Stel ’n begroting op

    • Stel ’n begroting op en hou daarby – maak nie saak of dit groot of klein is nie. Doen jou navorsing goed om te keer dat jy ’n kat in die sak koop.
    • Gooi jou kultuur by die venster uit. Verbeel jou jy doen inkopies in Marrakesj in Marokko, waar jy oor álles onderhandel. Veral waar jy die onthaalplek se kos en drank gebruik, sal hulle moontlik vir jou afslag op die verhuringsfooi gee.
    • Bestee jou geld aan die belangrike dinge – ’n strik agter ’n stoel in ’n lokaal met dowwe ligte is nie werklik nodig nie.
    • Probeer om nie kompeterend te dink nie. Jy hoef nie by die Van der Merwes kers vas te hou nie. Doen net wat jou en jou toekomstige eggenoot gelukkig maak – en jul sak pas!

    Die rok

    • Kies eerder materiaal sonder kraletjies. Dis gewoonlik duur en beïnvloed die maakloon. Borduursels op ’n rok beteken ook meer werk.
    • Verruil egte sy vir ’n generiese alternatief. Jou gaste sal nie die verskil sien nie!
    • Materiaal vir ’n rok met valle lyk na ’n goedkoper opsie, aangesien sagte lap soos tulle, fyn gaasstof (voile) of sekere soorte chiffon minder kos. Maar onthou, ’n rok met baie valle het baie materiaal nodig!
    • Jy kan jou rok se prys min of meer só bereken: Neem die prys van jou materiaal (wat die garing en voering insluit) en vermenigvuldig met tussen 3 tot 6, na gelang van hoe arbeidsintensief die maak van die rok gaan wees. Onthou net, ontwerpers se tariewe verskil ook.


    Die gaste

    • Nooi minder gaste sodat jy die troue kan hou wat jou hart begeer. Nooi net daardie mense wat jy regtig by jou troue wil hê en wat nog ’n lang pad saam met jou en jou eggenoot gaan stap.
    • Mense dink dis goedkoper om in die winter te trou. Dink mooi hieroor. In die winter moet jy sorg dat jou gaste warm en droog is. Boonop moet jou spyskaart groter wees, want mense eet meer om die koue te verdryf!
    • Span jou vriende in om te help, maar moet hulle nie misbruik nie.
    • Huur diensverskaffers wat opreg is. ’n Bekende naam is dalk net agter die volgende tjek aan, terwyl ’n onbekende persoon baie gretig kan wees om ’n goeie diens teen ’n billike prys te lewer. Loop nogtans lig vir mense sonder ervaring.
    • Huur diensverskaffers wat multi-talentvol is. ’n Spysenier moet kennis van blomme en dekor hê sodat die kos daarby kan aansluit. ’n Goeie diensverskaffer is ook ’n goeie wegspringplek om kontakbesonderhede van ander diensverskaffers te kry.


    Grimering en hare

    • As jou grimeerkunstenaar en haarstilis op die groot dag na jou toe kom, spaar dit tyd en ongerief.
    • Probeer een persoon kry wat jou hare én grimering doen om vervoerkoste te verminder.
    • Vra afslag of ’n spesiale pakket as jy ’n groot gevolg het.
    • Kyk hoe die grimeerkunstenaar haarself grimeer voordat jy haar dienste huur. As jou styl met hare ooreenstem, hoef jy nie geld en tyd op oefenlopies te mors nie.
    • Jy kan natuurlik self jou grimering doen en só geld spaar. Gaan voor die tyd vir ’n grimeerklas by ’n goeie grimeerkunstenaar. Dan leer jy ook iets wat jy ’n leeftyd sal kan gebruik.
    • Versamel foto’s van trouhaarstyle waarvan jy hou. Baiekeer het bruide ’n tannie of vriendin wat goed is met hare. Oefen net voor die tyd om jou hare perfek te kry!


    Blomme

    • Gebruik wat in die huis is – vra bv. jou ouma, ma en tannie vir oulike potjies en houers. Dit werk veral goed met die vintagetema, wat nog hoogmode is.
    • Kies eerder inheemse blomme as ’n soort wat ingevoer moet word. Plante soos woestynrosies kan jy ook maklik uit jou eie tuin kry.
    • Deesdae hoef jy nie meer ’n ton blomme te koop nie – less is more. Speel eerder met verskillende hoogtes – langsteelblomme in lang vase kan afgewissel word met korter blomme in breër potte.


    Fotograwe

    • Met fotograwe is goedkoop duurkoop, en jy kan nie ’n waarde aan jou troufoto’s heg nie! Onthou, jy betaal nie net vir die foto’s nie, maar vir ondervinding en ’n professionele diens.
    • Dit beteken nie jy kan nie spaar nie.
    • Kyk na portefeuljes. Gaan terug en kyk weer. Maak seker die persoon weet wat hy of sy doen.
    • Jy hoef nie dadelik al die ekstras te bestel nie. Kies die pakket wat jou sak pas. Jy kan later as jy meer geld het, die koffietafelboek laat druk.
    • Vra afslag. Soek iemand binne jou prysklas van wie se werk jy hou en hoor of hy of sy nie dalk die prys kan verlaag nie. As jy ’n goeie fotograaf het, hoef jou onthaalplek nie noodwendig ’n lieflike uitsig te hê nie. Die grootste deel van die onthaal vind in elk geval gewoonlik binne plaas.


    Onthaalplek

    • Doen baie navorsing voor jy 'n onthaalplek bespreek. Maak 'n lys met die pryse sodat jy 'n goeie aanduiding kan kry oor hoeveel venues kos.
    • Kyk mooi na verskuilde kostes en klein elemente soos dekor. Hoe lyk die tafels en stoele? Gaan jy jou eie moet huur of by jou dekor te pas? Hoeveel kos die drank?
    • Baie mense dink dat onthaalplekke op die platteland dikwels goedkoper is. Dink weer. Veral in die Wes-Kaap is die plekke dikwels net soos duur soos venues naby die stad. Neem ook in ag dat jou gaste en verskaffers ver gaan moet ry en oornagblyplek moet bespreek. 
    • Soek onthaalplekke wat nie noodwendig gefokus is op troues nie, en wanneer jy navraag doen, moet nie spesifiseer dat dit 'n troue is nie. Dikwels is die kwotasie die helfde van die prys vir 'n familie geleenhteid. Oorweeg dit om jou onthaal by 'n restaurant te hou. Baie restaurante vra nie 'n venue-fooi nie.