Sy het ’n gelaat wat net beskryf kan word as perske-en-room en vlamblou-oë. Wanneer die 22-jarige Tana Ferreira van Pretoria voor die kamera inskuif, hou sy almal in die ateljee vasgenael. G’n wonder die beoordelaars en ons lesers het dié blonde student in inligtingsontwerp gekies as die wenner van vanjaar se Voorbladgesig-wedstryd nie.

“Ons Voorbladgesig-wedstryd twee jaar ná mekaar, en hier’s twee totaal verskillende wenners!” sê Michélle van Breda, redakteur van SARIE. “Verlede jaar se wenner, Alrie Velleman van Port Elizabeth, is donker, smeulend, weerloos-mooi; vanjaar se wenner is blond, stralend, selfversekerd – die een so treffend soos die ander. Dís die magic van voorblaaie – jy is altyd verras, want voorblaaie laat hulle nie voorskryf nie. Daardie gesig doen al die praatwerk, en as jy dit sien, weet jy net dis rég. Net soos ek verlede jaar geweet het Alrie is ’n wenner, so weet ek Tana is voorblad-perfek. Van Port Elizabeth tot Pretoria – SA se vroue is beeldskoon!

Meer verskillend as Alrie kan jy inderdaad nie kry nie, sê Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur. “Alrie is die introvert, Tana die ekstrovert. Alrie het ’n impak gemaak omdat sy byna perfek mooi is, terwyl dit juis Tana se interessante trekke is wat haar laat uitstaan.

En kyk na haar, sy’s beeldskoon. Sy is die bewys skoonheid het verskillende gesigte; jy kan dit nie in ’n boks druk nie. Skoonheid is nie net iets wat jy sien nie, jy vóél dit ook. Dit maak emosie wakker. En as jy iets voel, bly dit jou by.”

Daar is iets speels aan Tana, reken Leana Clunies-Ross, die fotograaf wat ons finaliste afgeneem het. “Sy kan lekker toneelspeel voor die kamera. Dit is byna asof sy ’n karakter aanneem. Sy is ook nie precious oor haar voorkoms nie. As haar hare dalk in ’n styl is waarvan sy nie hou nie, laat sy dit werk.

Sy is baie professioneel.”

Tana het ’n gesig wat jou wil laat kyk en weer kyk. Soms sien jy iets van die aktrise Lindsay Lohan in haar. Met haar hare teruggekam, het sy weer ’n sweempie van Sharon Stone, merk die haarstilis tydens die fotosessie op. En met ’n krullebol “is sy baie Marilyn Monroe”, sê Leana.  

Op ’n manier is Tana maar net die meisie langsaan, meen Fanie. “Maar dit maak haar juis interessant. Ek dink baie vroue sien hulself in haar. Haar skoonheid is nie intimiderend nie. Daar is ook ’n weerloosheid aan haar. Dít is altyd mooi aan ’n vrou, want ander vroue voel instinktief gemaklik met iemand wat weerloos is en mans wil so ’n vrou beskerm.”

Vroue én mans is inderdaad ewe mal oor Tana. “Tana Ferreira is vir seker die voorbladgesig. Natural beaut. Wat ’n pragtige mens,” het Mia-Anne O’Kennedy op SARIE se Facebook-blad gesê.

“Dames en here: [Tana is] die SARIE-Voorbladgesig-wenner van 2012. Mooi van binne en buite. Gemaklik en vol selfvertroue en definitief ?’n skoonheid met klas,” het Hardus du Bruyn op sarie.com gesê.

Tana self glo die belangrikste eienskap van ’n mooi vrou is selfvertroue. “Ek het al baie mooi vroue gesien wat onseker van hulself is en dit wys.”

“Tana is een van daai old souls en haar energie is aansteeklik,” sê Lou-Ann Stone, SARIE se multimedia-vervaardiger wat die video-opnames van die deelnemers gemaak het.

“Sy is gemaklik in haar vel, oukei met haar emosies en dit wys op kamera. Tydens haar video-onderhoud was dit soms moeilik om nie saam te praat of te lag nie. Want as Tana lag, lag almal! Haar ongewone skoonheid, haar oë, haar karakter – dit álles maak haar voorblad-materiaal. Sy’t ongelooflike selfvertroue en dit is altyd verfrissend om sulke energie op stel te hê.”

Dis duidelik die Ferreira-dogters is gemaak vir die kollig. Tana is nie die enigste een wat skitter voor die kamera nie. Haar suster, Mia-Anne, was ’n tyd lank te sien as Ansu Louw in die kykNET-sepie Villa Rosa.

WATTER FOTO SOU JY AS VOORBLADFOTO GEKIES HET? A, B OF C