Sue Barnes, ’n ma van KwaZulu-Natal, is gisteraand as SARIE/Clarins se Most Dynamic Woman of the Year aangewys vir die werk wat sy onder jong meisies in haar omgewing doen met haar Project Dignity.

Meer as 7 miljoen meisies in Suid-Afrika bly elke maand vir sowat ’n week uit die skool terwyl hulle menstrueer omdat hulle nie geld het vir sanitêre produkte nie. Hierdie syfers het Sue geskok en sy’t besluit om self in te spring en met ’n volhoubare oplossing vorendag te kom.

Sue Barnes (2013 se wenner) en Gert-Johan Coetzee Sue Barnes (2013 se wenner) en die ontwerper Gert-Johan Coetzee

Met haar agtergrond in modeontwerp het sy ’n spesiale broekie met ’n aanknip- sanitêre doekie ontwerp wat wasbaar en herbruikbaar is. Sy het al meer as 30 000 pakkies, elk met ’n broekie en doekies, uitgedeel.

“Hierdie projek is al die afgelope drie en ’n half jaar deel van my lewe,” het Sue gisteraand gesê. “Dit is 'n wonderlike reis.”

Omdat baie van die meisies uit huishoudings kom waar kinders aan die hoof is, is daar niemand wat hulle opvoed oor menstruasie nie. Daarom gee Sue ook inligtingsessies oor puberteit, menstruasie en persoonlike higiëne. Tydens hierdie sessies span Sue voorskote in wat spesiaal deur die ontwerper Gert-Johan Coetzee ontwerp is. Dié voorskote beeld die voortplantingstelsel van vroue uit.

Die rok en voorskoot ontwerp deur Gert-Johan Coetzee ten bate van Project Dignity Die rok en voorskoot ontwerp deur Gert-Johan Coetzee ten bate van Project Dignity

Omdat Sue voltyds werk, het sy ná ure aan Project Dignity gewerk, maar sy het gisteraand aangekondig dat sy nou al haar aandag aan die projek gaan gee.

*Lees meer oor Sue se storie in SARIE se Maart-uitgawe.

Angela Larkan (2011-wenner), Jenny Crwys-Williams, Olivier Courtin-Clarins, Sue Barnes (2013-wenner) Angela Larkan (2011-wenner), Jenny Crwys-Williams van Talk Radio 702, besturende direkteur van Clarins, Olivier Courtin-Clarins, en Sue Barnes (2013-wenner)

Angela Larkan (2011-wnner), Sue Barnes (2013-wenner) en Olivier Courtin-Clarins Angela Larkan (2011-wenner), Sue Barnes (2013-wenner) en Olivier Courtin-Clarins