Dis wat vroue self sê: Ons doen alles! ’n Aanlyn-opname van Suid-Afrika se grootste internet-portaal vir vroue, women24.com, het getoon vroue is steeds die primêre versorgers van die kinders en sorg dikwels ook vir kos op die tafel. Dan skrik hulle ook nie vir gemeenskapswerk nie. Meer as die helfte van die vroue in die studie glo daar is nie balans in hul lewe nie.

Op die betrokke webblad reageer ’n vrou só: “Ek is ná 10 jaar geskei en kom geen verskil agter nie. Ek is eintlik beter daaraan toe.” En nog een: “Wat mans nie besef nie, is dat hul afwesigheid ons sterker maak.” ’n Kollega sê sy het lankal haar eie stel gereedskap aangeskaf, elektriese boor inkluis. Sy het moeg geraak vir baklei om dinge in en om die huis gedoen te kry.

’n Boor vervang jou man? Of is dit nie so eenvoudig nie? Dr. Nick Neave, ’n evolusionêre sielkundige, dink nie so nie. Hy skryf in die Britse Daily Mail (4 Desember 2006) vroue is geprogrammeer om van mans afhanklik te wees. Diep in ons psige glo ons dat ons nie alleen kan oorleef nie. Vroue kan maar die loopbaanleer klim - as dit by verhoudings kom, hou mans die troefkaart. Studie ná studie toon vroue soek mans met sosiale status wat ons kan beskerm. Nes ons grot-grootjies.

Prof. Ronel Rensburg, hoof van die departement bemarkings-en-kommunikasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria, beaam dit: “Ek het al gesien dat vroue vrees hul man gaan hulle verlaat. Vroue is meer bereid as mans om ’n affair te vergewe. En nie omdat ons meer vergewensgesind is nie. Vroue het vandag meer vryhede. Ons kan aanvoer dat ons nie mans nodig het nie, sonder seks kan klaarkom en alles net so goed (of beter) as mans kan doen. Maar grawe rond in die vrou se psige en jy vind dat ons steeds nie ‘klaargemaak’ sonder ’n man voel nie. Amper asof die Adam-been nog nie ingeglip het nie. Dis ook asof vroue wat met dominante, ryk en suksesvolle mans getroud is, ’n beter selfbeeld het.”

 

Diep in ons psige glo ons dat ons nie alleen kan oorleef nie - dr. Nick Neave, sielkundige

 

Ons is dalk geneties geprogrammeer om na ’n ridder met ’n duur, Duitse motor te hunker. Maar ons is ook pragmaties. Ons woeker met ons talente. Women24.com praat selfs van ’n florerende “supervrou”-kultuur. Maar die sogenaamde “supervrou” is ’n mite van die jare tagtig, die era van die jappies wat net mooi alles wou hê.

Intussen het ons besef ons het keuses. Ons het seer sekerlik geleer om meer gebalanseerd te leef: om ons tyd beter te bestuur, nee te sê, en tyd vir onsself te maak.

Of het ons?

Die gesaghebbende webwerf thefreedictionary.com gee die volgende definisie van “supervrou”: ’n vrou wat al die take verrig wat met verskillende heeltydse rolle geassosieer word, soos om ’n salaris te verdien, te studeer, ma en eggenote te wees. Klink dit soos jy?

Statistieke praat

  • Net 14% van uitvoerende bestuurders is vroue.
  • En 7,1% dien in die direksie van maatskappye. (Sensus vir SA vroue in korporatiewe leierskap, 2004.)
  • Mans en vroue bestee die meeste tyd aan persoonlike versorging. Vir mans is sosiale en kulturele aktiwiteit volgende op die lys. Vir vroue is dit huiswerk. Mans bestee gemiddeld meer tyd as vroue aan betaalde werk. Sowat 6% van gesinne het ’n huishulp. Maar selfs dan doen vroue meer huiswerk as mans. Vroue met ’n klein kind bestee daagliks gemiddeld sowat een en ’n half uur aan kinderversorging. Mans gemiddeld net sewe minute. (Statistiek Suid-Afrika, 2000)
 

Dr. Ria Smit, sosioloog aan die Universiteit van Johannesburg, wys daarop dat die beeld van die “supervrou” nie altyd realisties is nie. Dis immers moeilik om ’n balans te handhaaf tussen die eise wat jou verskillende rolle aan jou stel. Dit kom uiteindelik alles op keuses neer, skryf nog ’n vrou op women24.com. Dis die verskil tussen ons en ons voorgangers wat vir stemreg geveg het. Wat hul voorskote afgehaal en gaan werk het.

Die vangplek? Ons het te veel keuses. Ons wil alles hê. En ons is boonop ons eie, grootste kritici. Enige teken van weerloosheid of swakheid is taboe, sê sy. Ons glo derhalwe steeds die “supervrou”-mite. Die gevolg: skuldgevoelens as ons nie die perfekte werknemer én ma is nie. Sou dit nie ’n verligting gewees het as daar ook ’n superman in die prentjie was nie? is ’n vrou op women24.com se versugting.

Shelagh Foster, redakteur van die tydskrif Your Pregnancy, praat van die “getroude enkelouer”. Sy skryf op women24.com dis wanneer daar nog ’n ouer is - gesond, bekwaam en net so goed toegerus om die huishouding aan die gang te hou. Net: Hy verkies om dit nie te doen nie. En dit terwyl jy waarskynlik ook voltyds buitenshuis werk. Maar selfs al is dit nie die geval nie, word daar steeds 24/7 op jou knoppie gedruk. En ek het gedink net ek voel só, het vroue (en enkele mans) daarop gereageer.

Hoor wat sê dr. Joshua Coleman in The Lazy Husband: How to Get Men to Do More Parenting and Housework (Piatkus-uitgewers, 2006): Navorsing toon vroue is gelukkiger en meer tevrede met die huwelik as hul mans met die kinders se opvoeding en huiswerk help. Vroue op wie se skouers die huiswerk én kinderopvoeding grotendeels rus, is meer geneig om siek te word en depressie te ontwikkel. En vroue wie se mans hul deel in die huis doen, stel glo meer in seks belang. Studies toon ook telkens dat kinders in sulke huwelike beter aangepas is, sê Coleman.

Dit terwyl Statistiek Suid-Afrika bevind het vroue doen daagliks gemiddeld drie keer meer onbetaalde werk (huiswerk en die versorging van die kinders) as mans. Ja, manne, julle doen meer as jul pa’s en oupas. Maar steeds nie genoeg nie.

Joshua Coleman benadruk dat julle nie lui is nie. Julle swoeg by die werk, kom tuis en doen dingetjies in en om die huis. Maar as jou vrou rondskarrel met skottelgoed en kinders en jy sit voor die TV gáán sy jou beskuldig dat jy lui is.

Dink bestuurder, dink vroulik

Lize Booysen, hoogleraar in organisasie-gedrag en leierskap aan Unisa se Nagraadse Skool vir Bedryfsleiding en ook kliniese sielkundige, sê die tradisionele siening is “dink bestuurder, dink man”. Sy en ’n kollega, Stella Nkomo, het egter in navorsing bevind daar is ’n verskuiwing in plaaslike vrouebestuurders se persepsie na “dink bestuurder, dink manlik én vroulik”. En selfs na “dink bestuurder, dink vroulik”.

In organisasies wat veranderings ondergaan, soos nou in Suid-Afrika, word sg. vroulike leierskapstyle as doeltreffender beskou. Dis oper, meer interaktief en daar word na konsensus gesoek. Die klem val op “interaksies” eerder as “transaksies” tussen mense. Samewerking en gelykheid is belangrik, status van minder belang. In teorie het vrouebestuurders dus ’n voorsprong, hoewel dit nie in die praktyk gesien word nie. (Navorsing toon wit mans is steeds meermale in bestuursposte.)

Vroue het ook deesdae sterk rolmodelle wat wys jy kán dit self doen. Dis ’n stukrag om sterker te word. Dan is daar die “feminisering” van mans. Die geslagte ontmoet mekaar in die middel waar almal gelyk is. Vroue het meer selfvertroue om dinge te doen. En mans het nie probleme daarmee nie. Hulle is minder macho, meer ondersteunend in die huis en daar is meer tuisbly-pa’s (in Suid-Afrika en in TV-reekse soos Desperate Housewives!). (Hoewel Ronel Rensburg sê daar is studies wat toon dat min vroue aangetrokke is tot mans wat dié meer huishoudelike take tot die nadeel van hul eie beroep verrig.)

 

Hoekom laat vroue mans hiermee wegkom? Volgens Ria Smit word baie vroue steeds gesosialiseer dat ons hoofsaaklik vir die huishouding verantwoordelik is. Ons voel dus skuldig om ons mans daarby te betrek. Susan Maushart skryf in haar boek Wifework - What Marriage Really Means for Women (Bloomsbury, 2002) hoe sy ná haar troue by haar nuwe woonplek ingestap en die badkamer van bo tot onder geskrop het.

“’n Vreemde manier om vroulike gebied af te sper?” wonder sy. Daarna het sy aandete gemaak. Niemand het haar voorgesê of gevra om dit te doen nie. Maar dis ’n ongeskrewe kontrak wat jy aangaan as jy die dag trou, sê sy. Sy glo om die gesinslewe te red moet vroue se “werkbeskrywing” verander.

Maar vroue is ook nie onskuldig nie. Ons dring daarop aan dat ons manier die enigste manier is. Dalk laat dit ons in beheer voel. Ria Smit sê baie vroue maak dit moeilik vir hul mans om tuis meer verantwoordelikhede oor te neem. Jy maak seker as hy iets doen, is dit volgens jou standaarde. Mans sê dis ’n groot rede waarom hulle nie gemotiveerd en kundig voel om veral die versorging van die kinders oor te neem nie.

En die werkplek is nie simpatiek teenoor die man se verantwoordelikhede as pa nie, aldus die boek Baba: Men and Fatherhood in South Africa deur die redakteurs Linda Richter en Robert Morrell (HSRC uitgewers, 2006). In die hoofstuk “Men, work and parenting” skryf Alan Hosking, uitgewer van die bekroonde menslikehulpbronnetydskrif HR Future, mans kry nie die geleentheid of ondersteuning om ’n gesonde gesinslewe te bou sonder dat dit hul loopbaan benadeel nie. Kraamverlof vir mans word bv. nou maar eers stadigaan ’n werklikheid. Soos vroue, sit mans dus met ’n dilemma: Hoe blink jy uit in jou werk én omarm jou pligte as gesinsman?

Het ons dan mans nog hoegenaamd nodig? Seker nie op ’n biologiese vlak nie. Ronel Rensburg vertel Britse wetenskaplikes het ’n embrio se stamselle in sperms verander. Dis ’n deurbraak vir onvrugbare mans, maar beteken ook dat vroue in die toekoms dalk self sperms sal kan vervaardig. Maureen Dowd sê sommer pront in Are Men Necessary? When Sexes Collide (G.P. Putnam’s Sons-uitgewers, 2005): Vroue het mans nodig soos wat ons roomys nodig het. In die toekoms sal hul rol meer ornamenteel wees, sê sy moedswillig. Die Y-chromosome - die manlike seks-chromosome - is boonop besig om te krimp, toon navorsing. Terwyl X - die vroulike seks-chromosome - uitmuntend vaar. En oor ’n honderdduisend of wat jaar kan mans verdwyn! (Ander navorsing toon egter die Y-chromosome is besig om te stabiliseer.)

Franse sosioloë het twee jaar gelede ’n studie bekend gemaak wat toon dat Amerikaanse en Franse mans nie meer so macho is nie. Tradisionele manlike waardes soos outoriteit en viriliteit maak glo plek vir kreatiwiteit en sensitiwiteit. Mans kan hulself wel red deur die helende krag van sinlike begeerte, haal Dowd ’n Britse genetikus aan. ’n Mens het seks omdat dit lekker is. Die proefbuis sal dus nie sommer die dubbelbed vervang nie.

Op women24.com gaan lesers se kommentaar voort: Staan op en doen iets aan die saak. Sê vir jou man waardeur jy gaan. Hy sien waarskynlik net die helfte raak van wat jy doen. En maak seker dat jou seun ’n ander siening van ’n vrou se “plek en pligte” het . . .

Ek’s ’n 'supervrou'

Andrea Rademeyer van Pretoria, besturende direkteur van Ask Afrika, ’n maatskappy wat marknavorsing doen, vóél soos ’n “supervrou”. En dis vir haar lekker, dankie! Sy werk minstens 12 uur per dag, kook saans vir haar gesin (en dis nie Woolies-kos nie) en versorg die kinders (onderskeidelik een en vyf jaar). Soggens gee sy hulle ontbyt en saans bad sy hulle en sit hulle in die bed. Dit verg goeie beplanning, sê sy. Sy staan Saterdae vroeg op om die komende week se inkopielys op te stel en te besluit wat sy elke aand gaan kook. Haar beloning: ’n gelukkige, gesonde gesin.

En haar man help: Hy neem die kinders crèche toe en gaan haal hulle smiddae weer. As sy vasbrand, doen hy die inkopies. Andrea sê die korporatiewe vrou se grootste uitdaging is om hulp te vra. Syself het klein begin: deur haar man vir ’n koppie tee te vra. “Praat oor jou behoeftes en moenie opdragte gee nie. As jy sê ‘ek het dit nou só nodig dat . . .’, is daar min mans wat nie gaan help nie. Mans is trots daarop as hul vrou in die werkplek presteer en ’n goeie salaris kry. Maar as jy hom impotent laat voel, gaan hy nie ondersteunend wees nie: ‘Doen dit!’ of: ‘Jy verwaarloos my!’ gaan jou nie veel in die sak bring nie.”

 

Ons kan dalk sonder ’n man klaarkom. Maar wil ons? Ronel sê vroue kan, met die uitsondering van sekere godsdienste en kulture, vandag keuses maak. As jy ’n “supervrou” wil of kan wees, is dit jou keuse. As jy ’n huisvrou wil wees, gekoester en beskerm deur jou man, ook goed. Uiteindelik moet daar ’n balans wees tussen jou “behoefte aan ’n man” (ek het ’n man nodig) en jou “begeerte vir ’n man” (ek wil ’n man liefhê/bemin). Jou identiteit moet dus nie deur ’n man bepaal word nie, maar dit keer jou nie om ’n man lief te hê nie.