Ontmoet Birgit Kriess, die passievolle bierbrouer by Namibia Breweries, een van die grootste biervervaardigers in Suider-Afrika. Sy is sluk vir sluk besig om die wêreld van bierbrouery te verower. Hier deel sy die uitdagings en vreugdes wat dié beroep bring.  FOTO'S: Eugene Rukoro

Wanneer en hoe het jy besluit om ’n bierbrouer te raak?

Per ongeluk! Ná skool is ek Duitsland toe om veterinêre verpleegkunde te studeer. Maar ná ses maande het ek te veel huis toe verlang en besef ek het die verkeerde beroepskeuse gemaak. ’n Brouer van Namibia Breweries het vir my vertel die maatskappy soek vakleerlinge. Toe ek hoor hoe wonderlik en uitdagend die wêreld van bier is, het ek besluit om die geleentheid met albei hande aan te gryp. Dit was die beste besluit van my lewe!

Bierbrouery word dalk deur sommige as ’n werk vir mans gesien, of is dit nie iets wat jy ervaar nie?

Mense kan dink dis ’n probleem as ’n vrou die tradisionele “manswêreld” betree. Maar ek het nooit eens daaraan gedink nie. Eers ná maande het dit begin deurskemer dat ek die odd one out is. Met harde werk en baie hardkoppigheid het ek respek en ondersteuning van my kollegas gekry. Nou is dit glad nie meer ’n probleem nie.

Wat is vir jou die beste aspek van die beroep?

Bierbrouery is ’n komplekse proses en elke dag bied ’n nuwe uitdaging en lewensles. Jy moet staatmaak op wetenskap, maar ook jou verbeelding gebruik. Gevolglik is dit nooit vervelig nie!

Wat is jou grootste uitdaging?

Al werk ons met topklas-masjinerie en rekenaars, kan daar steeds tegniese probleme opduik. Dan moet jy vinnig spring om te verhoed dat die produk beïnvloed of die produksieproses vertraag word. ’n Perfekte dag verander dan eenklaps in ’n volskaalse chaos!

FOTO: Eugene Rukoro

Watter opwindende goed gebeur tans by die brouery?

Ons het pas twee nuwe boetiekbiere onder die Camelthorn-handelsmerk bekend gestel. Die een is ’n gefiltreerde Weiss-bier met Lemondrop-hops, wat die bier ’n subtiele sitrusgeur gee. Die ander een is ’n Helles-bier met die geure van vrugte en speserye. My mond water skoon as ek oor die biere praat!

Watter een is jou gunsteling?

Ek is ’n vrou. Elke dag is ek mal oor ’n ander bier! Dieselfde met Namibia Breweries se handelsmerke, ek kan eenvoudig nie een bo die ander kies nie.

Wat is die perfekte manier om ’n bier te drink?

’n Yskoue bier teen sonsondergang ná ’n lang en warm dag – niks klop die kombinasie nie! As dit my laaste dag op aarde is en ek kan vir oulaas ’n bier geniet, sal ek dit op die plaas doen saam met vriende, familie en ’n braaivleisvuur.

Watter kos is die beste pasmaat vir bier?

’n Matige bier pas goed by slaaie, hoender of vis, terwyl ’n bitter en swaar bier die geure van vleis en kerrie komplementeer. Urbock, ’n redelike soet bier, proe heerlik saam met donkersjokolade-brownies. FOTO: Eugene Rukoro Wat doen jy as jy nie besig is by die brouery nie?

As ek nie saam met vriende en familie huier nie, is ek by die perdestalle of op die plaas. Wat is die grootste les wat jou werk jou geleer het?

Hoe om kalm te bly.

Besoek dié webtuiste vir meer inligting oor Namibia Breweries se produkte en mense.