Die sakemagnaat Donald Trump, oftewel "The Donald", word vandag as Amerika se 45ste president ingehuldig.

Meer as 900 000 mense word verwag in Washington, waar die inhuldiging plaasvind, en baie van hulle gaan beswaarmakers wees, berig Reuters.

Hier's 5 goed wat jy moet weet:

1. Wie gaan daar wees?

Drie voormalige presidente sal die inhuldiging bywoon: George W. Bush (2004-2008), Jimmy Carter (1977-1981) en Bill Clinton (1993-2001). Bill se vrou, Hilary Clinton, wat teen Trump gestaan het in die presidentsverkiesing, sal ook daar wees, berig The New York Times.

2. Wie gaan optree?

Talle bekendes het geweier om by die inhuldiging op te tree, onder wie sir Elton John, Charlotte Church, die Beach Boys en Jennifer Holliday, berig The Telegraph. Maar die volgende kunstenaars het wel ingestem: die soul-sanger Sam Moore, die rockgroep 3 Doors Down, die dansgroep The Rockettes, die Mormon Tabernacle Choir en die voormalige wenner van America's Got Talent Jackie Evancho.

3. Wat van die Obamas?

Die huidige president van Amerika, Barack Obama, en sy vrou, Michelle, sal ook by die plegtigheid wees. Daarna sal hulle vir oulaas op Air Force One na Kalifornië vlieg, berig Los Angeles Times. Die gesin sal in Palm Springs vakansie hou voordat hulle na hul huurhuis in Washington terugkeer.

4. Wat gaan Trump sê?

Ná die inhuldiging sal Trump sy eerste amptelike toespraak lewer, berig Daily News. Dit sal 20 minute duur, en hy sal waarskynlik praat oor sy visie vir Amerika en wat hy gedurende sy presidentskap wil bereik.

5. Wat van die @POTUS-rekening op Twitter?

Ná vandag sal Trump se administrasie die amptelike Twitter-rekening van die Amerikaanse president oorneem, naamlik @POTUS, oftewel President of the United States. Die rekening het reeds 13,7 miljoen volgers. Obama het sy eie Twitter-rekening met 80,7 miljoen volgers. Al die Obama-administrasie se twiets op @POTUS gaan uitgevee word, berig Recode.

Lees nou

VIDEO: Boer Hennie val hard vir Jacobu

Trou jy in 2017? Dís wat jy moet weet …

5 dinge wat van jou ’n beter kok gaan maak