LEES NOU: 7de Laan se Pedro: ‘Ek het die lewe verwyt’

Die dorp Rawsonville, aan die voet van die Du Toitskloofberg, sal tot sy oudag toe twee betekenisse vir Pedro inhou: as die plek van verlies en die plek van vrede. Sy eie Yin en yang.

Lees meer

******

Helderberg-ramp: 32 jaar gelede

Deur Marguerite van Wyk en Marida Fitzpatrick

Die Lottering-gesin: Valerie, Cornelius, Samantha en Owen. FOTO Verskaf

SAL Vlug 295, die Helderberg, het op 28 November 1987 in die see naby Mauritius neergestort met 159 mense aan boord. Vir hul geliefdes is daar steeds onbeantwoorde vrae. In 2012 het SARIE met Frenske Otzen en Samantha van der Walt gesels. Albei het geliefdes in die Helderberg-ramp verloor.

SARIE onthou:

Vrou skenk geboorte enkele dae ná man se dood

Frenske Otzen en haar seun, Peter, in 2012. FOTO Verskaf

Die bekroonde Kaapse fotograaf Frenske Otzen het 25 jaar gelede sonder haar geliefde man aan haar sy die lewe aan klein Peter in die Park Lane-kliniek in Johannesburg geskenk. Haar Deense man, ook Peter, was tien dae tevore aan boord van die Helderberg. Sy onthou alles nog soos gister:

Op Vrydag, 13 November, het ek Peter die laaste keer by die glasdeur van die lughawe sien wegstap van my ... ek was op pad na die ginekoloog.

Twee dae voor hy sou terugkeer, het ons nog oor die telefoon gepraat. Die 28ste was ek effens ontsteld nadat ek die oggend die radioversoek gehoor het dat almal wat mense op Vlug 295 verwag, die lughawe moet bel omdat die verbinding met die beheertoring verbreek is.

Ek het nie veel daaroor gedink nie, maar tog my ma en ’n lugwaardin-vriendin gekontak. Nadat ek na drie verskillende mense by die lughawe verwys is, was ek ’n bietjie verwilderd. Tóé het die dinge begin gebeur ...

Die hele dag was soos ’n bisarre tuinparty met mense wat in en uit ons huis beweeg het met eet- en drinkgoed. Die name van almal op die vlug het heeldag oor die TV-skerms geflits, maar daar was geen nuus oor die vlug nie. Teen sesuur dié aand het ons gehoor almal aan boord is oorlede.

Dit het gevoel asof ek in ’n nagmerrie was. Ek het altyd aan Peter gedink as iemand wat dinge sou oorleef. Ek wou nie voor almal ineenstort nie en is badkamer toe. My ma, wyle Marja Winjtje, het van Kaapstad gevlieg en in dié tyd by my kom bly, ín my kamer. Ook my vriende het my ongelooflik ondersteun. Ek het my van die wêreld afgesluit, sonder energie, maar ek moes aangaan.

Ons het sy gedenkdiens in die kerk gehou waar ons vroeër daardie jaar getroud is. Jou kop is ’n snaakse ding, hy speel speletjies ...

Ek het na die mat van pers jakaranda-blommetjies by die kerk gekyk en wou net foto’s neem en dit vir Peter wys, net om te besef ek kón nie.

Klein Peter se geboorte op 9 Desember was baie emosioneel, maar ook wonderlik. My eerste gedagte toe hy gebore is, is dat hy eendag, as hy 21 word, my in sy aandpak, nes sy handsome, donker en sjarmante pa, na die opera gaan vergesel. En dit ís ook so vandag.

Die eerste Kersfees ná Peter se dood was die ergste. Ek was sielsalleen. Tot vandag toe is ek nie mal oor Kersfees nie. Ek onthou net tydens die gedenkdiens het die predikant gesê dit help nie jy vra vir God ‘waarom ék?’ nie. Ek kry baie heling in die natuur. As ek na die see kyk, dink ek: Peter is opgeneem in die see, water verdamp daaruit in wolke en dit word reën. Ek glo in die kringloop van die lewe ...

Dit was ’n groot aanpassing om skielik sonder my man te wees. Ek moes leer om gloeilampies om te ruil, muurproppe te vervang en wetlike aspekte rondom sy dood te hanteer.

My en my seun se verhouding is baie heg. Ek het ook die kans op tweede liefde gekry. Ek is dankbaar vir die lewe wat ek nou het, die sirkel is nou weer volmaak. Ons hoop net met die ondersoek sal almal helderheid kry oor wat regtig gebeur het.

- Marguerite van Wyk

Op 14 verloor sy albei ouers

Die Lottering-gesin: Valerie, Cornelius, Samantha en Owen. FOTO Verskaf

Dit het soveel jare gelede gebeur, maar steeds teister die vrae Samantha van der Walt. Hoekom is haar ouers dood? Hoekom het die Helderberg-vliegtuig geval? Hoekom het daar ’n brand in die vliegtuig begin?

Sy sit in haar huis in die noorde van Johannesburg en gesels oor die ramp wat haar op die ouderdom van 14 wees gelaat het, haar lewe op ’n heel ander koers geplaas het. Teen die sitkamermuur is vrolike foto’s van haar en haar gesin. Haar lewe het uitgedraai soos dit moes, glo sy. Sy’s gelukkig getroud, sy en haar man het ’n suksesvolle onderneming en hulle het twee kinders vir wie sy baie lief is.

Maar tog het sy nie afsluiting oor die ramp wat haar ouers, Cornelius en Valerie Lottering, destyds geëis het nie. Elke nou en dan, wanneer sy na die fototjie kyk waarop sy, haar broer en haar ouers glimlaggend in vlak seewater staan, haar pa se arms om hulle, sy styf teenaan sy lyf, dan wonder sy weer: Wat het régtig gebeur?

Ons was ’n doodnormale, gelukkige gesin. Ons het baie getrek, want my pa was ’n streekbestuurder vir Motorola. Later het hy sy eie onderneming begin en ons het in die suide van Johannesburg gaan bly. My ma was ’n tuisteskepper en het my pa later met die onderneming gehelp.

Sy was ontsettend saggeaard. Maar so sag soos sy was, so hard was haar lag. Almal het haar daaraan geken. In die middae het my kamer altyd die meeste son gekry en as ek ’n middagslapie gevat het, sou sy altyd by my kom lê.

My pa was ’n yslike man van ses voet drie. Hy was streng, maar regverdig. Ons het altyd met sy katamaran op die Vaaldam gaan seil. Ek was 14 en my broer, Owen, 16 toe hulle dood is. My pa moes na die Verre Ooste gaan vir sake en my ma is saam. Dit was haar heel eerste oorsese vakansie en sy was buite haarself van opgewondenheid. Sy was maar 39 en my pa 37.

Die snaakse ding is dat sy so bang was om 40 te word. Sy’s dood twee dae voor haar 40ste verjaardag. Ek het by my tannie-hulle gebly terwyl my ma en pa weg was en was een oggend vroeg besig om aan te trek toe ek hoor my oom praat oor die foon met ’n familielid. Ek kon uit die gesprek aflei die vliegtuig word vermis. Wat daarna gebeur het, is ’n bietjie van ’n waas.

Ek kan nie mooi onthou nie – seker van die skok.

Ek weet net daar was baie mense in en uit die huis, van die familie het gehuil en in ’n stadium – ek dink dit was die volgende dag – het ons almal voor die TV gesit en hulle het gesê die vliegtuig het geval, almal is dood, en my ouers se name het saam met al die ander name op die TV-skerm verskyn.

Al wat ek gevoel het,was skok. Jy besef nie regtig wat besig is om te gebeur nie. Dis moeilik om die ervaring te beskryf. Sommige familielede het gehuil, maar ek en my broer het nie gehuil nie; nie eens op die begrafnis nie. Jy kan net nie die werklikheid aanvaar nie ... jou ma-hulle is dan net met vakansie, gelukkig en gesond. Later het ek kwaad geword omdat hulle nie terugkom nie, dat hulle weggegaan het en ons net gelos het. Ek weet dis irrasioneel, maar as kind gaan jy deur daardie emosies, jy voel hulle het jou verlaat. Ons het by ons peetouers, my ouers se sakevennote, op Port Shepstone gaan woon.

Hulle was ontsettend goed vir ons en het ons in hul huis ingeneem sonder om ons ooit te laat voel hulle doen ons ’n guns. Later het ek gehuil – toe die besef begin deurdring hetdat hulle regtig vir altyd weg is. Maar ek het aangegaan, ’n kind het mos ’n manier om aan te gaan. Ek het my ma veral gemis toe ek getroud is en toe my seun gebore is. Toe het ek die verlies intens ervaar.

Intussen het ek die trauma van die ramp verwerk. Nou is ek net soos enige ander mens wat ouers mis wat nie meer daar is nie. Maar die vrae bly. Daar’s soveel teorieë en soveel leuens. Ek het nodig om die waarheid te hoor voordat ek werklik afsluiting kan kry.

- Marida Fitzpatrick