April is vol vakansiedae en langnaweke. Dít is waarna ons in dié maand kan uitsien.

  • Vrydag, 18 April 2014 – Goeie Vrydag

  • Maandag, 21 April 2014 – Gesinsdag

  • Sondag, 27 April 2014 – Vryheidsdag

  • Maandag, 28 April 2014 – Publieke vakansiedag

  • Dinsdag, 29 April 2014 – Skole vakansiedag

  • Woensdag, 30 April 2014 – Skole vakansiedag

  • Donderdag, 1 Mei 2014 – Werkersdag

  • Vrydag, 2 Mei 2014 – Skole vakansiedag

Wat gaan jy met jou ekstra af-dae doen?

 Resepte vir die pase

Vier Paasnaweek vol vreugde en stil oomblikke in die buitelug. Hier is al die kos en dekor idees wat jy nodig het.

HAAS-NAAMKAARTJIES

As jy meer formeel gaan dek, maak vir jou gaste prettige naamkaartjies. Google Silhouette of rabbits en kies ’n ontwerp na jou smaak. Vergroot of verklein op ’n fotostaatmasjien en knip die ontwerp uit swart papier. Knip 10 x 10 cm-naamkaartjies uit stywe papier, vou dit dubbel en plak ’n hasie op elkeen vas. Skryf die name met ’n wit pen daarop.

ONS PAASTAFEL BY DIE ABSA KKNK

NESSIES VAN LAP

Skeur repe materiaal van so 3 cm breed uit katoenlap. Rol dit liggies om jou hand en trek dit af. Vorm ’n nessie. Plak dit op ’n klein sirkel papier vas om ’n digte bodem te maak.

Steek dit in die tuin weg met ’n paar Paaseiers daarin. Tik ’n Paasboodskap en druk uit op gekleurde papier. Knip in repe uit en rol op, plaas in nessies.

PAASBOLLETJIES

Vir 12-14 bolletjies

• 250 ml warm melk

• 90 g (100 ml) botter, gesmelt

• 1 eier

• 65 g (80 ml) suiker

• 10 g sout

• 10 g kitsgis

• 15 ml fyn kaneel

• 15 ml gemengde speserye

• 500 g (890 ml) koekmeel

• 140 g (250 ml) rosyne

Kruise

• 60 ml meel

• 15 ml olie

• 30 ml water

Glasuursel

Kook saam vir 5 minute:

• 100 ml water

• 50 ml suiker

Verhit oond tot 180 °C. Meng melk, botter, eier, suiker, sout en gis in ’n middelslag-mengbak. Voeg speserye en genoeg meel by tot ’n stywe, kniebare deeg. Knie vir 5 – 8 minute of tot deeg gladde voorkoms het. Laat deeg op ’n warm plek rys tot dubbel die volume, sowat 1 uur.

Voeg rosyne by en knie af tot rosyne ingemeng is. Laat weer rys tot dubbel die volume, sowat 30 – 45 minute.

Verdeel in gholfbalgrootte bolletjies (80 g) en plaas stewig teen mekaar in 'n broodpan. Laat rys tot dubbel die volume, weer sowat 30 – 45 minute.

Kruise: Meng bestanddele vir kruise saam tot stywe pasta. Spuit kruise bo-oor deeg met versiersak. Bak vir 30 – 35 minute tot goudbruin en gaar.

Glasuursel: Verf met glasuursel en laat afkoel. Sit voor met botter.

OORGROOT VISKOEKE

6 porsies

• 400 g witvis van jou keuse, fyngekap

• 3 aartappels, gekook tot sag en

fyngedruk

• 1 ui, fyn gekap

• 2 knoffelhuisies, gekap

• hand vol koljander, gekap

• hand vol basiliekruidblare, gekap

• 1 eiergeel

• 85 g (150 ml) koekmeel

• sout en varsgemaalde swartpeper

Buite-kors

• 2 eiers, liggies geklits

• 140 g (250 ml) koekmeel

• 150 g broodkrummels

• 60 ml olyfolie

• 200 g piekel-uie

• 200 ml tamatieblatjang

Verhit oond tot 180 °C. Meng vis, aartappels, ui, knoffel, koljander en basiliekruid. Voeg eier en meel by en meng goed. Geur goed met sout en swartpeper. Verdeel mengsel in 6 ewe groot balle en druk effens plat.

Buite-kors: Doop koeke in eier, dan in koekmeel en laastens in broodkrummels. Verhit olyfolie tot warm in middelslag-pan en braai koekies sowat 5 minute per kant of tot goudbruin. Plaas in warm oond vir verdere 10 minute of tot gaar. Sit warm voor met piekel-uie en tamatieblatjang.

Kry nóg respete en idees HIER

Nóg vakansiedae vanjaar

  • 16 Junie 2014 - Jeugdag
  • 9 Augustus 2014 - Nasionale Vrouedag
  • 24 September 2014 – Erfenisdag
  • 16 Desember 2014 - Versoeningsdag
  • 25 Desember 2014 - Kersdag
  • 26 Desember 2014 - Welwillendheidsdag