Getty / Gallo Images

Die Camino de Santiago in Spanje

Dis ’n pelgrimsreis wat sedert die eerste eeu in Spanje geloop word. Daar is meer as een roete, maar die gewildste een (die Franse Weg) begin in Frankryk, by St. -Jean - Pied - de-Port. Ander roetes kom uit Portugal of volg die Spaanse noordkus. Al die roetes eindig egter by die indrukwekkende katedraal op die Spaanse dorp Santiago de Compostela, waar die oorblyfsels van die dissipel Jakobus volgens oorlewering begrawe is. Jy besluit self hoe ver jy wil stap, maar as jy ’n sertifikaat wil hê, moet jy minstens die laaste 100 km vanaf Santiago te voet aflê. Verblyf in herberge begin by €2 per nag (sowat R30), maar jy kry ook luukser opsies waar jy in hotelle slaap en nie jou eie rugsak hoef te dra nie.

As jy nie lus het om dit op jou eentjie aan te pak nie, SARIE se sustertydskrif Weg bied toere in September, Oktober, April en Mei aan (16 pelgrims per groep), en SARIE gaan moontlik in 2019 sy eie Camino-toer hê. Vra besonderhede by Marilize Verdoes by marilize.verdoes@travel.co.za

Via Francigena FOTO: Getty / Gallo Images

Die Via Francigena, Italië

Hierdie pelgrimsreis begin amptelik in Canterbury, Engeland, en volg die roete van net oor die 2 000 km (!) wat Sigerik, die aartsbiskop van Kantelberg, in die jaar 990 gestap het om sy seremoniële kleed by die pous in Rome te ontvang. Deesdae stap pelgrims net die laaste paar honderd kilometer deur Italië tot by die Vatikaan in Rome. Waar ’n kwartmiljoen pelgrims jaarliks die Camino in Spanje voltooi, stap net sowat 2 500 pelgrims die Via Francigena, dus is dit minder gekommersialiseer. Die roete neem jou deur pragtige Toskaanse dorpies waar niemand Engels praat nie, en waar ’n luidrugtige Italianer vir jou handgemaakte pasta met vars artisjokke en aspersies voorsit. Oe! Die huiswyn is heerlik! En jy mag maar weglê sonder skuldgevoelens, want jy het mos hééldag gestap? 

Machu Picchu FOTO: Getty / Gallo Images

Machu Picchu, Peru

Soek op Google die gewildste staproete ter wêreld, en Google sal jou in ’n millisekonde na die Inka-wandelpad in Peru stuur. Dié roete neem jou oor vier dae na die antieke Machu Picchu bo die Urubamba-rivier. Sedert 2001 mag jy nie meer die roete onbegeleid stap nie, wat jou dwing om deur ’n agentskap te bespreek. Hier in Suid-Afrika kan jy by Pentravel aanklop. As jy nie lus het vir stap nie, kan jy ook per trein reis tot by Machu Picchu. 

Lus vir toer? Reis saam met SARIE deur Turkye!

Klik hier om meer te lees oor ons spesiale aanbod.