Hoogskop in flieks

Stroomop, Susters . . . Sterk vrouekarakters het ons vanjaar na plaaslike fliekteaters gelok, laat lag en ontroer. Stories wat deur vroue gedryf word, is tans gewild. Van die grootste treffers verlede jaar het vroue in die hoofrolle gehad (Star Wars: The Last Jedi, Beauty and the Beast en Wonder Woman). En sulke flieks vaar góéd by die loket, sê Madeline di Nonno van die Geena Davis Institute on Gender in Media in die dagblad The Guardian.

Dalk ’n rede vir die tendens om ou gunstelinge weer op te dis – met ’n kinkel: Vroue in die rolle wat oorspronklik deur mans gevul is. Ghostbusters het daarmee afgeskop en vanjaar het ons Ocean’s 8, met onder andere Sandra Bullock en Anne Hathaway, gesien. Lord of the Flies met vroue word tans ontwikkel. En laat sosiale media gons: Sit ’n groep vroue op ’n eiland en die afloop gaan waarskynlik baie meer vreedsaam wees, was sommige se mening; watwou moord en doodslag.

In die plek van The Nice Guys, met Ryan Gosling en Russell Crowe, word The Nice Girls beplan. Ongelukkig het al vier flieks mans aan die roer: as vervaardigers, skrywers en regisseurs. Vroue kán immers, soos die allemintige sukses van Patty Jenkins se Wonder Woman wys. Wonder Woman 2, weer met haar as regisseur, word in die tweede helfte van 2019 uitgereik.

Nog ’n ongewone rol-ommeswaai: ’n Nuwe weergawe van Splash word beplan, met Channing Tatum in die rol van die meermin. Magic Mike, die grootste deel van die fliek sonder hemp? Dié man is immers gewoond aan vroulike fliekgangers wat hom kwylend aanstaar! Jillian Bell is in die rol van Tom Hanks. Dis verfrissend anders as die 1984-weergawe met sy verouderde siening van vroue: Daryl Hannah se meermin is pragtig, maar het bitter min te sê.

Susters doen dit vir hulself

Wolke toe! Die SAL se eerste buitelandse vlug met ’n span wat uit net vroue bestaan, het in Augustus koers gekies São Paulo, Brasilië, toe. Aan die stuur was kaptein Jane Trembath en eerste offisiere Asnath Mahapa en Annemarie Smit. Ook die grondtegnici en -personeel en kajuitbemanning was vroue, berig www.iol.co.za. Hoog tyd!

Geluk ook aan Donna Strickland van die Universiteit van Waterloo in Kanada, wat vanjaar ’n Nobelprys vir fisika ontvang het – net die derde vrou in die geskiedenis. Sy het gehelp om die lasertegnologie te ontwikkel wat ons vandag vir van laserskandeerders tot oogchirurgie gebruik. Marie Curie (1903) was die eerste ontvanger van die prys en Maria Goeppert-Mayer (1963) die tweede

Hier kom die bruid

Die twee is duidelik versot op mekaar en Meghan en Harry se troue in Mei vanjaar het nie net die Britte op hol gehad nie. Dit het die romantikus in ons almal laat ontwaak – en ’n geskatte twee miljard mense wêreldwyd het na die troue, op TV sowel as die internet, gekyk.

Meghan vertel in die dokkie Queen of the World sy het ’n geheime aandenking van hul eerste afspraak in die ragfyn sluier laat inwerk: ’n Stukkie blou materiaal van die rok wat sy gedra het. Dit was haar tradisionele “iets blou” wat elke bruid op haar troudag moet hê.

Daar heers nou opnuut Harry-Meghan-koors ná die aankondiging dat ’n baba sy/haar opwagting in die Britse lente maak. Die nuus het die troue van Harry se niggie Eugenie oorskadu.

Net nou die dag nog was Harry ’n tingerige rooikoppie aan sy ma se beskermende hand. Die filantropies ingestelde Diana sou trots gewees het op haar jongste, wat met sy humanitêre werk in haar voetspore volg. Dikwels ook kwessies wat haar na aan die hart gelê het. Hy is inderdaad die “mense se prins”, soos sy ma almal se prinses was. “Daar is sy natuurlikheid, gebrek aan pretensie. Sy keuse van ’n bruid pas nie in die koninklike boksie nie,” het Dorianne Weil, sielkundige van Johannesburg, in SARIE se Augustus uitgawe gesê.

Laat daar wees lig

Die verhoor is verby. Christine Blasey Ford het haar waarheid gedeel. Die Republikeinse senators het haar getuienis geïgnoreer dat Brett Kavanaugh haar probeer verkrag het toe hulle nog op hoërskool was.

Ironies, op dieselfde dag wat hy as regter in die Amerikaanse hooggeregshof ingehuldig is, is die Nobelprys vir vrede toegeken aan Nadia Murad, ’n oorlewende van seksuele geweld as seksslaaf van Isis, en Denis Mukwege, wat rekonstruktiewe chirurgie doen op vroue wat in die Demokratiese Republiek van die Kongo verkrag is.

Vanessa (Van) Badham skryf in die Britse dagblad The Guardian oor vroue wêreldwyd se “woede so warm en dik soos lawa”. “Sedert #MeToo en #WhyIDidntReport het so baie mense openlik oor die eens private gruwel van seksuele geweld gepraat, dat die kollektiewe krag daarvan uiteindelik – uiteindelik – die mag van skaamte getroef het.”

Sy skryf oor die sigbare solidariteit van vroue. Almal wat aangerand, vasgevang, verneder en geïntimideer is. Nie geglo is nie. 

Natuurlik is nie alle mans seksuele predatore nie. En nie net vroue slagoffers nie. Scotland Yard, die Londense polisie, ondersoek ses klagte van seksuele aanranding teen die akteur Kevin Spacey, volgens die tydskrif Forbes (forbes.com). Die klaers is almal mans, geraamtes in Kevin se kas wat nooit in die openbaar uit einste kas wou klim nie. Akteur Anthony Rapp, wat eerste gepraat het, was veertien toe Kevin glo seksuele toenadering gesoek het.

Die Italiaanse aktrise Asia Argento, een van die vroeë stemme in die #MeToo-beweging, is nou self in die spervuur. Sy het glo die voormalige kinderakteur Jimmy Bennett geld gegee om stil te bly nadat hy beweer het sy het hom verkrag toe hy net sewentien was. Asia was sjef Anthony Bourdain, wat homself vroeër vanjaar om die lewe gebring het, se vriendin. Praat van ’n traumatiese jaar.

Baie sport(s)

Nou ja, Novak Djokovic het ons hoop op ’n Grand Slam-titel verpletter toe hy Kevin Anderson in die Wimbledon-eindstryd in skoonstelle geklop het. Kevin het drie plekke op die wêreldranglys geklim en was (’n rukkie) in die vyfde plek. (Met die ter perse gaan was hy no. 6.) Vir Raven Klaasen, wie se opmars na die Wimbledon-dubbelspeltitel vir mans met speelmaat Michael Venus in die eindstryd gestuit is, is daar ook drie hoera’s. En vir rolstoelkampioen Kgothatso Montjane wat in die halfeindronde teen Diede de Groot die aftog moes blaas. Sy is die eerste swart Suid-Afrikaanse vrou wat aan die toernooi deelneem.

Gepraat van vroue wat grense aftakel. Nike het in hul “Just do it”- veldtog ’n advertensie gemaak waarin Caster Semenya, Olimpiese gouemedaljewenner en wêreldkampioen in die 800 m, vereer word. Daarin daag sy mense uit wat gal braak oor haar deelname aan vroueatletiek. Dis in minder as drie dae 3,8 miljoen keer op YouTube gekyk, berig Netwerk24.

“Die afgelope tien jaar het sy rekords verbeter, 18 goue medaljes versamel en ’n nuwe generasie atlete geïnspireer om die beste te wees wat hulle kan – op en af van die baan,” sê Nike in ’n verklaring. Omstredenheid oor haar testosteroonvlakke volg Caster sedert sy in 2008 op 17 haar eerste goue medalje by die junior wêreldkampioenskap gewen het. Sy het die video op sosiale media geplaas met die woorde: “Te vinnig? Jammer. Ek is gebore om dit te doen. #JustDoIt”

Caster is vir die SA Sporttoekennings in drie afdelings benoem: Sportvrou van die Jaar, Sportster van die Jaar en die People’s Choice-prys. Sy is ook benoem as die IAAF se Wêreld-vroueatleet van die Jaar. (Die wenners se name was nog nie bekend met die ter perse gaan nie.)

Op nostalgiese noot

My my, how can we resist you . . . ABBA kielie weer die voete, met die opvolgprent Mamma Mia! Here We Go Again wat onlangs in teaters gedraai het. Dis veral die 72-jarige Cher, in die rol van Donna (Meryl Streep) se ma, wat ons monde laat oophang. Lede van ABBA het aan die BBC gesê Cher is “perfek” in die fliek en laat hul musiek soos haar eie klink. Ook dat “Fernando” nou háár liedjie is. Cher het intussen ’n album bekend gestel met treffers van dié Sweedse popgroep. Dit heet gepas Dancing Queen, want dié vrou kry nie end nie. ’n Nuwe geslag super troopers grawe nou Ma (en Ouma) se ou viniel-ABBAplate uit – en hou partytjie dat die dakplate lig.

Van oorwurms gepraat: Bohemian Rhapsody is ’n biografiese fliek oor Queen wat vandeesmaand plaaslik begin draai. Dis ’n viering van die Britse rockgroep, hul musiek en legendariese hoofsanger, Freddie Mercury. Met Rami Malek (TV se Mr. Robot) as Freddie. Wat ’n gedaanteverwisseling, gee die man ’n Oscar!

’n Nuwe baadjie

’n Historiese baken het die tuiste geword van die Kaapstadse Zeitzmuseum vir kontemporêre Afrika-kuns (MOCAA, foto links) – die ou graansilo in die V&A Waterfront wat vernuftig omskep is. Die binnekant is in die vorm van ’n vergrote koringkorrel uitgekerf en die resultaat ’n reeks geboë betonlyne, met lig wat deur die silindriese silo-strukture val. Besoekers kry ’n deursnit-aansig van die binneste werkinge van die ou industriële struktuur, volgens Kaapstad Toerisme (www.capetown.travel). Dit is vanjaar bekroon met die internasionale ArchDaily Building of the Yeartoekenning (www.archdaily.com) as beste kulturele gebou.

’n Kontrapunt vir die Zeitz-museum, dís Gauteng se grootste kunssentrum wat tans op die grense van die Universiteit van Pretoria se Hatfielden Suid-kampus gebou word, skryf Diane de Beer op www.businesslive.co.za. Die Javett-kunssentrum by die Universiteit van Pretoria (JavettUP), só genoem ter ere van die filantropiese skenker, staan wydsbeen oor die besige Lynnwoodweg en maak middel aanstaande jaar sy deure oop. Pieter Mathews, van Mathews en Genote-argitekte, sê dis maklik die uitdagendste projek waaraan sy firma nog gewerk het. Hy het vanjaar die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se prestigeryke erepenning vir visuele kuns (argitektuur) ontvang.

Sterk en vroulik

Rooi en pienk, sáám? Jare lank was dié kleurkombinasie taboe vir modebewustes. Vandag is dit ’n groot gunsteling onder modeontwerpers – dis treffend en laat jou twee keer kyk, sê Amaria Carstens, SARIE se moderedakteur. “Vir my sê dit iets van die vrou wat dit dra. Rooi is sterk en dinamies; pienk girly. Dus ’n sterk, dinamiese vrou wat nie bang is om ook haar sagte, vroulike kant te wys nie.

Strome van seën

Heuglike nuus! Ná die ergste droogte in sowat 300 jaar reën dit lekker en waterbeperkings word in Oktober in die Moederstad verslap. Kaapstad se waterverbruik het van 2016 tot 2018 met byna 55% verminder, sê Elise Tempelhoff, omgewing-spesialisjoernalis by Netwerk24. Vóór die goeie reënseisoen is Kaapstad in 2018 genoem as die eerste wêreldstad waarvan die waterkrane sou opdroog. Hoewel daar heelparty onderlinge struwelinge tussen inwoners en stadsvaders was, het die mense hande gevat en allerlei kreatiewe maniere gebruik om water te herwin. Water is nou die stad se “nuwe goud”. Dag Zero het heel moontlik danksy die samewerking van die gemeenskap nie aangebreek nie. Die inwoners is meer as ooit tevore bewus van die onontbeerlikheid van water. Hulle besef ook nou, in die lig van klimaatsverandering, hoe kwesbaar Kaapstad se waterbronne is en dat dit sekerlik nie die laaste waterkrisis sal wees nie. By ’n onlangse klimaatberaad (Global Climate Action) in Kalifornië is Kaapstad uitgesonder vir die veerkragtigheid waarmee dié waternood hanteer en oorkom is, sê Elise. 

Daar is nog omdraaikans!

530 km in 49 dae. Die lengte van die Engelse kanaal. Lewis Pugh het in Augustus vanjaar van Land’s End in Cornwall tot by Dover geswem – om die wêreldwye Aksie vir Oseane-veldtog af te skop. Die doel van die veldtog is om regerings te versoek om minstens 30% van die aarde se oseane teen 2030 ten volle te beskerm.

Onrusbarend is dat die langafstandswemmer en avonturier die hele tyd feitlik geen wildlewe gesien het nie, behalwe ’n paar voëls en dolfyne en een seeskilpad, volgens sy twiets. Plastiek was daar egter baie: Op elke strand waar hy aangedoen het, van Cornwall tot Kent. Einste hy het vantevore gesê hy het plastiek van die Noord- tot die Suidpool gesien, dus niks nuuts nie.

“Ons het al die vis uit die oseaan geneem en dit met plastiek vervang,” was sy woorde aan Sky News. ’n See van plastiek. Letterlik. Die dwingendheid om ons van ons plastiek afhanklikheid te speen, word beklemtoon met veldtogte soos #beatplasticpollution – dikwels met droewige beeltenisse van die aarde besaai daarmee. Elkeen van ons kan egter met ’n klein leefstylverandering ’n groot impak maak.

Herinner byvoorbeeld jou gunsteling-koffiewinkel of -restaurant gereeld daaraan om nie vir jou ’n plastiekstrooitjie te gee nie. Baie restaurante, koffiewinkels en hotelle oor die land gebruik dit nie meer nie, soos die seekosrestaurant-kettings Ocean Basket en John Dory’s, asook die Tsogo Sun-hotelgroep.

“Die grootste uitdaging is om mense se ingesteldheid te verander, hulle te oortuig hulle kán ’n verskil maak,” het omgewingsaktivis Refilwe Mofokeng van Durban in SARIE se April-uitgawe gesê. “Jy kan dit doen met jou keuses: Telkens wat jy nee sê vir ’n plastiek-inkopiesak, plastiekstrooitjie, polistireenkoppie.”

En dinge kán omgedraai word. Só is daar byvoorbeeld goeie nuus oor die toekoms van die aarde se grootste wesens. Walvisse is drie eeue lank genadeloos gejag en sowat 2 miljoen is uitgewis, maar hul getalle neem weer toe, berig News24.

Dié sukses is grootliks danksy die pogings van die omgewingsbewaringsgroep Greenpeace om kommersiële walvisjag te stop, volgens prof. Ken Findlay, SA mariene bioloog en walviskenner, by die Wêreldwalviskonferensie in Durban. Die organisasie het ’n denkskuif by mense teweeg gebring oor die bewaring van walvisse en ander oseaanspesies.

“Soms, eerder as om omgewingsprobleme met baie geld en inspanning te probeer oplos, is die belangrikste ding om menslike gedrag en denkpatrone te verander,” het hy gesê