Sukkel jy om mense se name te onthou? Party van ons is beter daarmee as ander, maar jy kan dié vaardigheid aanleer. Boonop op enige ouderdom!

Almal was al in daardie situasie: Jy word uitgenooi na ’n geleentheid waar jy slegs een of twee mense ken en met die intrapslag word jy aan vyf nuwe gesigte voorgestel. Skaars twintig minute later kan jy nie één naam onthou nie en moet jy ingewikkelde sinskonstruksies begin inspan om name te vermy. Nog erger: Jy sien hulle ’n paar dae later en moet dan óf erken jy kan nie hul naam onthou nie óf tot die vlak van “Hei, jy!” daal. Is sommige mense net meer bedrewe om name te onthou? Glad nie, sê kenners. Met ’n bietjie oefening hoef jy nooit weer dié sosiale flater te begaan nie.

Hoekom vergeet jy name?

Die grootste rede? Jy gee eenvoudig nie genoeg om nie, sê Andrea Kellerman, ’n opvoedkundige sielkundige en stigter van EQ Advant-Edge, ’n breinvaardigheidsentrum in Durban. “Jy onthou dinge wat vir jou belangrik is, dít wat buitengewoon of snaaks is, en dít wat emosie wek. Jou brein ignoreer die vervelige – dié dat jy nie kan onthou wat jy vyf Maandae terug gedoen het nie, tensy dit ongewoon was.” En boonop luister jy waarskynlik nie goed nie, sê Michael Abrahamson, ’n geheuekenner en ontwikkelaar van die Powerbrain-geheuekursusse. Dis ’n bose kringloop: As iets nie vir jou belangrik is nie, gee jy nie aandag nie en “hoor” jy dalk die naam, maar jy lúister nie om te onthou nie – en dan is die stryd reeds verlore.

Is party mense net beter met name?

Ja en nee. Vir sommige mense is dit belangriker om name te onthou en dan sál hulle, sê Andrea. Vir party persoonlikheidstipes is dit wel moeiliker – veral dié wat neig na angstigheid en aandagafleibaarheid. “Mense met aandagafleibaarheid- en/of hiperaktiwiteitsteuring, of diegene wat bloot ’n bietjie verstrooid is, sukkel dikwels om te konsentreer en inligting in te neem. “Mense wat sosiaal onbeholpe is, sal waarskynlik ook meer op hul eie ongemak gefokus wees en nie oplet na iemand se naam wanneer hulle voorgestel word nie. “En enigiemand wat gespanne is, maak nie saak wat die rede is nie, sal ook meer sukkel om name te onthou – jou liggaam skei meer kortisol af wanneer jy stres en dié hormoon affekteer jou geheue.”

FOTO Getty Images/Gallo Images

Leefstyl speel ’n rol

As jy voorheen maklik name kon onthou, maar deesdae sukkel, kan daar verskeie leefstylfaktore wees wat jou geheue dalk aantas, sê dr. Maurits Kruger, ’n homeopaat van Health Renewal (met takke landwyd). “Jou leefstyl het beslis ’n invloed op hoe jou brein funksioneer. Stres, te min oefening, onvoldoende slaap en ’n ongesonde dieet met te veel suiker, alkohol en verwerkte kosse is die grootste sondaars.” As jy egter net één ding doen om jou geheue te verbeter, sal dit wees om ’n beter nagrus te kry, sê hy. Diep slaap en die fase van vinnige oogbeweging (REM sleep) is noodsaaklik vir ’n gesonde geheue, want tydens dié twee slaapfases konsolideer jou brein jou geheue en raak dit ontslae van oortollige stowwe wat deur die loop van die dag opbou. Dis basies die brein se skoonmaaktyd. “As jy nie sewe tot agt uur se slaap inkry nie, of aanhoudend deur die nag wakker word, sal jy nie genoeg in dié slaapfases wees nie en word jou geheue afgetakel,” sê dr. Kruger. As jy egter nie een van dié leefstylsondes pleeg nie, of jou vergeetagtigheid vererger, kan iets anders fout wees. “Raadpleeg dan ’n dokter – veral as dit gepaardgaan met ander simptome wat jy voorheen nie gehad het nie.”

Kan jy jou geheue vir name verbeter?

Kenners is dit eens, jy kan. “Baie van ons dink jou geheue verswak soos jy ouer word, maar dis nie ’n gegewe nie. Daar is baie ouer mense met ’n uitstekende geheue omdat hulle gesond leef en hul brein bly uitdaag en oefen,” sê dr. Kruger. Andrea sê ook jou brein kan op enige ouderdom nuwe selle vervaardig, verander en verbeter – mits jy moeite doen. “Dis ’n geval van use it or lose it,” sê dr. Kruger. “Verskeie studies het al bewys jy kan jou geheue en breinfunksionering verbeter deur jou brein fiks te hou. Enigiets wat jou brein uitdaag, soos om nuwe vaardighede aan te leer, probleme op te los (ja, Sudoku is goed vir jou!) en baie te lees, is goeie oefening vir jou brein. Jou geheue vir name is ook ’n vaardigheid wat met oefening kan verbeter, nes enigiets anders.”

Probeer dié kunsies

Michael sê hy en ander geheue-kenners gebruik gereeld dié metodes om name en ander inligting te onthou. “Hoe meer jy dit doen, hoe makliker word dit.”

1. Luister. Skenk aandag wanneer jy aan iemand voorgestel word. As jy die eerste keer nie hul naam hoor nie, of nie seker is jy’t reg gehoor nie, vra dadelik dat hulle dit herhaal.

2. Vra vrae. As dit ’n ongewone naam is, vra: Hoe spel jy dit? Waar kom dit vandaan? Wat beteken dit? Hoe meer inligting jy het, hoe beter die kans dat jy sal onthou.

3. Herhaal die persoon se naam in jul gesprek. Moenie dit forseer nie, maar hoe meer jy dit kan herhaal, hoe beter.

4. Gee jou verbeelding vrye teuels. As jy byvoorbeeld ’n Marié ontmoet, verbeel jou sy eet ’n hele pakkie Marie-beskuitjies op een slag op, krummels oral om haar mond. Hoe snaakser of vreemder dié beeld, hoe beter is die kans dat jy haar naam sal onthou. Of, as jy reeds iemand met dieselfde of ’n soortgelyke naam ken, kan jy jou verbeel dié twee slaan vuis oor wie die naam mag hou.

5. Oefen. Herroep saans al die nuwe mense wat jy ontmoet het, ook hul name. Dié herhaling is belangrik om die nuwe inligting in jou langtermyngeheue vas te lê.

Gebruik jou sintuie

Span ook jou sintuie in, is Andrea se voorstel. Het die persoon sagte hande? Ruik hul parfuum lekker? Het hulle ’n vreemde stem? Let op na ongewone karaktertrekke of koppel iets aan hul voorkoms sodat jy in jou geheue nog inligting met hul naam verbind. Theuns hoef nooit te weet sy groot neus rym met sy naam en dís hoekom jy hom onthou nie.

Dit neem tyd ...

Moenie jou kwel as dit nie dadelik maklik is om nuwe name te onthou nie. Dit verg oefening. En tyd. As jy boonop stres daaroor, sê Andrea, gaan jy waarskynlik in elk geval nie onthou nie. Vertrou jouself en jou nuwe, skerp geheue wat elke dag verbeter!

Kontak EQ Advant-Edge: www.eq-advantedge.co.za

Health Renewal: www.healthrenewal.co.za

Powerbrain: www.powerbrain.co.za