Die Amerikaanse sangeres Demi Lovato het gisteraand die eerste keer oopgemaak sedert sy twee weke gelede weens 'n oordosis in die hospitaal beland het. 

"Ek was nog altyd openlik as dit by my pad van herstel van verslawing kom. Wat ek geleer het, is hierdie siekte is nie iets wat met tyd gaan verdwyn nie. Dis eerder iets wat ek aanhoudend sal moet oorkom, en nog nie oorkom het nie ... Ek sal aanhou veg," het sy op Instagram geskryf. 

Demi het al in die verlede erken dat sy met dwelm- en alkoholverslawing sukkel. Sy is 2011 in 'n rehabilitasiesentrum opgeneem waar sy vir onder meer depressie, 'n eetsteurnis en verslawing behandel is.

"Ek het nou tyd nodig om te genees en te fokus op nugter bly. Ek sien uit na die dag waar ek kan sê ek het anderkant uitgekom."

FOTO Instagram/ Demi Lovato

Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur Gideon Lombard, bekend vir sy rol as Stefan Gerber in die kykNET-sepie Suidooster, het self 'n donker stryd teen dwelms en drank gevoer. Gideon, wat nou al nege jaar skoon is, het in 2017 besluit om openlik daaroor te praat.

Hoekom?

"Ek het destyds ’n paar vriende in ’n soortgelyke posisie gehad, hulle het gely onder die skuldgevoel, gedink hulle mag nie daaroor praat nie. En ek het gedink as ons nie daaroor kan praat nie, as ons die vermoë verloor om te kommunikeer, al is dit oor die donkerste en seerste goed, dan is ons regtig in die moeilikheid. ’n Mens moet kan praat daaroor, om die shame te probeer wegneem. Dit beteken nie ek het deur al die goed gewerk nie. Dis ’n aanhoudende proses. Daar is goeie dae en slegte dae. Ek is al byna nege jaar skoon, en party dae gaan dit horrible. Dis belangrik om dit te erken, want dis deel van my. En ek het ook daardie deel lief, want ek het dit leer ken," het Gideon in 'n onderhoud in SARIE se Mei 2018-uitgawe gesê.

FOTO Suidooster

Die stryd teen verslawing kan soms 'n eensame pad wees.

Carmen Swart, een van SARIE Voorbladgesig se tien finaliste in 2015, was tien jaar lank aan heroïen verslaaf. Die laaste keer wat sy in 'n rehabilitasiesentrum was, is in 2008. 

"Ek het my verslawing oorleef, maar dit kon so maklik anders gewees het, ek kon aan 'n oordosis gesterf het. Ek is so dankbaar vir als wat ek geleer het en ek móét dit deel," het sy in 2015 aan SARIE se Marguerite van Wyk gesê.

Carmen Swart FOTO Anna Pepper

Dit was 'n moeilike stryd, maar haar ouers was 'n konstante vangnet. "My ouers was my emosionele asemhalingsmasjien, my suurstof. As dit nie vir hul vertroue in my was nie, sou ek nie vandag my storie kon vertel het nie."

Deesdae help sy ander. Carmen het al in haar vrye tyd motiveringspraatjies gegee oor hoe jy verslawing kan oorwin. 

Nes Demi glo Carmen dat verslawing 'n siekte is. "My kop het oopgegaan toe ek dít eers besef - jy moet dit bestuur."

Kort jy hulp?

Jy is nie alleen nie. As jy hulp soek of weet van iemand wat hulp soek, kontak die volgende nommers:

Narcotics Anonymous: 083 900 6962

SA depressie-en-angs-stoornisgroep: 0800 121 314

Wes-Kaapse departement van sosiale ontwikkeling: 0800 220 250

Hopeline, Pretoria: 012 358 5001