Dit was haar Italiaanse oupa Rino se droom – om amandelbome op sy grond in die Klein-Karoo aan te plant.  

En vandag leef die 29-jarige Reni le Roux hierdie droom uit. 

Reni is een van die dinamiese boere wat SARIE gaan afneem het in samewerking met GWK, Agri SA en Shell Downstream SA.

Suid-Afrikaanse boere is wêreldwyd bekend vir hul harde werk, deursettingsvermoë, sakevernuf en ’n immergroen positiwiteit en passie. Tog is die gewone publiek se siening van die mense wat sorg dat ons kos op die tafel het, dikwels skeefgetrek. Onwillekeurig roep ons ’n prentjie van stof, sweet en kakieklere op. Hierdie beeld is ver van die waarheid, sê GWK, Agri SA en Shell Downstream SA, drie maatskappye wat die belange van ons land se boere op die hart dra. Omdat hulle daagliks met ons voedselverskaffers werk, weet hulle dis ’n ander storie.

Hier's Reni se storie:

RENI LE ROUX

29, VOEDSELVEILIGHEID EN BEMARKING, AMANTECO ALMONDS, PLAAS ADDERSFONTEIN, MONTAGU, WES-KAAP

Dit was haar Italiaanse oupa Rino se droom – om amandelbome op sy grond in die Klein-Karoo aan te plant. Só groot was sy passie dat sy dogter, Angela, en haar man, Hans, by hom aangesluit het.

Vandag is dit kleindogter Reni en haar broer, Stephan, wat die familiesirkel voltooi en saam besigheid doen op die enigste kommersiële amandelplaas in SA tans.

FOTO Marijke Willems

Op Addersfontein, waar amandelbloeisels boorde in ’n sprokieswêreld omtower. “Die boerdery en besigheid is groter as nét ’n werk,” sê Reni.

“Dis iets vir my familie en vir my.”

Sy en Stephan het aan die US studeer en teruggekom met nuwe idees en planne. Dit maak ’n verskil in hoe hulle besigheid doen by Amanteco Almonds. “Ons waag meer en neem spontaner besluite om die handelsmerk te groei.”

Stilsit is g’n Reni se aard nie. Sy doen pottebakkerswerk en is ’n foodie wat nuwe eetplekke uittoets. Sy hardloop, ry bergfiets en het al ingeskryf vir Survivor SA. Geen droom is te groot nie!

KYK DIE AGTER-DIE-SKERMS-VIDEO: