“Ons planeet lyk ’n miljoen kilometer hiervandaan soos ’n klein, blou albaster; op honderdmiljoen kilometer is dit ’n klein, ligblou kolletjie. ‘Hoe onvanpas om dit Aarde te noem terwyl dit baie duidelik Oseaan is,’ het die skrywer Arthur C. Clarke eenkeer skerpsinnig opgemerk.” 

Uit: Blue Mind: The Surprising Science That Shows How Being Near, In, On, or Under Water Can Make You Happier, Healthier, More Connected, and Better at What You Do deur Wallace J. Nichols

Hy onthou natuurrampe soos droogtes in sy tuisstaat, Kalifornië, sê dr. Wallace J. Nichols, skrywer van Blue Mind (2014), ’n boek oor die fisieke en sielkundige voordele van water. Eenvoudige dingetjies, soos om te stort, laat jou dan skuldig voel. Maar as ’n stort of bad jou oomblik van stilte was, om fokus te kry en jouself van die daaglikse lewe se stres te ontkoppel, word jy daarvan beroof. “Dit word dan ’n bron van skuldgevoel, spanning, angs en woede.” (Die Wes-Kaapse regering wat sit en slaap het, jou buurman met die swembad wat hy steeds skelm volmaak.)

Besoedeling, oliestortings en droogtes het dus nie net ’n koste op ekologiese en ekonomiese vlak nie, maar ook emosioneel. “Besoedeling verpletter ons ‘blou bewussyn’-ervarings, selfs op die mooiste plekke.” Ons “blou bewussyn” (blue mind) is die term wat hy geskep het om die onmeetbare gevoel van vrede te beskryf wat ons ervaar wanneer ons by water is. Soos ’n blou herset-knoppie. Dr. Nichols is ’n Amerikaanse mariene bioloog en bewaringsgesinde en het ’n groot deel van sy professionele lewe aan die beskerming van die seeskilpad gewy. Deesdae ondersoek hy wetenskaplike redes waarom ons so ’n sterk verbintenis met water het.

As dit jou gelukkiger maak net om naby water te wees, dink net aan die uitwerking as jy pens en pootjies daarin rondplons. Die effek is soortgelyk aan meditasie, sê hy. In ons alledaagse lewe word ons aanmekaar gebombardeer met sensoriese stimuli, of dit nou ons toestelle, besige huise en kantore of dol stedelike paaie is. Ons brein het leeglêtyd nodig, maar kry selde genoeg daarvan. “As ons by water is, kry nie net ons brein nie, maar ook ons sintuie ’n ruskans van die oorstimulasie. Want water sny ons af van die roesemoes van die moderne lewe. Bewegende water is uitstekend om geraas te verdoesel, veral die geluid van die mens se stem. Laasgenoemde word as die grootste rede vir stres in die werkplek beskou.”

Dis wetenskap, chemie, sê hy. Skanderings wys in die nabyheid van water word die brein met goedvoelhormone soos dopamien en oksitosien oorspoel. Vlakke van die streshormoon kortisol daal selfs. “Van ’n druppel dou op ’n blom tot die grootsheid van die oseaan kan ons ’n gevoel van kalmte gee.” 

Navorsers het lankal bevind water trek die mens aan onder meer danksy die genesende eienskappe daarvan. In die Victoriaanse tyd het dokters byvoorbeeld “seelug” vir allerhande toestande voorgeskryf, van longkwale tot geestelike gesondheid. Meer onlangse studies – waaronder ’n Britse projek genaamd Blue Gym – het bevind mense wat naby die kus woon, is oor die algemeen gesonder en gelukkiger. Interessant: Die grootste gesondheidsvoordeel is vir mense uit swakker sosio-ekonomiese omstandighede, volgens www.cambridge.org. ’n Vorm van terapie, dus.

Wat jy hoor: Daar is navorsing wat wys dat jy beter slaap as jy in die natuur is, volgens W. Christopher Winter, skrywer van The Sleep Solution (2017). “Geen wonder die hoofkenmerk van slaaptoestelle is die geluid van reën, die see of ’n vloeiende rivier nie.” ’n Klein Amerikaanse studie het ook bevind mense wat aan die slaap raak terwyl hulle luister na “pienk geraas” – geluide soos bruisende water of reën op ’n sypaadjie – slaap nie net dieper nie, dit gee ook hul geheue ’n skop. 

Wat jy sien: Navorsers in ’n Britse studie het mense tydens ’n besoek aan ’n akwarium dopgehou. Deelnemers moes kyk na drie tenks: Een met geen visse, seediere of plante in nie, nog een gedeeltelik gevul, en ’n laaste een vol daarmee. In daaropvolgende eksperimente is deelnemers se hartklop en bloeddruk gemeet terwyl hulle na die drie verskillende tenks kyk. Dis ontspannend, selfs al is die tenk sonder lewe, is bevind. Maar dit raak later vervelig. Die teenmiddel? Biodiversiteit. Soos wat die flora en fauna in die tenk meer raak, so vermeerder ook die terapeutiese waarde daarvan. Jou bloeddruk en hartklop daal en jy wil langer daar vertoef. 

As jy nie naby water kan wees nie, is ’n afbeelding ook goed, volgens livescience.com. In ’n Amerikaanse studie moes kankerpasiënte met chroniese pyn na ’n natuurvideo kyk wat die geluid van branders, watervalle en vloeiende stroompies insluit. Hul streshormone epinefrien (adrenalien) en kortisol het met 20% tot 30% gedaal. 

In nog ’n Amerikaanse studie het die geluid van ’n fontein tieners by die tandarts se angsvlakke verminder. Ook foto’s van natuurlike, groen plekke laat mense se stresvlakke daal, is in nog ’n Britse studie bevind. Hoe meer water daar in die foto is, hoe meer hou jy daarvan. (Bron: www.sciencedirect.com

Ons verwantskap met water word selfs weerspieël deur die byna universele aantrekkingskrag van die kleur blou, volgens Huffington Post (huffingtonpost.com). Ons voel natuurlik aangetrokke tot waterskakerings – mense oraloor die wêreld kies blou oorwegend as hul gunstelingkleur. Marknavorsing wys ons assosieer dit met eienskappe soos kalmte, openheid, diepte en wysheid. Wetenskaplikes het ook bevind die brein verkies die kleur blou bo al die ander.

Dis dus nie vreemd nie dat eiendomsdata in Amerika toon ’n uitsig oor water verhoog die waarde van ’n plek met tot 116,1%. En ons is klaarblyklik bereid om 10% tot 20% meer te betaal vir presies dieselfde hotelkamer, maar met ’n seeuitsig. ’n Hut oor water in die Maledive, of ’n onderwater-hotel op ’n eksotiese plek, is die toppunt van luuksheid, volgens Condé Nast Traveller. En dink maar aan Suid-Afrika wat relatief droog is, waar elke tweede voorstedelike huis met ’n swembad spog.

Hoekom ons verknogtheid aan water? Een moontlikheid is dat die mens nog altyd intiem met die natuur gemoeid was, volgens die dagblad The Guardian. Dis maar die afgelope sowat 200 jaar wat ons ons toenemend daarvan afgesny het. Ons oervoorouers het uit die water gekom, geswem, gekruip, toe geloop. Menslike embrio’s gaan deur ’n fase waar hulle splete in hul nek het soortgelyk aan visse se kieu-splete.

Sir Alister Hardy, ’n eertydse professor in dierkunde en oseanografie aan Oxford, was eerste om aan die hand te doen die aanvanklike groot stap in menslike evolusie was nie noodwendig toe hominiede uit die bome gekom en die savanna betree het nie. Maar toe hulle by die kus kom en toegang kry tot seekos, ryk aan omega 3-vetsure. Dit het breinontwikkeling bevorder en die menslike intellek het daarna met rasse skrede ontwikkel

Van al die soogdiere is die mens se liggaam die afhanklikste van water. Waar ’n tipiese soogdier met tot 20% kan dehidreer, beswyk ons reeds op sowat 10%. Ons sweet boonop mildelik: tot 15 liter per dag in ’n warm klimaat, volgens ’n referaat wat aan die Universiteit van Nieu-Mexiko gelewer is (www.unm. edu). “Die mens het water sedert die aanvang van geskiedenis gekoester en dit beteken iets anders vir ons almal,” volgens die argeoloog Brian Fagan, skrywer van Elixir: A Human History of Water (2011).

Beskerm ons water en dit sal jóú beskerm, sê dr. Nichols. Verandering kan vir baie mense abstrak voel. (Klimaatsverandering, mos ons kinders se kinders se probleem.) Maar as jy gesonde oseane, riviere en strome met jou psigiese gesondheid verbind, kan dit jou verhouding met water en pogings om dit te bewaar, bevorder. Een plons op ’n slag.

“Ons oseane, waterweë en die lewe daarin het soveel meer as net ekologiese, ekonomiese en opvoedkundige waarde. Dit het onmeetbare emosionele voordele. Dit maak lewe op aarde moontlik, maar ook die moeite werd. “Ek sou graag wou glo die wêreld sal ’n beter plek wees as ons almal besef hoe waar dit is. Water is medisyne, vir almal, vir lewe.” Dit is ons lewensaar! 

BYKOMENDE BRONNE:

Condé Nast Traveller (www.cntraveller. com), The Guardian (theguardian.com), psychcentral.com, psychologytoday.com