Trolle is deesdae nie net tuis tussen die blaaie van ’n broers Grimm-sprokiesverhaal nie. Dié nare karakters leef voort, om elke hoek en draai van die kuberruim, waar hulle jou enige oomblik met hul giftige kommentaar kan bykom. En in stede van hul sprokie-gedaante van vlymskerp tande, vuil vingernaels en harige voete, is vandag se trolle vermom as die vriendelike buurvrou, jou huisdokter of selfs nabye familielid.

Hokaai, dink jy, dis bietjie vergesog! Maar volgens die aanlyn nuusblad Huffington Post kan ’n internet-trol enigiemand wees wat moedswillig onmin in die kuberruim saai, wat met opset boodskappe op sosiale media plaas wat mense uittart, beledig, kwets of verkleineer. En dis veral onder die Facebook-brug waar dié trolle boer. 

Veral glanspersoonlikhede loop deur. Dink maar aan die Afrikaanse sangeres Karlien van Jaarsveld en die hertogin van Sussex, Meghan Markle. “Kan sy ophou om haar maag so vas te hou?!”, “Genade, sy is ’n aandagvraat”, “Sy hoort nie in die koninklike familie nie”, “Me-Again! Alles gaan net oor haar!”, “Sy trek onnet aan”, “Tipies Amerikaner” ... dis maar ’n paar van die nare aanmerkings wat Facebook-gebruikers onder ’n plasing oor Meghan se babatee op BBC se amptelike blad gemaak het. 

LONDON, ENGLAND - FEBRUARY 07: Meghan, Duchess of
Die hertogin van Sussex, Meghan Markle, ontvang gereeld op sosiale media geteiken. FOTO Getty Images / Gallo Images

In 2018 het Microsoft ’n peiling oor digitale hoflikheid gedoen. Uit die 14 lande was Suid-Afrika die onbeskofste! Onder meer is gekyk na hoe dikwels mense blootgestel is aan ongewenste kontak, seks-tekste, en wie slagoffers van trolle en aanlyn teistering was. Die verskillende lande het ’n persentasie uit 100 gekry. Hoe hoër, hou onbeskofter. SA het die eerste plek beklee met 78%, met Brittanje laaste met 45%.

Hoekom dink mense nare kommentaar op sosialemedia-platforms is aanvaarbaar? Dat hulle selfs met rassistiese of seksistiese aanmerkings kan wegkom? Studies in sielkunde en kommunikasie het bevind dat internet-trolle veral laat in die aand aktief is. Op ’n Maandag is hulle op hul ergste. Jy val dalk nie individue aan nie, maar dink niks daarvan om jou bank, of Uber, of supermark iets leliks toe te snou nie op hul amptelike Facebook-blad – wat deur mense bestuur word.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Hier’s vyf van die redes wat kenners gee vir trol-gedrag.

1. Jy dink jy is anoniem

Mense verkeer onder die (wan)indruk dat hulle enigiets kan sê en daarmee wegkom. Sommige platforms laat mense steeds toe om onder ’n ander @-naam kommentaar te lewer. 

2. Jy dink niemand ken jou nie

Selfs al lewer mense kommentaar onder hul eie naam, voel hulle niemand sal hulle herken nie. Hulle voel ver verwyder van die realiteit en meen hulle sal nooit die ander persoon of die gebruikers van die platform in die regte lewe teëkom nie. 

3. Jy dink jy weet waarvan jy praat

Gebruikers voel hulle het die reg om hul mening te lug omdat hulle baie van die onderwerp weet. So dink hulle dalk dis hul reg om die hertogin van Sussex af te kraak, want hulle “ken” die koninklike familie nou al jare en volg hul doen en late. Of mense dink iemand in die openbare oog is volksbesit en jy het inspraak in hul private lewe. 

4. Ander mense praat net so lelik

As jy al jare lank ’n sosialemedia-gebruiker is, kan jy ’n vorm van desensitering ervaar. In die verlede sou jy dalk twee keer dink voor jy reageer, maar nou word ons so daagliks met negatiewe kommentaar gebombardeer dat ons reken ons kan ook maar ons stuiwer in die armbeurs gooi. Dis makliker om ’n snedige boodskap te los as om dit in die persoon se gesig vir hom te sê. 

5. Dis in jou aard

Party van ons is van nature meer uitgesproke as ander en sukkel om ’n wag voor ons mond te hou, terwyl ander gou op hul morele perdjie klim. Hulle ag dit as’t ware hul plig om die kuberruim op te voed. 

Young women at home with her dog
FOTO Getty Images / Gallo Images

Maar wat doen hierdie trol-gedrag aan ons psige?

Volgens ’n studie wat in die wetenskapsjoernaal Adolescent Health, Medicine and Therapeutics gepubliseer is, is snedige kommentaar op sosiale media die skadelikste vorm van boelie. Mense van alle ouderdomsgroepe loop deur, maar veral kinders en tieners ly daaronder. Slagoffers is meer geneig om selfdood te pleeg as dié wat in die “regte” lewe geboelie word, het die studie bevind.

Boonop spring die trol self nie die gevolge van sy gedrag vry nie. Op die lange duur kan die individu verleer om empaties te wees en nie gewone verhoudings met mense aanknoop nie. 

Wat kan ek doen? 

* Moenie op nare kommentaar reageer nie. Hoe meer reaksie internet-trolle ontlok, hoe meer word hulle aangehits.

* Rapporteer enige kommentaar wat rassisties, seksisties of lasterlik is.

* Dink twee keer voor jy kommentaar lewer op iets of dit selfs net deel of “like”. Dit kan gevolge inhou.

BRONNE: BBC, Independent, Lifewire, Psychology Today, Forbes, The Conversation, ABC News