In VIA (DStv-kanaal 147) se nuwe mooimaakprorgam Die skatties kom kuier spesiale gaste weekliks in die ateljee by die geliefde Christi Panagio en haar kennerspan om in die styl van ikoniese heldinne uit die 1950s en 1960s oorgetoor te word.

Die fotograaf en grimeerkunstenaar SJ van Zyl was die meesterbrein wat dié oulike stylprogram uitgedink het en aan die vervaardiger Diaan Lawrenson voorgelê het. SJ verskyn self gereeld in die program om gaste te help regstaan vir daai pragkiekie. Hier deel hy sy topwenke vir hoe jy vandag self vinnig-vinnig jou eie spogselfie kan neem.

FOTO: SJ van Zyl


1. Geen vrou is onfotogenies nie. Die geheim is om mense van ’n kant af te neem wat hul beste kenmerke beklemtoon. Hier is ’n maklike truuk wat werk: Hou die kamera eenvoudig net hoër en neem ’n foto van bo-af.

2. Om jou wangbene te beklemtoon, stoot jou ken voorentoe en af. Dit laat jou in ’n japtrap soos ’n model lyk.

3. Vir ’n meer statige voorkoms op jou foto, haal asem en hou dit dan in.

4. Jy hoef nie te veel grimering aan te sit om daai pragfoto te neem nie. Maak net seker jy het ’n velkleur is eweredig deur onderlaag aan te wend en jou gesig met so bietjie maskara, kleur op die lippe en blosser af te rond.

5. Glimlag. Die mooiste selfie is een waar jy glimlag.


Vir nog oulike mooimaakidees, kyk Woensdae om 17:30, Saterdae om 14:00 of Sondae om 15:30 Die skatties op VIA (DStv-kanaal 147).