Sonja Herholdt. Hykie Berg. Adriaan Vlok. Mense op Oprah Winfrey se kletsprogram. En destyds Hansie Cronjé. Wat het hulle gemeen?

Hulle het in die openbaar gebieg. Sonja oor haar aborsie lank terug en Hykie oor sy dwelmverslawing. Adriaan Vlok, gewese minister van wet en orde, oor sy aandeel destyds om eerw. Frank Chikane, voormalige struggle-aktivis, te vergiftig, en Hansie oor wedstrydknoeiery.

En skielik bieg almal.

“Die sluise is oop en niemand gaan dit weer toekry nie,” sê Koos Kombuis, die kultusfiguur-sanger en skrywer. Hy ryg self derms uit in sy outobiografie, Seks & drugs & boeremusiek: Die memoirs van ’n verraaier (Human & Rousseau, 2000). En ook in sy rubriekbundel, Die dieper dors (Human & Rousseau, 2006).

Nie net is bieg oor jou sondes ál meer algemeen nie, mense onthul ook makliker hul persoonlike geheime. Nutsman Riaan Venter wil ná 17 jaar skei, en sy vrou, Petra, vertel in Huisgenoot van jare se “hel en pyn”. Patricia Lewis en agt ander vroue - onder wie bekendes soos die sangeres Nedine Blom, aktrise Liane Heyl en gladiator Marion Hind - onthul in dieselfde tydskrif hoe die musiekpromotor Louis van Wyk hulle glo geteister het.

Verlig jou las

Die Amerikaanse skrywer Martha Beck is verwerp deur die Mormoon-gemeenskap waarin sy grootgeword het. Sy het gebieg haar pa, ’n gesiene man, het haar gemolesteer. Sy skryf só oor bieg op Oprah.com: “Geheime is lewendig, daarom is dit so moeilik om dit dig te hou. Ons wil graag glo dat ons geheime stil in ons kop lê. Maar hulle groei. Hulle word meer soos wat ons nuwe geheime vorm om oues te ondersteun. Hulle migreer selfs - en ‘koloniseer’ die mense naaste aan ons. Maar die vreesaanjaendste ding oor geheime is: Hulle probeer aanmekaar ontsnap. En om dit begrawe te hou moedig isolasie, obsessies, verslawing en selfs algehele sielkundige vernietiging aan.

“Dit kan egter ’n ramp wees om lukraak te bieg. Jy moet leer wanneer, waar, hoekom en aan wie jy jou geheime moet verklap.” Beck het navorsing oor verslawing gedoen. Sy sê die meeste verslaafdes waarmee sy onderhoude gevoer het, het hul pyn probeer verlig.
Pyn wat veroorsaak is deur ’n donker geheim wat hulle sielkundig geïsoleer het. Om hul geheim te vertel was ’n kragtige stap op die pad na heling. Daar is egter dinge wat privaat is, eerder as ’n geheim. Bieg net oor geheime wat met jou vermoë inmeng om ten volle te leef, waarsku sy.

 

In die Westerse kultuur was bieg nog altyd belangrik. Die regstelsel bied versagting as jy berou het; stroomop tieners, ontroue egpare en hervormde misdadigers bieg op geselsprogramme; kinders leer op skool om hul foute te erken; en die openbare mening dwing politici om jammer te sê vir hul misstappe.

“In die literatuur bly bieg ’n belangrike genre,” aldus die Amerikaanse joernaal Critique: Studies in Contemporary Fiction, 2006. In die boek If I Did It gee O.J. Simpson, gewese Amerikaanse voetbalster, ’n hipotetiese beskrywing van die moorde op sy vrou en haar minnaar. O.J. is jare tevore op dié aanklagte vrygespreek. (Die boek is weens openbare kritiek nooit versprei nie.)

Plaaslik het Sonja se boek Sonja - meisie van Nigel: ’n Lewensverhaal (versprei deur Global Creative Studio) onlangs verskyn. Sy het voor die verskyning daarvan baie openlik met SARIE gepraat.

In (hoofsaaklik Westerse) samelewings het tradisionele ondersteuningstelsels verkrummel. Nou word tegnologie al hoe meer gebruik om te kommunikeer. Dis ’n aanduiding dat as jy nie ’n emosionele klankbord het nie, vind jy ander maniere vir dié basiese behoefte, meen Penny Kokot Louw, sielkundige van Pretoria.

Jy sal selfs op TV soos ’n voëltjie jou hart uitsing. Oprah, die koningin van klets, het ’n reuse-aandeel daarin. Haar “terapeutiese” aanbiedingstyl en die poniekoerantagtige geselsprogram-genre het gelei tot Amerika se selfhelp-obsessie - en dit het ’n “bieg-kultuur” geskep. Nie net huil Oprah saam met haar gaste nie, sy hang self intieme detail oor haar gewigsprobleme, liefdeslewe en seksuele mishandeling aan die groot klok, word geskryf op die webblad wikipedia.org

En kyk maar na die Jerry Springer-program. Dis ’n sirkus waar die gehoor deelnemers uitjou en kasty. (Oprah kan darem nie oor dieselfde kam as Jerry en kie. geskeer word nie.) Oor dié soort programme het dr. Stuart Fischoff reeds jare gelede snydend in ’n artikel, “Confessions of an ex-talk show psychologist”, in Psychology Today (September/Oktober 1995) gesê: “As jy jou probleem wil ondersoek, gaan vir terapie. As jy jou lewe wil uitstal, jou man wil aanval en verneder, of wraak wil neem, neem deel aan ’n geselsprogram.”

Ons het in Suid-Afrika ook geselsprogramme, maar nog nie met dié sensasionele inhoud nie. Felicia Mabuza-Suttle het dit jare gelede in Felicia op e.tv probeer. Maar niemand wou bieg nie. Selfs ’n hedendaagse program soos e.tv se Forgive and Forget, waar deelnemers mense teenoor wie hulle ’n onreg gepleeg het voor die kamera om vergifnis vra, is glad nie sensasioneel aangebied nie, sê Nadia van der Merwe, kommunikasiekundige aan die Universiteit van Johannesburg.

Op die web borrel en kook dit, maar plaaslik is die ergste onthullings nog anoniem. Volgens Etienne van Heerden, skrywer en stigter-redakteur van LitNet, neem bieg op die web die rol van die letterkunde oor. “Want die vertellinge lees soms nes goeie stories, is erg boeiend en uit die hart geskryf. “LitNet se biegkamer, ‘BiegNet’, is een van dié webwerf se gewildste ruimtes. Ek het ‘BiegNet’ begin nadat ek op CNN van ’n Amerikaanse webruimte gehoor het wat mense aanmoedig om op poskaarte te bieg.

Want ons hóú so baie daarvan

Hoekom verlustig ons ons in ander se openbare ontboesemings?

Volgens Penny Kokot Louw, ’n sielkundige van Pretoria, laat dit ons verlig voel dat ander, dikwels ons helde, ook maar net mense is. Veral dié wat so perfek voorkom en wat ons nog altyd maar net kon beny. Mense is in wese afloerders. Ons word gefassineer deur hoe ander mense hul lewe leef - as ’n raamwerk om te besluit hoe om ons eie te bestuur. Ons lees graag van ander se lewe omdat ons só deur hulle kan leef, om goed te beleef wat ons nooit sal waag nie, nader aan die menslike natuur te voel en om te identifiseer met die algemene stryd wat ons almal elke dag stry. Dit plaas ons eie probleme in perspektief - en vir ’n kort tydjie hoef ons nie aan ons eie eksistensiële eensaamheid te dink nie.

 

Een vrou het bely sy steek kondome op winkelrakke met ’n speld vol gate. Dis ’n kompulsie wat sy het. “Binne 30 minute nadat LitNet met ‘BiegNet’ begin het, het ons die eerste vertelling gehad: ’n Skrikwekkende belydenis deur ’n predikant wat ons ná ’n halfuur gevra het om dit te onttrek. Rolspel is een van die interessantste verskynsels op die web. Mense sal byvoorbeeld onder skuilname allerlei identiteite uitleef.

“Wat ‘BiegNet’ so anders maak, is dat mense juis na hul ware self terugbeweeg, net onder ’n skuilnaam,” sê Etienne.

Of soos dr. Janne Dannerup, ’n sielkundige van Johannesburg, dit stel: “Mense wat bieg, haal hul sosiaal aanvaarbare masker af. Openbare emosionele eerlikheid is nog ’n nuutjie. As mense in terapie besluit om hul vordering met familie en vriende te deel moet ons die familie en vriende dikwels help om dié emosionele openheid te verwerk. 'n Paar mense is dapper genoeg om hulself in die openbaar bloot te stel - vratte en al. Maar ek skat die brander ‘om dit alles te ontbloot’ het nog so vyf jaar nodig om spoed op te tel,” sê sy.

Hansie Cronjé het gebieg omdat hy deur die regstelsel verplig is. Bekendes soos Sonja en Hykie bieg omdat hulle voel ander mense kan uit hul ervaring leer. Om dieselfde rede het die Binnelanders-aktrise Sandi Schultz openlik vertel hoe sy ’n slagoffer van die berugte Yeoville-reeksverkragter was. En ook dat sy as kind in haar ouerhuis gemolesteer is.

Maar ons gewone mense? Volgens Koos Kombuis was Afrikaanse mense tot en met die 1994-verkiesing baie privaat. “Ons ouers het ons geleer om dinge eerder onder die mat in te vee,” sê hy. Deesdae is daar ’n groter openheid. Daarteenoor is die intieme kring van gesin, vriende en familie minder heg. Janne sê mense wat na aan mekaar is, gesels nie meer gereeld nie - en toon onopsetlik ’n gebrek aan belangstelling in mekaar se daaglikse stories. Maar elke mens het ’n diepliggende behoefte om erkenning te kry en gehoor te word. As jy dit nie kry nie, kan jy uiteindelik innerlike druk ervaar om op ’n oordrewe manier te reageer om dit te kry. Soos om in die openbaar te bieg.

Volgens haar voel dit goed as ander mense genoeg belang stel om na jou te luister. En as jy jou sosiaal aanvaarbare masker afhaal, voel dit asof jy iets vir jouself doen, sê sy.

Bieg hét potensieel baie terapeutiese waarde: Dis waarskynlik waarom dit eeue lank al ’n belangrike rol in godsdiens speel. Volgens Penny is ’n geheim dikwels ’n swaar emosionele las. Jy moet aanmekaar op jou woorde en gedrag let om seker te maak jy laat nie die aap uit die mou nie.

Dis dalk waarom sekere glanspersoonlikhede later in hul lewe bieg: Wanneer hulle in ’n lewensfase is waar hulle hulself en hul sukses, asook hul verhouding met ander en die groter wêreld herevalueer. Dit kan vir ’n ster (of enigiemand anders) na ’n leë oorwinning voel as ander net die perfekte persona lief het wat jy na buite projekteer. Om oor jou foute (en dus jou essensiële menslikheid) te bieg hou die risiko in dat ander jou kan verwerp. Dit bied egter ook die kans op onvoorwaardelike aanvaarding.

Maar pasop: Sy sê dis onwaarskynlik dat bieg in die openbaar dieselfde betekenisvolle ondersteunende rol gaan hê as die onmiddellike terugvoer van mense wat jou goed ken en vir jou omgee. “Dit het waarde om in die openbaar eerlik te wees. Maar maak seker jy is voorbereid op die reaksie.”

Daar is ’n tyd en plek vir alles, sê Janne. Ook vir bieg. “Soek iemand met ’n objektiewe mening buite jou gewone sirkel van vriende en familie. Iemand wat jy kan vertrou om dit geheim te hou - totdat jý gereed is om dit in jou eie tyd bekend te maak. “As jy nie só iemand in jou bestaande netwerk vind nie, raadpleeg ’n sielkundige,” is haar raad.

2 bekendes oor bieg

Die aktrise Therese Benade, wat openlik gepraat het oor haar stryd teen bulimie:

Ek het moeg geraak daarvoor dat mense ’n supermenslike beeld van mekaar verwag, sonder om te dink wat daaragter skuil. My stryd was ’n swaar een. En ek het geweet ek het ’n verantwoordelikheid teenoor vroue wat dieselfde ervaar. Daar is so baie vroue wat met kwessies rondom hul gewig sukkel. Dis makliker om met iets in jou lewe te cope as jy hoor iemand anders het dieselfde deurgemaak - en dat dit nou goed gaan. ’n Mens is ’n vreemde ding - dis amper asof ons meer waarde heg aan wat bekendes sê. Dis dus ’n verligting om te hoor iemand in die kollig het dieselfde probleme as jy. Oprah se gewigsprobleme het my altyd laat dink: Sjoe, dis dan seker regtig ’n probleem en nie net my eie simpelgeit nie! Ek was aanvanklik senuweeagtig oor wat mense se reaksie gaan wees, maar die moontlike positiewe gevolge het my vrese oorskadu. As ek weer kon kies, doen ek dieselfde. Dit was terapeuties en het my heelword-proses aangehelp. Elke keer wanneer ek daaroor praat, is dit ’n bevestiging van die dinge en gedagtes wat my gesond hou. Dis ook merkwaardig hoe nederig so iets jou laat voel: Dat dít wat jy deel, iemand se lewe kan beïnvloed. Dis ’n groot verantwoordelikheid en dit dwing my om te hou by wat ek verkondig. As ek voor almal verklaar ek glo nie in diëte nie, moet ek daarby hou!”

Koos Kombuis - "Die mense vir wie my ontboeseminge bedoel was - familie vir wie ek kwaad was, oud-medewerkers in die musiekbedryf, ens. - het nie gereageer soos ek verwag het nie. Ek het heimlik gehoop op versoening, maar meestal was hulle net vies daaroor. Die meegevoel van vreemdelinge het wel vir my baie beteken. ’n Mens voel tog ligter om te weet: Die waarheid oor dié onderwerp is nou eindelik uit. In minstens een geval het ek dit ná die ontlading reggekry om te vergewe. Dit was met my ‘klagstaat’ teen Anton Goosen in Die dieper dors. Ons kommunikeer nou weer oor ditjies en datjies, al is dit net per epos!”