’n Aggressiewe Europese das (badger) het onlangs ’n paar dae lank amper selfs Harry en Meghan en nuus oor Die Troue op Britse sosiale media onttroon.

Die “baie kwaai das” het naamlik sy intrek geneem in ’n tonnel in die kelder van die Skotse Craignethan-kasteel wat te midde van sestiende-eeuse oorlog, verraad en invalle ’n rotsvaste vesting was. Dié keer was die indringer egter ’n perd van ’n heel ander kleur.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Die bewaringsorganisasie Historic Scotland moes noodgedwonge die keldertonnel, wat baie gewild onder besoekers is, sluit nadat die ongenooide gas hom daar kom tuismaak het en geweier het om uit te kom. 

Die das woon waarskynlik in die omliggende bosse en het verdwaal. Daar is nie uitgewei oor die moontlike rede waarom hy so die herrie in was nie. Personeel het op hom afgekom nadat hulle die omgedolwe grond by die tonnel gesien het. Hulle het hom met heuning en katkos probeer uitlok, maar hy het verseg. Hy het deur die los grond tot in die klipwerk gegrawe en ’n groot gemors gelaat, volgens The Guardian.

Op sosiale media het mense fluks wenke gegee om die dier uit sy skuilplek te lok. Dankie vir die #badger-wenke, het die bewaringsorganisasie getwiet. “Ons weet nou dasse verkies grondbone en selfs piesangs bo katkos.” (En grondboonbotter-broodjies, volgens een twiet!)

Die das het later self verkas, dalk die josie in vir die simpel mense wat hom met katkos probeer paai, twiet Historic Scotland. Weens die skade was die tonnel egter ’n week later steeds vir besoekers gesluit.

Die kasteel is in die vroeë sestiende eeu gebou en in sy gloriedae deur onder andere James (Jakobus) V, koning van Skotland, en sy troonopvolgerdogter, Mary (Maria), besoek.

Bykomende bron: www.independent.co.uk