Die syfers vertel ’n skokkende verhaal . . . 51% van tieners in Suid-Afrika het seks voor 15, volgens LoveLife, Suid-Afrika se nasionale vigsvoorkomingsprogram vir die jeug. 20% begin al vóór 12 eksperimenteer en 41% van 14-jariges is seksueel aktief, volgens die SA Mediese Navorsingsraad se peiling oor risiko-gedrag by die jeug. 70% van hulle het meer as een bedmaat en slegs 29% van húlle het veilige seks - 71% gebruik nie kondome nie.

LEES OOK: Jeugkoerant JIP loer onder die lakens (15 Februarie 2010)

En dis maar ’n paar van die bevindings van die seksuoloog Marlene Wasserman (bekend as dr. Eve) in haar navorsing vir Dr Eve’s Sex Book - A Guide for Young People (Human & Rousseau, R195).

"Die boek is baie omvattend en dek elke aspek van tieners en seksualiteit. Ook homoseksualiteit," vertel sy. "Daar is ’n behoefte aan holistiese seksualiteitsopvoeding wat ook aandag gee aan tieners se selfbeeld en verhoudings."

 

Bangmaak-tegnieke word steeds gebruik om tieners te keer om seks te hê - dr. Eve

Deesdae is hope seksinligting beskikbaar, veral in die media. Tog is daar in die breë nie ’n verbetering in kinders se seksualiteitsopvoeding vergeleke met ’n paar dekades gelede nie, sê dr. Eve. Soos sy dit in haar boek stel:

"Bangmaak-tegnieke word steeds gebruik om tieners te keer om seks te hê. Ons vertel vir hulle hulle gaan sterf, hel toe gaan, swanger raak of ’n slegte reputasie kry as hulle seksueel verkeer.

"Ons verbied hulle om vir ’n week hul rekenaars te gebruik of skakel die TV af wanneer daar ’n sekstoneel is in die hoop dat hulle bang of verward genoeg sal wees om vir ’n rukkie langer ‘rein’ te bly."

Dit veroorsaak onnodige spanning, net omdat ouers (en onderwysers) steeds voel dis te gewaagd om met tieners oor hul seksualiteit te gesels. Dit lyk wél asof vandag se jeug baie promisku is. Al is hulle meer selfgeldend as in die verlede, het baie kinders nie die waarde-sisteem of vaardighede om hul seksualiteit reg te bestuur nie.

Hoe praat jy met jou kinders oor seks? Dr. Eve gee die volgende raad:


Seksopvoeding gebeur vanaf geboorte. Hoe jy jou kind aanraak, hoe jy voel oor jou eie seksualiteit en jou intieme verhoudings bestuur. Bv. as een van die ouers 'n affair het, sal dit hul kinders beïnvloed.

Gebruik taal wat hulle kan verstaan en wat toepaslik is vir elke ouderdom. Kombineer die inligting wat jy oordra met jou waardestelsel.

Gebruik sekere oomblikke om dinge uit te wys, soos in 'n fliek waar mense onveilige seks het of advertensieborde langs die pad met gewaagde seksuele ondertone.

Wanneer kinders dr. Eve vra hoe weet jy wanneer jy té ver gaan, leer sy hulle om te vergeet van die "seksualiteitsleer" - met soen heel onder en penetrasie heel bo. Dink net soveel oor 'n intense soen, orale seks óf penetrasie. Is jy gereed om met die verantwoordelikheid en gevolge (fisiek en emosioneel) van jou besluit saam te leef?

En wanneer hulle wil weet: Is daar 'n régte ouderdom vir seks? Nee. Jy is gereed as jy ingeligte besluite kan neem en emosioneel en fisiek verantwoordelik vir jou keuses is. Die tienerjare is reeds moeilik - jy vestig nog 'n eie identiteit, daar is jou skoolwerk, besluite oor jou toekoms. Is jy gereed vir 'n ongewenste swangerskap? Sal jy dit emosioneel kan hanteer as dinge tussen julle skeefloop? Sy leer tieners om hul seksuele debuut (penetrasie) so lank as moontlik uit te stel. Wag totdat jy meer selfvertroue het en beter keuses kan maak.

Baie ouers voel steeds as hulle hul kinders vertel van die Pil en kondome, moedig hulle juis seks aan. "Maar as jy hulle nie met die nodige kennis toerus nie, teken jy as 't ware 'n doodsertifikaat!" sê dr. Eve. "Inligting is mag. Navorsing wys duidelik dis juis die onkundige, oningeligte kind wat vroeër met seks begin eksperimenteer - terwyl die ingeligte tiener die wysheid het om te wag."

Wat doen jy as jy vermoed jou kind is seksueel aktief? Sê dan: "Ek vermoed jy's seksueel aktief. Kan ons daaroor praat?" Moenie dadelik met seksvoorligting wegval nie, praat oor emosies - die verhouding, liefde, selfwaarde en -respek. Ook die redes hoekom hy/sy seksueel aktief geraak het. Moenie veroordelend wees nie.

Selfs landswette probeer tienerseks nou ontmoedig. Kragtens die nuwe Wet op Seksuele Oortredings kan tieners onder 16 wat (met instemming) seks met mekaar het, vervolg word en bv. boetes kry of by seksvoorligtingsprogramme ingeskryf word. Tieners sukkel nog altyd met aknee en hormoon-gedrewe humeure, nes geslagte voor hulle. Maar die sosiale klimaat is soveel anders as twintig jaar terug.

"Gesinswaardes is beïnvloed weens die hoë egskeidingsyfer en die groot getal enkelouers. Stiefpa’s, ma’s se kêrel(s) en stiefbroers het veroorsaak dat daar meer seksuele spanning in ‘nuwe gesinne’ in die huis is. Dit gebeur bv. soms dat stiefbroers hul stiefsussies molesteer," sê dr. Eve.

Internet-pornografie, kletskamers en selfone met kameras het ook ’n nuwe wêreld vir die jeug se seksfantasieë ontsluit. Talle ouers het onlangs gesidder oor koerantberigte van tieners wie se seksdaad in ’n toilet in ’n winkelsentrum op ’n selfoon verfilm is. Binne ’n paar uur het dit as ’n sg. vlog (’n video-blog) op die internet verskyn. Tegnologie het tienerseks nóg meer gekompliseerd gemaak.

 

Ek dink nie dis cool dat baie van die gr. 11-meisies seks het nie - Sonja (16)

En hoe reageer tieners hierop? Aan die een kant is ’n sterk behoudende groep, wat gewoonlik deur hul geloof gelei word. Soos byvoorbeeld die Silver Ring Thing, ’n organisasie met sy wortels in Amerika. Sedert dit in 2005 in Suid-Afrika bekend gestel is, het 100 376 tieners ’n “kontrak” geteken dat hulle selibaat sal bly tot hul troudag.

"Tieners is hormoon-gedrewe, maar dis ons plig as gemeenskap om hulle te leer om hulself en ander te respekteer, sê Elizabe Leeuwner, opvolg-koördineerder van die Silver Ring Thing in Johannesburg. Maar daar’s ook die meer “eksperimentele” groep tieners wat al van jongs af beter wil presteer tussen die lakens. As kinders te jonk met seks begin, is dit gewoonlik omdat hulle ’n behoefte aan aanvaarding het,” sê dr. Eve. "Dit dui op ’n swak selfwaarde."

Wat leer jou kind op skool?

Seksualiteitsopvoeding is ’n verpligte deel van die vak lewensoriëntering. In dié vak kry leerders inligting oor onder meer voeding, veiligheid, persoonlike higiëne, omgewingsake, seksuele- en dwelmmisbruik, seksueel oordraagbare siektes (SOS) en MIV/vigs. Hul leerplan lyk min of meer só:

Gr. R - 3: Kinders leer oor aansteeklike kindersiektes soos masels.

Gr. 4 - 6: Hulle leer eenvoudige gesondheidsetiek en kry beginners-MIV/vigs-voorligting.

In gr. 6 leer hulle byvoorbeeld wat die oorsake van aansteeklike siektes is (insluitende MIV/vigs), watter behandeling beskikbaar is en hoe dit voorkom kan word.

Gr. 7 -9: strategieë om met siektes te lewe (insluitende MIV/vigs) word bespreek, asook ’n gesonde lewenstyl as ’n manier om siektes te voorkom.

Gr. 10 - 12: Magspel in verhoudings (en die moontlike invloed daarvan op seksuele misbruik), sosiale kwessies (onder meer MIV/vigs), losbandige seksuele gedrag (insluitend SOS, swangerskap) word bespreek.

*Inligting: Daleen Christiaans, lewensoriëntering en religieuse studies van die Wes-Kaapse onderwysdepartement

In sekere skole is sogenaamde “seksnetwerke” (waar kinders meer as een seksmaat het) die inding - omstandighede waarin seksueel oordraagbare siektes en tienerswangerskappe kan floreer. Kinders kry deesdae op skool seksuele opvoeding, maar rolspelers verskil oor hoe dit gedoen moet word. ’n Onderwyseres in lewensoriëntering by ’n skool in ’n middelklasbuurt in die Kaapse metropool vertel:

“Die inhoud van die boeke wat ons van die onderwysdepartement ontvang, laat my hare rys. Die sketse maak my ongemaklik en ek kan net dink hoe ouers daarop sal reageer. Ons moet hulle wys hoe om kondome aan te sit, maar dit maak my ongemaklik. Kinders weet dikwels meer van seks as baie getroudes. Maar nie noodwendig die gesonde kant nie. Die beskikbaarheid van seksinligting in die media, op selfone en die internet maak dat hulle die verkeerde beeld daarvan kry.”

 

Ek wens ons het meer oor voorbehoeding op skool gepraat - Werner (16), ’n tienerpa

Phumeza Runey, ’n jeugkoördineerder van die Treatment Action Campaign (TAC), glo voorbehoedingsopsies moet aan kinders uitgewys word. “Dis ’n feit dat baie jong kinders seks het. Seksopvoeding is nie altyd suksesvol nie omdat onkundige ouers dit nie tuis voortsit nie. Mense wat dit by skole kom doen, moet beter opgelei word. Dit moet prakties wees. Wys kinders hoe om ’n kondoom aan te sit.”

Dr. Eve waarsku ouers ook dat ’n “onskadelike” TV-sitkom maklik die verkeerde beeld oor seks kan uitstuur.

“In sitkoms (uit alle televisieprogramme) word die meeste oor seks gepraat en die minste veilige seksboodskappe versprei. Mense slaap oor en weer, gewoonlik sonder beskerming. Gebruik dié programme as aanknopingspunt om met jou kinders te praat oor jou waardes rondom seks en ook om onveilige sekspraktyke uit te wys.”

Sy het self drie kinders grootgemaak en sê sy het dalk danksy haar werk dit oor die jare reggekry om seksualiteit op ’n gesonde manier in haar lewe te integreer - wat beteken sy praat daaroor aan etenstafel. So maklik soos wat sy en haar gesin gesels oor die jongste skindernuus by die skool of die oorlog in Irak, kan hulle praat oor wat hulle dink van ’n berig oor ’n groep 12-jarige meisies wat orale seks met hul kêrels gehad het.

Want sy glo dis gevaarlik om kinders nie oor hul seksualiteit en verhoudings op te voed nie. Sy stem saam met navorsing wat wys kinders wat ’n omvattende opvoeding oor seksualiteit kry, het eers later hul eerste seksuele ondervinding en is meer geneig om veilige seks te beoefen.

Haar benadering is: Moedig jou tieners aan om hulle van seks te weerhou totdat die tyd reg is. Maar doen dit op die regte manier - deur hulle genoeg inligting te gee en hulle toe te rus om goeie besluite te neem.

*Bykomende navorsing deur Lou-Ann Stone.

’n Tienerpa sê

Werner*, reeds ’n pa op 16, is dol op sy 2½ maande oue baba en sy 14-jarige meisie.
“Ons woon almal by my ma. Ek wens ons het meer oor voorbehoeding op skool gepraat.” Hy dink nie seksualiteitsopvoeding is voldoende nie. “Toe ek vir my pa vertel dat ek en my meisie seksueel aktief is, het hy my van kondome vertel. Ons het aan die begin skuldig gevoel oor die seks. Ek was aanvanklik nie ryp daarvoor nie. Ons beplan om te trou wanneer ons ouer is. Dis ’n groot probleem om seks te hê as jy jonk is en dinge werk nie uit nie. Dis my eerste meisie. As jy wil seks hê, moet jy die gevolge dra. Ek doen baie ekstra werk - verf borde op die gholfbaan en werk in ’n restaurant - om die rekeninge te help betaal.”


Frik*, Werner se pa

“Ek was kwaad en geskok toe Werner my vertel sy meisie is swanger. Ons kon gelukkig deur die emosies werk. Toe ek die baba vashou, het al die kwaad verdwyn. Op 41 was ek hartseer dat my kind so gou groot moes word. Dit was ’n rouproses. Ek het vir sielkundige berading gegaan. Ek is trots op hom. Hy besef hy het verantwoordelikhede. Ek het grootgeword soos baie Afrikaners - jy praat nie oor seks nie. Tieners kan nog nie seks hanteer nie. Maar jy kan nie net vir ’n kind sê om nié seks te hê nie, want dan gaan hy juis rebels wees.”

‘Ek sal net seks hê vir liefde’

“Soms wonder ’n mens of dit lekker is en jy kry bietjie lus, maar die gedagte aan ’n baba vir wie ek nie kan sorg nie, speel klaar met dié gedagtes. Daar is nie ’n ‘regte’ ouderdom vir seks nie. Ek sal net seks hê vir liefde. Ná skool. Deesdae trou baie mense nie eens nie, so, dis bietjie streng om te wag tot jy tróú. Dalk klink dit snaaks om te vra dat die ou ’n sertifikaat het wat sê hy het nie vigs nie, maar dis die realiteit. Ek dink nie dis cool dat baie van die gr. 11- meisies seks het nie. Van hulle rook en drink ook te veel. Miskien is dit al die flieks en TV wat hulle beïnvloed. Ek en my vriendinne fantaseer oor seks met mooi ouens of celebs soos Johnny Depp. Dit sit my baie af as ouens té macho en cool probeer wees. Iemand wat my probeer “op-chat” eendag, moet net nie lyk of hy nét aan seks dink nie. Hy moet sensitief en snaaks wees en ek moet veilig by hom voel. En ek moet weet hy gaan by my bly. Dán sal ek seks hê.” - Sonja, 16, Kaap


Sonja se ma:

“Mý kinders is baie meer oop oor seks as wat ek en my ma was. Mý seksles op universiteit van my ma was: ‘Oppas as die outjie so stadig sy hand op jou been sit . . ." Ek en my man het al kleintyd vir die kinders begin vertel. ’n Mens gee nie té veel detail nie - net wat reg is vir hul ouderdom, soos hulle daarvoor vra of nuuskierig begin raak. Gelukkig word tegniese onderwerpe soos ovulasie in die skool behandel. En die skool kan beslis nie later wag as gr. 6 of 7 nie. Ek probeer my tieners veral waarsku teen dwelms (selfs in ys) en drank op partytjies omdat dit inhibisies laat afneem. Oorslaap-partytjies is gevaarlike goed as dit nie beheer word nie. Ek wil kinders leer dat jou eerste seksondervinding spesiaal moet wees, waar albei mekaar moet respekteer. Wag beslis tot ná skool, want dis emosioneel ’n baie groot besluit. My kinders voel vry om ons enigiets oor seks te vra."

*Skuilname