Dis twee dekades sedert Garry Kasparov, deur baie beskou as die beste skaakspeler nog, die knie moes buig vir IBM se Deep Blue-superrekenaar. Hy was geskok, woedend, erken hy in sy boek Deep Thinking: Where Machine Intelligence Ends and Human Creativity Begins (PublicAffairs, 2017).

“Terwyl ek oorkant die rekenaar sit, het ek iets nuuts, onthutsends aangevoel. Dalk sal jy iets soortgelyks ervaar as jy die eerste keer in ’n bestuurderlose motor ry. Of jou nuwe baas, ’n rekenaar, vir jou ’n opdrag gee.”

Skuif die horlosie aan en Elon Musk, Tesla se grootbaas, twiet ’n foto met die woorde: “In the end the machines will win.” Kunsmatige intelligensie (artificial intelligence, AI) is gevaarliker as Kim Jong-oen van Noord-Korea se mal speletjie met vuurhoutjies en vuurpyle, reken hy.

Mark Zuckerberg, Facebook se stigter, verskil. Microsoft se Bill Gates en kosmoloog Stephen Hawking waarsku egter ook daarteen.

Hollywood skets lankal ’n donker prentjie van ’n toekoms met AI. Van die Terminator-sage en RoboCop tot Ex Machina, I, Robot en The Avengers wil dit lyk asof dit dalk net ons slimste én laaste uitvinding kan wees . . .

Daar is ook ’n ander kant. Voorstanders van AI redeneer die mens kan sy eie vermoëns versterk deur kragte saam te snoer met sy intelligente skepping. Dit kan dalk help om van die mensdom se groot vraagstukke, soos kanker en aardverwarming, te troef. 

Maar een ding is seker: AI is hier om te bly. En gaan ’n ongekende impak hê op hoe ons werk, speel en leef – indien nie ons hele bestaan nie, volgens die webtuiste ITWeb.

“Daar word gesê dit kan teen 2025 net so slim soos die mens wees, maar ek twyfel. Die ontwikkeling is nietemin baie vinnig. Wie sou tien jaar gelede kon voorspel as jy by ’n fabriek instap, is daar geen mens nie, net robotte?” sê prof. Basie von Solms, direkteur van die sentrum vir kubersekuriteit aan die Universiteit van Johannesburg.

Elon Musk. FOTO: Getty Images

Wat is dit?

Dis ’n breë konsep wat verwys na die “intelligensie” van masjiene, rekenaars en programmatuur. Ons gebruik dit reeds in ons daaglikse lewe. Met intelligente stem-assistente soos Apple se Siri of Amazon se Alexa en ook Google Maps. “As jy Uber gebruik, of selfs net Netflix kyk, span jy reeds produkte in wat met kunsmatige intelligensie-tegnologie gebou is,” volgens prof. Johan Fourie van die departement ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Tydens die onlangse konferensie oor kunsmatige intelligensie (IJCAI) in Australië kon mense wat nie fisiek daar was nie, ’n robot bespreek en dit virtueel bywoon, vertel prof. Tommie Meyer, direkteur van die sentrum vir navorsing oor kunsmatige intelligensie (CAIR).

Ons is nietemin nog ver van robot-assistente met ’n vorm van bewussyn (soos R2-D2 van Star Wars), volgens hom. AI is tans baie beperk in vermoëns en gaan geruime tyd nog wees, beaam die Washington Post. Alexa en Siri is voorbeelde van wat tegnoloë “beperkte” (narrow) AI noem. Stelsels waarmee ons interaksie kan hê en sommige intelligente kenmerke het – maar nooit met ’n mens verwar sal word nie.

Die langtermyndoelwit van baie navorsers is egter die skep van algemene AI (of sterk AI.) Terwyl “beperkte” AI beter as die mens kan vaar in wat ook al sy spesifieke taak is, soos skaak speel, sal algemene AI beter presteer in feitlik alle kognitiewe take, volgens die webtuiste futureoflife.org.

Geen wonder nie Hawking, Musk en ander prominente AI-wetenskaplikes en -kenners vrees moontlike slaggate. Al steun hulle navorsing daaroor aktief en beskryf die voordele daarvan as “onmeetbaar”. Masjiene moet ontwerp word sodat die mens altyd beheer daaroor sal hê, dit ontvanklik vir ons wense sal bly, skryf hulle in ’n ope brief.

’n Goeie idee, reken prof. Meyer. Maar in die afsienbare toekoms is die gevaar nie dat masjiene te slim raak en die wêreld probeer oorneem nie, die tipiese Hollywoodse Terminator-scenario. Dis eerder dat masjiene nog te dom is, en nog lank dom gaan wees. “Dis byvoorbeeld reeds moontlik om outonome wapens te bou wat self besluite kan neem. Dis tans egter baie gevaarlik – want dis nie goeie, intelligente besluite nie. Dis soos om ’n kleuter ’n wapen in die hand te stop.”

FOTO: Unsplash / Andy Kelly

Grootskaalse werkloosheid

Terwyl die slimmes debatteer oor die grense wat nodig is om AI in te perk, is daar ’n meer onmiddellike kopsorg vir die samelewing. AI kan grootskaalse werkloosheid veroorsaak.

Tydens die 2008-2010-resessie het ’n geskatte 2,5 miljoen hoogs opgeleide professionele werkers in Amerika permanent hul werk aan slimmasjiene afgestaan. Dit sluit in rekenmeesters, regsadviseurs en beleggingskonsultante. Daar word gereken 50% van alle werkgeleenthede waarvoor jy voorheen goeie naskoolse opleiding nodig gehad het, kan teen 2025 verdwyn, berig Netwerk24.

Dié vrees is natuurlik nie nuut nie. Tydens die Britse nywerheids-revolusie twee eeue gelede is gepraat van die “masjien-vraagstuk”. Dié vraag is met mening terug, in ’n nuwe gedaante, volgens The Economist.

Dit gaan nie soseer daaroor of dit hande- of witboordjiewerk is nie, maar of dit patrone vorm en/of roetine is. Uitgesluit is hoogs geskoolde werkers (wetenskaplikes, entrepreneurs, leiers, senior bestuurders – m.a.w. werke wat kreatiewe denke verg) aan die een kant en swak betaalde, ongeskoolde werkers (skoonmakers, burger-braaiers) aan die ander kant, aldus The Economist. (Wat van jóú werk? Klik hier.)

Interessant: Die Doebaise polisie-diens het sedert vroeër vanjaar ’n robot-polisieman wat kan help om gesoekte misdadigers te identifiseer en bewyse te versamel. “Hy” patrolleer ook besige gebiede in die stad. In Kinshasa, DRK, is robot-verkeersbeamptes reeds deel van die daaglikse lewe.

Suid-Afrikaners sal beslis geraak word. Hoeveel, is nog ’n raaiskoot. Sommige werkgeleenthede sal ook eers vervang word as die tegnologie goedkoper raak as die produktiwiteit van die werknemers, sê prof. Fourie. “Dis hoekom gesprekke rondom minimum lone en ander arbeids-kwessies ook die koste van tegnologie in ag moet neem.”

Positief: In die verlede het tegnologie uiteindelik altyd meer werk geskep as wat dit wegneem. Só het geoutomatiseerde tellermasjiene (OTM) van tellers by banke se roetinetake weggeneem. Dit het egter die koste verminder en banke kon meer takke oopmaak. Die aard van bankwerknemers se werk het verander: Hulle kan meer fokus op dinge soos verkope en kliëntediens. Dus: Pleks dat outomatisering werke vernietig, word dit herdefinieer.

Die nuwe tegnologie sal, indien dit reg toegepas word, lei tot meer bevredigende beroepe, volgens prof. Meyer. “Net soos skottelgoedwassers die vervelige deel van huiswerk oorneem. Prokureurs en advokate kan byvoorbeeld AI-stelsels gebruik om deur stapels ou hofsake en regulasies te werk en dit op te som. Terwyl hulle fokus op interessanter aspekte van die reg.”

Hy reken een van die grootste struikelblokke by die gebruik van AI-tegnologie is sielkundig. Dit lyk asof mense nog skepties oor die masjiene se vermoëns is, al is daar heelwat objektiewe bewyse dat hulle beter in sekere take is. Só is daar reeds AI-stelsels wat beter as die deursnee-geneesheer kan diagnoseer, maar dit word nog nie grootskaals gebruik nie.

“Die volgende generasie gaan heelwat gemakliker met masjiene wees wat allerhande take verrig. Nes met vorige tegnologiese revolusies. Dink aan die gebruik van sakrekenaars en die konsternasie wat dit aanvanklik in skole veroorsaak het!”

Menslike warmte

Maak nie saak hoe gevorderd AI word nie, met sekere werke is die mens net beter. Veral dié wat empatie en sosiale interaksie verg. ’n Masjien kan dalk ’n mediese diagnose maak. Maar ’n mens gaan steeds die pasiënt oor die resultate moet inlig.

Haarkappers is ’n goeie voorbeeld, sê prof. Fourie. “Dis ’n sosiale instelling, méér as bloot die aksie van hare sny. Werkgeleenthede wat sulke sosiale dienste bied, gaan nooit heeltemal verdwyn nie.”

Volgens hom laat die sosiale media baie mense afgesny voel van die werklikheid – en baie alleen. “Daar kan dalk in die toekoms ’n groter vraag na sielkundiges, leefstylafrigters en loopbaankonsultante wees.”

Of troos ons onsself net? Ja, robotte is koud, klinies, sê prof. Meyer. Maar hoor hier: “ELIZA, ’n AI-program wat in die sestigerjare ontwikkel is, het beslis geen empatie gehad nie. Dit was maar ’n eenvoudige programmetjie. Tog het baie mense wat met haar interaksie gehad het, die persepsie gekry dat sy empatie het. Dalk is dit al wat ons nodig het.” ’n Robot as Dr. Phil?

Robotte staan reeds in as seksmaats. Dit het inderdaad so gesofistikeerd geraak dat dit ’n bedreiging vir die wêreld se oudste beroep is, skryf die toekomskundige dr. Piet Muller op Netwerk24. “Seksbotte” word gemaak van ’n nuwe materiaal, Cyberskin, wat baie dieselfde as menslike vel voel. Dit kan selfs tot menslike temperatuur verhit word en vloeistowwe afskei. Voeg hierby kunsmatige intelligensie en jy het ’n “vriendin” wat soos ’n regte mens voel, reageer, praat en geluide maak. En boonop geprogrammeer kan word om jou seksuele voorkeure te onthou en daarvolgens te reageer, skryf hy. Soos Cliff Richard toeka al gesing het: “Got myself a crying, talking, sleeping, walking, living doll.”

Troos jouself daaraan: AI se vermoëns is tans nog baie beperk en veral kreatiewe denke is nie moontlik nie. Dis dalk juis waar die geleenthede vir die mens lê, by die ontginning daarvan.

Ons kreatiwiteit en ondernemings-gees is beslis ’n sterk punt, sê prof. Fourie. Hoewel masjiene al pragtige musiek kan skryf en skilderye verf, is dit die mens wat nuwe entrepreneur-idees ontwikkel en in werking stel. “Vir eers is robotte baie goed met take waarvoor hulle spesifiek geskep word. Maar die tegnologie is nog nie daar waar dit al die take van die mens kan na-aap nie.”

Ons moet ons vrese besweer sodat ons die meeste uit die tegnologie en onsself kan put, skryf Kasparov in sy boek. Intelligente masjiene gaan toenemend meer geringe aspekte van kognisie oorneem, terwyl ons ons geesteslewe kan verryk met kreatiwiteit, nuuskierigheid, skoonheid en vreugde. “Dís wat ons waarlik mens maak, en nie spesifieke aktiwiteite of vaardighede soos die swaai van ’n hamer – of selfs die speel van skaak nie.”

Dus: Ons beter daaraan gewoond raak. En daai golf ry.

Bykomende bronne: uk.businessinsider.com, itweb.co.za, time.com

Twee robotte ‘praat’
“Bob en Alice, twee robotte, het gesels en onderhandel – die opdrag wat hulle moes uitvoer. Toe raak hulle hopeloos te slim en ontwikkel hul eie taal. Nou is dié robotte luidens berigte eers afgeskakel.” (Netwerk24) Dié storie vertel meer van ons menslike vrese as wat dit ’n bydrae lewer tot die AI-debat en die toepassings daarvan, sê prof. Meyer. “Dié ‘chat-bots’ was nie besig om hopeloos te slim te raak en hul eie taal te ontwikkel nie. Die ontwikkeling van ’n nuwe taal sal ’n groot deurbraak wees, maar ons is nog nie eens naby daaraan nie. Ons sukkel nog dat masjiene bestaande tale verstaan en interpreteer. Bob en Alice se storie kan dalk die storielyn van ’n Hollywood-fliek wees, maar nie veel meer nie.”