2016 was nie maklik vir die Olimpiese kampioen Chad le Clos nie. Weke voor die Spele in Rio het albei sy ouers ’n terugslag in hul gesondheid beleef. Sy goue droom het verkrummel en hy en sy afrigter se paaie is ná 14 jaar uiteen. Tóé het Chad vir SARIE gesê hy wil fokus op sy "beste hoofstuk" nog ….

En toe doen hy dit sowaar! Gisteraand by die Wêreldbyeenkoms in Boedapest, Hongarye, het Chad weer goud in die 200 meter-vlinderslag losgeswem. Netwerk24 berig hy is "verjeug om sy wêreldkroon van 2013 terug te wen".

Hy het verwag hy sou derde of vierde eindig. Maar toe kraai hy koning – binne net 1 minuut 53.33 sekondes! Die Amerikaanse swemmer Michael Phelps se wentyd in dieselfde item by Rio was 1 minuut 53.36. Dit beteken met sý tyd kon Chad die goue medalje verower het!

No more looking back #Redemption

A post shared by Chad Le Clos (@chadleclos92) on

Verlede jaar het SARIE in Kaapstad met Chad gepraat.

Jy sê Rio was ’n teleurstelling ...

Rio was vir my ’n aaklige ervaring. Soveel aspekte daarvan was teleurstellend. Moenie my verkeerd verstaan nie, twee silwers is nie sleg nie. Maar ... in my kop moes ek goud gewen het. Daar’s redes, redes wat ek nooit met iemand sal deel nie. Maar ek maak nie verskonings nie. Dis wat ek ook hoop om in Suid-Afrika se sportgees te vestig ... om niemand te blameer nie. Ek is nie klaar nie. My beste hoofstuk lê nog voor.

Maar jou jaar (2016) was immers vol persoonlike uitdagings.

Dit was nie ’n maklike jaar nie. Maar ek gaan dit nie as ’n verskoning gebruik nie. Die hele lewe gaan oor hoe jy reageer, hoe jy ’n uitdaging aanpak. Ek wil eendag onthou word as daardie ou wat kon opstaan ná ’n teleurstelling, nadat hy keer op keer verloor het. Jy moenie moed verloor nie. Die lewe is veel meer as ’n goue medalje. Jy moet die beste wees, vir jouself, jou beste weergawe.

Hoe het jy dit reggekry om ná Rio weer in die swembad te klim?

Dit was glad nie moeilik nie. In 2012 was dit moeiliker, want toe het ek daardie Olimpiese golf gery. Ek was toe bang, ek wou nie weer in die swembad klim nie. Nou was dit makliker. Ek het net ingespring, ek móés myself weer opbou.

Words cannot describe this moment #budapest2017 #worldchampion #redemption #humbled

A post shared by Chad Le Clos (@chadleclos92) on