Hy was die enigste seun wat besluit het om sy matriekafskeid-uitrusting in te skryf vir die gewilde jaarlikse matriekafskeidwedstryd op sarie.com.

Só het sy motivering gelui: "As julle my inskrywing uitgooi, sal ek verstaan, maar ek wil net graag my matriekafskeidaand met julle deel. Ek het tot 'n week voor die "groot" aand nie geweet wat om aan te trek nie. Ek het net geweet ek moet iets anders doen! Almal fokus net altyd op die meisies, 'n seun moet maar net inpas. Dis mos my groot aand ook!

Ek het my beste vriendin gevra om saam my matriekafskeid toe te gaan en sy het van die begin af gesê, sy sal inpas by my. Ek is 'n WP hekkie atleet en speel ook al vandat ek 4 jaar oud is rugby, so my inspirasie was verseker Rugby en natuurlik met die Wêreldbeker kon ek wegkom daarmee!!

Ek het altyd gedink ek sal eendag wil trou in 'n kortbroek en gelukkig het die matriekafskeid eerste gekom, want ek dink nie my vrou sal eendag van die idee hou nie!! My vriendin se rok het baie mooi inskakel by my "pak" en ons het baie komplimente gekry. Moet net nie dink dit was alles maklik nie, want ek was maar baie gestres oor wat die mense gaan sê. Vandag is ek nie spyt nie, want ek het 'n "statement" gemaak en dit was 'n wonderlike aand!!!"

Corné het verlede week sy laaste vak in die matriek-eindeksamen geskryf en dit gevier met 'n kuiertjie by die Stones-klub in Edwardstraat, Durbanville. Hy is in 'n vuisgeveg só ernstig beseer dat hy Saterdag in die hospitaal aan sy wonde beswyk het.

Sy gesin beskryf hom op sarie.com as "'n baie besonderse kind en was baie gewild en geliefd onder oud en jonk!! Duisende mense het al boodskappe gestuur en verskeie dienste word vir hom wereldwyd gehou. Die enigste troos wat ek uit hierdie donker tyd kry, is om te weet my Karools kind is by sy Ouma en soooo baie mense treur saam my!!

Baie,baie dankie vir almal wat na die foto gekyk het en die brief gelees het!! My seun was so opgewonde oor almal se kommetaar! Hy het eintlik gedink almal gaan vir hom lag en niemand het nie!! Baie dankie aan almal vir alles en hou julle kinders styf vas en bewaar hulle veilig!!! Baie liefde"

sarie.com wil graag ons innige meegevoel betuig aan Corné se familie en vriende. Daar word vir  Woensdagaand 29 November 'n optog deur familie en vriende na die Stones nagklub in Edwardstraat beplan as 'n eerbetoon aan Corné. Dié wat wil saamstap, word vriendelik gevra om asseblief wit te dra. Almal ontmoet mekaar om 9 nm. by die park naby die M-Kem-apteek in Durbanweg.

* Lees die volle nuusberig hier