. Hul ouditeur het ’n paar uur ná die inperkingafkondiging ’n permit gereël, vertel sy dankbaar. Die egpaar kook saam en hul seun, André, wat tuis woon, help. Hulle voorsien elke dag dertig etes soos wortelbredie, lasagne of burgers en oor naweke ook nog sowat veertig pizzas. Hulle help ook gratis om kos af te lewer by ouetehuise.

Die weeklikse spyskaarte word per WhatsApp uitgestuur, waarna klante hul bestellings plaas en elektronies betaal omdat niemand aan geld wil vat nie. Hulle lewer die bestelling dan netjies, veilig, op ’n afstand op die voorstoep af. “Ek is ongelooflik higiënies en al die bestanddele word deeglik gereinig en ons was gereeld hande,” vertel Karen. “Dis baie harde werk, van vroegdag tot saans om tien, maar dit hou ons aan die lewe en ons is diep dankbaar,” sê die Kirsteins.

079 691 6851

Twee enkellopers tydens kwarantyn laat hoor

Vir Carin Smith, ’n enkelloper van Seepunt en inhoudsvervaardiger by Fin24, was een van haar hoogtepunte ’n aanlyn kuier een Sondag by Nataniël (teen R50 by optog.co.za). “Hy het ’n uur lank vrae beantwoord wat vooraf deur mense soos die sangers Patricia Lewis, Jak de Priester en SARIEredakteur Michélle van Breda op video ingestuur is. Daar was selfs ’n vrou wat gevra het of sy eendag by hom kan kom eet. Hy is so vermaaklik en inspirerend. Dit was soos om in sy huis te sit en kuier.”

Haar sus, Annien Smith, van Durbanville, ook ’n enkelloper, vertel sy het in dié tye op Zoom lagklasse met haar lagfasiliteerder Charmaine Sparrow bygewoon. “Dit is groot pret en verminder stres.” Sy het ook na SA Michelinsjef Jan Hendrik van der Westhuizen se regstreekse Instagramsessies gekyk waar hy met inspirerende mense gesels het. Onlangs het sy die komponis en impresario Andrew Lloyd Webber se regstreekse uitsendings op Facebook begin volg. Haar lys aanlyn aktiwiteite is so lank (en opbouend) soos die 13de-eeuse digter Rumi se aanhalings.

“’n Ander gunsteling is Gary Barlow, jare gelede in die seunsgroep Take That, waarin Robbie Williams ook eens was. Gary het elke dag ’n treffer vertolk op Facebook Live. Aan die een kant van die skerm is hy, en aan die ander kant ’n ander bekende. Ek was mal oor sy optrede saam met die Walliese operaster Katherine Jenkins.”