Suid-Afrikaners is broos, weerloos en stukkend. Misdaad versprei soos ’n kanker deur ons pragtige land. Dit lyk nie of lewens meer veel werd is nie, en veral vroue, kinders en bejaardes loop deur. 

Is ek volgende? Is ek veilig by die poskantoor, in ’n koffiewinkel, by die skool, in my huis? Watter verskil kan ek maak? Wanneer is genoeg, genoeg? #AmINext? Dis net van die vrae wat tans op sosiale media geuiter word.

FOTO Unsplash

Hoewel hierdie artikel nie jou veiligheid kan waarborg nie, kan die volgende wenke jou dalk net help.

WhatsApp

Party van ons verkies dat WhatsApp nie moet wys dat ons boodskappe gelees het of selfs aandui wanneer ons laas aanlyn was nie. Maar vir jou eie veiligheid is dit noodsaaklik. Laat die groen regmerkies blou word. Indien jy, ’n familielid of vriendin sou verdwyn, sal hierdie app dalk met leidrade kan help.

FOTO WhatsApp

Hoe doen ek dit?

– Gaan regs onder na “Settings” en klik daarop.

– Klik op “Account” wat langs die sleutel-ikoon geleë is.

– Klik op “Privacy” – jy sal nou “Last Seen” bo-aan die lys sien. Klik daarop en kies “Everyone”.

Live Location

Indien jy alleen iewers heen stap, op jou eie take moet afhandel of op pad is na ’n restaurant of koffiewinkel, stuur op WhatsApp ’n “live location” aan jou geliefdes.

Hoe doen ek dit?

– In “Chats”, klik op die persoon aan wie jy die “live location” wil stuur.

– Langs die boodskap-boksie lê ’n blou plus-teken, klik daarop en kies “Share live location”.

– Die “Share Live Location”-boksie sal jou drie opsies gee: 15 minute, 1 uur of 8 uur. Kies een van die drie en tik ’n boodskap wat aandui wat jou planne is.

– Stuur jou “live location” aan die geliefde deur op die blou sirkeltjie met die wit papiervliegtuig te klik. As jy voel dis nodig, dui ook aan watter klere jy dra.

Uber

Maak altyd seker die nommerplaat, die motor se beskrywing en die Uber-bestuurder stem ooreen met wat op die Uber-app aangedui word. Die bestuurder se foon sal gewoonlik ook sigbaar wees, kyk of jou naam op sy foon verskyn voor jy in die kar inklim. 

Sodra ’n bestuurder vir jou aangewys is, verskyn ’n opsie om die rit met jou geliefdes te deel tot jy veilig by jou bestemming aankom. Stuur dit met elke rit – en as jy voel dis nodig, dui weer eens aan watter klere jy dra.

Noodnommers

Die meeste van ons het as kind die noodnommers uit ons kop geleer. Nou kan jy jou noodnommers op jou foon bêre. Plaas ’n “A” voor elke nommer sodat jy dit maklik kan vind. Byvoorbeeld: A polisie of A ambulans.

Algemene noodnommers

Nasionale polisienommer: 10111

Selfoon se noodnommer: 112

Nasionale ambulansnommer 10177

 
FOTO Unsplash

In geval van nood, watter inligting moet jy onmiddellik oordra?

– Die aard van die noodgeval.

– Waar presies jy is, en enige bakens wat die polisie kan help om jou op te spoor.

– Die aard van jou beserings of enige inligting om die verdagte uit te ken.

Selfverdediging: 7 wenke 

Dié YouTube-video wys jou wat jy moet doen.

Jy word gekaap! Dís wat jy moet doen

Hier's 'n paar belangrike wenke. Ons hoor en lees byna elke dag daarvan: motorkapings. Om gekaap te word kan met enigiemand gebeur. Dis iets waaraan min van ons wil dink, maar as dit die dag met jou gebeur, moet jy voorbereid wees: Wat doen jy as jou motor gekaap word?

Goue reëls om ’n kaping te verhoed:

– Móénie by ’n verkeerslig op jou selfoon praat of ’n boodskap stuur nie, al is dit in die dag. Wees versigtig en let op wat rondom jou aangaan. Jy's ’n maklike teiken as jou aandag afgetrek is.

– Sluit jou handsak, skootrekenaar en sakke met inkopies in jou kattebak toe. Moet nooit iets op die passasiersitplek hou nie.

– Sluit alle deure.

– Ry stadiger wanneer jy ’n rooi verkeerslig nader sodat dit na groen kan oorslaan teen die tyd dat jy daar kom.

– Moenie met oop ruite ry nie.

– Indien die verkeerslig rooi is en daar is ’n motor voor jou, laat genoeg ruimte tussen jou en die motor ingeval jy vinnig moet wegkom.

Bronne: Netstar, Wheels24

FOTO Unsplash

Wanneer jy deur ’n kaper gekonfronteer word:

– Bly kalm.

– Moenie stry nie.

– Moenie skielike bewegings maak nie.

– Vermy oogkontak, maar probeer detail onthou waaraan hy of sy uitgeken kan word.

– Voldoen aan die kaper se versoeke.

– Probeer so vinnig moontlik van die plek wegkom.

– Moenie ’n held probeer wees nie. Jou lewe is meer werd as jou motor.

* Inligting verskaf deur Dialdirect.

Jou kind is in die motor:

Dis enige ouer se nagmerrie.

– Bly kalm.

– Sê vir die kaper daar is kinders in die motor.

– As jy uit die motor moet klim, sit die kar af en vat die sleutel saam met jou. Gebruik dít as ruilhandel vir jou kinders. Die kapers kan die sleutel vat, as jy jou kinders kan kry.

– Maak seker jou oudste kind is altyd direk agter jou en die jongste oorkant jou. Wanneer jy jou kinders uit die motor haal, leun oor jou oudste kind om jou jongste te kry. Dit sal verseker dat jy albei kinders het.

Bron: Miway