Charis Labuschagne het met kykNET se uitvoerende hoof, Karen Meiring, by die bekendstelling gesels.

Jy kon al na 'n paar eNuus-uitsendings kyk. Wat dink jy daarvan?
We're getting there
. Dis ongelooflik hoeveel die span in 'n kort tyd kon regkry. Ons vind nog uit waarvan ons kykers hou en nie hou nie en sal aanpassings maak soos die tyd verloop.

Wat beteken eNuus vir kykNET?
Dit maak van ons 'n volspektrum-kanaal. Ons kan nou vir ons kykers 'n volle aanbod van TV-programme gee: Seep, werklikheids- en speletjiesprogramme, drama en nou ook nuus.

kykNET is die kanaal waarop eNuus uitgesaai word, maar eNews, e.tv se 24-uur-nuuskanaal, is die vervaardigers. Hoe voel dit om 'n kuiken vir iemand anders te gee om groot te maak?
Dis vir ons belangrik om 'n goeie produk op die lug te kry. eNews ken die nuusbedryf. Hulle weet wat hulle doen en is goed daarmee. Die verhouding met hulle is lekker en ek sien uit om hierdie handelsmark-uitbreiding saam met hulle te bou.

Sal julle dit ooit oorweeg om eNuus uit te brei met oggend-bulletins?
Dis nou maar eers die begin, maar eNuus kan groei. Ons sal kyk wat die behoefte is. Vir nou neem ons baba-treë, maar ons droom groot.