“Ek het ’n vakansiehuis op Loxton en gaan so gereeld as moontlik. Dáár is ek gelukkig. Ek voel tuis in die natuurskoon met die helderblou lug en ek het daar vrede en gemak in myself.

“Mense daar het tyd vir mekaar. Hulle vertel stories en gesels – en nie op Facebook of Twitter nie. Ek is ook ’n motorfiets-fanatikus en niks kom naby die Karoo se grondpaaie nie. Dis die lekkerste speelplek!

“En die weer in die Karoo is fantasties. Ek geniet die kontrasterende seisoene, waar dit sweetwarm is in die somer en yskoud in die winter.

“Daardie ekosisteem en grond is so broos. Uit navorsing wat ek al gedoen het, is dit duidelik dat hidrobreking baie skade gaan doen.

“Nee, ek sal voor daardie masjiene gaan lê voor ek hulle toelaat om daar gate te boor!”