Die meeste sosialemedia-gebruikers deel foto’s van hul kinders aanlyn met vriende en familie. Ander ouers gebruik hul kinders om miljoene volgelinge te lok.

Daar is selfs ’n naam vir die verskynsel van ouers wat gereeld foto’s en video’s van hul kinders deel: “sharenting” – ’n mengsel tussen “parenting” en “share.”

Verlede jaar is in ’n Amerikaanse studie bevind dat 63% van ma’s in die VSA Facebook-gebruikers is, en van hierdie gebruikers deel 97% foto’s van hul kinders, 89% deel statusboodskappe (“status updates”) van hulle, en 46% deel video’s. 

Ouers is egter nou toenemend besig om “sharenting” te heroorweeg. In ’n Britse peiling verlede maand het 57% van ouers aangedui dat hulle nooit foto’s of inligting van hul kinders sal deel nie. 

Hier’s die vernaamste redes waarom mense dink voor hulle deel:

1. Aanlyn = vir ewig. Op sosiale media en die internet voel dit asof alles tydelik en van korte duur is. Wanneer jy egter iets deel en dit versprei, kan hierdie materiaal vir ewig op die web wees. Dit is soos om ’n sak vere uit te skud.

As daar ’n kontroversiële of selfs net snaakse foto van jou kind op die internet is, watter impak kan dit op hul toekomstige beeld, werksgeleenthede en verhoudings hê? Sal jou kinders gelukkig wees met die foto’s wat jy nou vrylik van hulle deel?

Klein Chloe se ma het ’n video van haar op YouTube geplaas. Hierdie video is al meer as 17 miljoen keer gekyk en derduisende meme’s van die video word versprei. Vier jaar later en Chloe is ’n YouTube-ster – of dit nou haar keuse was of nie. 

FOTO: Getty Images

2. Reg op privaatheid en keuse. Party mense deel om etiese redes nie foto’s van hul kinders nie. Kinders word onwillig betrek by ’n aanlyn kultuur waar hulle deur vreemdelinge vergelyk en beoordeel of deur “likes” gekomplimenteer word. Ouers kan kinders in die proses gebruik om hul eie beeld op sosiale media aan te blaas. 

Ashton Kutcher en Mila Kunis het besluit om geen foto’s van hul kinders op sosiale media te deel nie. Die bekende ouerpaar voel hul kinders moet eendag self kan besluit watter foto’s van hulle aanlyn gedeel word. 

“My kinders het ’n reg op privaatheid en ’n private lewe; dit is groter as my reg om foto’s van hulle te deel. Skep jou eie sosialemedia-profiel eerder as om een vir ’n onwillige kind te skep,” het Ashton gesê. 

3. Onregmatige gebruik en veiligheid. Wanneer jy foto’s van jou kinders plaas en die stelling is “public”, dan raak die foto die publiek se eiendom. Die foto’s mag nie vir kommersiële doeleindes soos advertensies gebruik word nie, maar dit kan maklik in ’n artikel geplaas of op ander platforms gedupliseer word. 

Plaaslike bekendes soos Karlien en Bobby van Jaarsveld en die voormalige Mej. Suid-Afrika Rolene Strauss deel selde foto’s van hul kinders op sosiale media. Wanneer hulle wel ’n foto deel, is dit van agter geneem. Bekendes se foto’s kan veral maklik deur die media of aanhangers gebruik word. 

Buiten onregmatige gebruik moet veiligheidsaspekte ook in ag geneem word. Kan iemand toegang kry tot jou kind se persoonlike inligting soos foto’s, ligging, kleuterskool of dagmoeder, ouderdom of gewig? Hierdie besonderhede klink privaat, maar dit is maklik om te kry op ’n Instagram-plasing met die baba se geboorte of deur te kyk na die ouers se “check-ins” op sosiale media of watter skole en dagsorgsentrums se blaaie die ouers op Facebook “like”. Hierdie inligting kan gebruik word vir afpersing, ontvoering en identiteitsdiefstal. 

FOTO: Getty Images

Daar is ’n oplossing:

1. Gaan jou privaatheidstellings na op Facebook. Daar is ’n funksie waarmee jy kan monitor wat vreemdelinge en die publiek op jou Facebook-profiel kan sien. (Gaan op jou rekenaar op Facebook na 'Settings > Timeline and Tagging > Review > View As', of gaan na jou Facebook-profiel en klik die drie kolletjies op jou "cover" foto, of gaan op jou Facebook-app na jou profiel en klik op 'View As' onder jou profielfoto). Alle foto's wat jy op die 'View As'-funksie kan sien is sigbaar vir die publiek. 

Maak seker jy deel foto’s slegs met vriende op Facebook – en kyk dat jy die mense op jou vriendelys vertrou. Jy kan ook foto’s en inligting slegs met “close friends” (klein groepe uitgesoekte vriende en familie) deel. Onthou: Jou profiel- en “cover”-foto is nie privaat nie en die publiek kan dit vir enige iets gebruik.

2. Analiseer die inligting wat jy plaas, soos jou kind se verjaardagpartytjies, ligging, dagmoeder, ens. Dit kan maklik deur misdadigers gebruik word vir bedrog of nog erger – vir ontvoering of afpersing. 

3. Maak seker jou Instagram-profiel is privaat. Vreemdelinge kan maklik ’n skermgreep van jou foto’s neem en dit dan versprei. 

4. Moet nooit foto’s van jou kind of baba deel wat jy nie van jouself sou deel nie. Is die kind in ’n bad? Skree hy blou moord? Kan die video of foto later ’n vernedering vir jou kind wees? Al is dit ’n private foto, kan dit permanent ’n foto in openbare besit op die web raak. 

5. Wanneer jy foto’s of video’s met oumas en oupas, vriende of familie deel wat ook aktiewe Facebook-gebruikers is, moet jy duidelik kommunikeer as hulle nie die foto of video mag aanstuur of oplaai nie. 

6. Oorweeg dit om glad nie foto’s of inligting van jou kinders te plaas nie.