Dis een van die warmste geselsmiddels op die internet. Van heinde en verre word daar geblog, nou ook op sarie.com. En in SA is die meeste bloggers vroue! "Ek sien Simon op die sypaadjie staan. Sy wolbaadjie oor sy effense boepmagie toegeknoop, sy aktetas in sy hand. Ek sien die verwesenheid op sy gesig, effens bleek." Dis met inskrywings soos dié dat Tallie (skuilnaam) jou in haar leefwêreld intrek. Haar man verloor sy werk weens die resessie - en hul inkomste val van R52 000 per maand na R12 000 per maand.

Op haar blog op sarie.com lees jy van haar stryd om kop bo water te hou. Haar verhouding met haar man bereik 'n laagtepunt en sy sukkel om die begroting te laat klop. Mense vermy haar skielik. Maar Tallie is nooit sonder 'n plan nie . . . Tallie het destyds aan SARIE geskryf en ons het haar gevra om gereeld op ons webblad te blog. Toe het sy nie eens geweet wat 'n blog ís nie. Nou het sy 'n lojale lesersgroep.

"Tallie het van die begin af 'n emosionele senuwee by lesers raakgeboor," sê Maryke Cumpsty, SARIE se webredakteur. "Dit het onmiddellik een van ons gewildste items geword en kommentaar het ingestroom. Daar was ondersteuning én mense wat sê: Dit het ook met my/my man gebeur."

Wat is 'n blog?

'n Blog (oorspronklik 'n afkorting vir web log, oftewel webjoernaal) is 'n soort persoonlike webtuiste waarop jy gereeld inskrywings maak, verduidelik Matthew Buckland, hoofbestuurder van 20FourLabs (www.20fourlabs.com),'n navorsing- en ontwikkelingsafdeling van 24.com. Dis 'n kommunikasiemiddel, baie soos die telefoon. En 'n maklike, goedkoop en vinnige manier om op die web te skryf:

Enigeen met 'n blog kan sy/haar geskrifte, mymeringe en artikels publiseer.

Matthew se eie blog, www.matthewbuckland.com, het sowat 8 000 unieke besoekers (d.w.s. verskillende mense wat kom kyk) per maand. Daarop analiseer hy die media, bekyk toekomstige mediatendense en die impak van sosiale media. Dis verlede jaar by die SA blogtoekennings in Kaapstad as beste sakeblog aangewys. Volgens hom lok blogs wêreldwyd baie lesers. Sommige maak selfs geld deur advertensieruimte te verkoop - nes tradisionele uitgewers.

Op sy blog 2oceansvibe.com onthul die SA blogger Seth Rotherham waar die mooiste en koelste mense uithang, hy lewer kommentaar op sportmense, skryf oor nuwe klere en bykomstighede, sommer alles wat glansryk is (Huisgenoot, 17 September). Hy het onder meer webblaaie ontwerp voor sy blog só winsgewend geword het dat dit nou sy heeltydse werk is.Terwyl hy oor sy glansryke lewe blog, noem hy handelsname - en word baie daarvoor betaal. Dié blog was die wenner in ses afdelings van vanjaar se SA Blogtoekennings, insluitende beste blog, en het 40 000 unieke besoekers per maand. Daar is individuele blogs in Amerika met miljoene lesers, vertel Matthew. Van die grotes daar het inderdaad meer lesers as al SA se grootste webtuistes sáám!

 

Terapie vir die siel

Tallie skryf uit haar hart en lees nie haar inskrywing 'n tweede keer voor dit verskyn nie.

"As ek 'n paar weke later daarna kyk, kan ek nie glo ek het my gevoelens so mooi uitgedruk nie. Jy is só besig om te oorleef, jy gee jouself nie tyd om te voel nie. Ek is geneig om dinge te ontken as ek só op oorlewing gefokus is. Dis my behoud. Maar diep binne my knars dit. Ek het besef ek móét uiting gee aan wat in my kop aangaan."

 

Dis my behoud. Maar diep binne my knars dit. Ek het besef ek móét uiting gee aan wat in my kop aangaan." - Tallie 

 

Dus blog sy verbete. Wetenskaplikes (en skrywers) weet lankal dis terapeuties om oor persoonlike ervarings, gedagtes en gevoelens te skryf. Volgens Scientific American (www.sciam.com) ontlaai jy só stres en dis goed vir jou gesondheid. Studies wys bv. dit verbeter jou geheue, jy slaap beter, dit kikker jou immuniteit op en help jou om gouer van 'n operasie te herstel. Mense met kanker en ander ernstige siektes vind toenemend troos in die blogosfeer. In Amerika het party hospitale blogs vir pasiënte op hul webtuistes.

Die bykomende voordeel bó 'n dagboek is dat bloggers in soortgelyke situasies op jou inskrywings kan reageer. Aan die ander kant: 'n Mens moenie oorboord gaan nie. Op die internet swerf deesdae 'n nuwe woord rond: blog burnout. Blog jy aanmekaar, kan dit wees soos te veel ryk kos, waarsku www.blogherald.com. Almal weet dis lekker, maar 'n oormaat kan jou slegte spysvertering gee!


 

Dis 'n maklike, goedkoop en vinnige manier om op die web te skryf - Matthew Buckland, 20FourLabs

Tsoenami

Bloggers het wêreldwyd 'n impak, sê Matthew. Hulle was eerste op die toneel met die tsoenami in Suidoos-Asië in 2004. Die tradisionele media het in die vroeë stadium van die krisis grootliks op bloggers staatgemaak vir inligting. En met die Amerikaanse presidentsverkiesing verlede jaar het bloggers sáám met joernaliste akkreditasie gekry om daaroor verslag te doen. Daar is ook plaaslike voorbeelde. Toe 'n ligte vliegtuig vroeër vanjaar naby Krugersdorp neergestort het, is die toneel op selfoonkameras vasgevang en mense het blitsvinnig op blogs en Twitter daaroor geskryf, sê Matthew.


En nou . . . mikroblogging

Dis kort, vinnige brokkies, soos wat Mathys Roets, Kurt Darren en Margit Meyer Rödenbeck gereeld op sarie.com skryf.

Volgens Matthew is die bekendste voorbeeld hiervan die sosiale netwerk Twitter. Jy skryf (of tweet) stukkies van minder as 140 karakters. Dit word dan gestuur aan 'n netwerk mense wat gekies het om jou tweets te volg. Dit neem tyd om'n blog-inskrywing te maak, verduidelik hy. Jy moet ook taamlik vaardig met woorde wees. Nie almal het iets interessants om te sê, die vermoë om dit in prosa te omskep of die tyd daarvoor nie. Vandaar mikro-blogging.

Verslaggewers gebruik mikro-blognetwerke om nuus in te samel. Twitter het vroeër vanjaar koerantopskrifte gehaal toe dit na bewering die nuus oor die aardbewing in China gebreek het: Mense het ge-tweet dat dit gons terwyl die aarde om hulle geskud het! Matthew sê toe Gutenberg die drukpers uitgevind het, het hy uitgewers bevry. Maar die internet het lesers bevry. Die leser het ongekende mag verkry vanweë die skep van een van die mees demokratiese en toeganklike vorms van uitgewery: die blog.

Tallie
 

Ek het besef ek móét uiting gee aan wat in my kop aangaan - Tallie op sarie.com

 

Tallie se heling

Maandag 22 Junie: 'n Telefoonoproep laat Tallie (skuilnaam) se gerieflike hoëmiddelklasbestaan in duie stort. Simon (skuilnaam), haar man, bel van die werk af. "Skat, ek is retrenched." Daardie dag het sy haar gevoelens begin neerpen.

"Ek het net begin en die woorde het gevloei. Wat werk, is die eerlikheid daarvan. Dis nie 'n lekker tyd in my lewe nie. Ek probeer dankbaar bly, ís dankbaar. Maar ek mis luukses soos om in my kar te klim en te ry (ons het nou net een motor). En die yskas oop te maak en dis propvol lekker kos."

Deur haar inskrywings leer jy haar ken: spontaan, warm, snaaks. Maar ook uitgesproke, ongeduldig. Méns. Sy sleep, trek, stoot haar man deur sy rouproses. Keelvol vir sy skynbare doelloosheid, por sy: Fokus, man, fokus op die toekoms. Begin jou eie onderneming in die vervaardigingsbedryf, waar jy ervaring het. Of leer nuwe vaardighede aan.

"Gaan werk in die myne in Ghana," mor sy eenkeer."Wat weet ek van myne, my vrou?" vra hy verbaas."Seker niks, maar jy kan mos die ou langs jou vra wat jy moet doen. Of wat van die gaspype in Angola?" Sy het talle werkloses se stem geword. Die refrein is telkens: "Ek ken daardie gevoel. Jy praat ook namens mý."

"Ek verteenwoordig al die stil stemme. Nie almal kan praat of skryf nie," sê Tallie. "Die kommentaar op my blog het my onkant gevang. Ek lees dit en dink: Wow! Dis duidelik dinge wat gesê móés word. Mense wat moeite doen om te reageer voel ernstig oor 'n saak. Die anonimiteit van die web speel ook 'n rol: Hulle wil hul sê kan sê sonder om té betrokke te raak.

"Ek praat oor seks, godsdiens, vrae waarmee ek worstel. Ons verknogtheid aan materiële goed, hoe oppervlakkig ons bestaan geword het. Dis eers as die mat onder jou uitgeruk word en jy plat op die grond sit dat jy die stof op die vloer sien. Jy word tot die werklikheid terug geruk. "Een aand het ons saam met vriende gaan uiteet en een vrou het begin huil. Seker bietjie dronkverdriet gekry. Ek het gedink: Dis darem die lekkerste huil daardie. Ek wens ek kon so huil. Dis 'n skoon huil. Jy raak aan die slaap en môre is jy skoon en leeg. Daai leegheid ervaar ek nog nie. Ek moet nog te regop bly.

"Dis hoekom die skrywery só helend is. Ek is nie iemand wat sit en sanik nie. Ek vertel en klaar. Ek word kwaad en dis verby. Ek koester nie wrokke nie. "Op my blog pak ek uit en ontlaai."

Die gewildste blogs

Die SA blogs wat die meeste besoeke kry, behoort skynbaar aan die manne. Oor motors en rugby, natuurlik! Daar is nie 'n onafhanklike maatstaf vir die hele bedryf nie, sê Alistair Fairweather van 20FourLabs. Maar as hy 'n ingeligte raaiskoot moet waag, is dit tussen die volgende drie:

  • http://rugbydump.com (rugby-video's).

    Blogger: Grant Constable, voorheen 'n grafiese/web-ontwerper, het dit as 'n stokperdjie begin. Nou is dit sy heeltydse werk. Unieke besoekers: tussen 400 000 en 500 000 per maand.

  • www.carblog.co.za (motornuus).

    Blogger: Charl Norman van Blueworld Communities (blueworld.co.za), 'n afdeling van 24.com. Unieke besoekers: sowat 150 000 per maand.

  • www.keo.co.za (rugby).

    Blogger: rugbyskrywer Mark Keohane. Unieke besoekers: sowat 66 000 per maand.