Die volgende inligting verskyn in die nuwe bêreboek vir ouers en self grootouers, SARIE Eet!, nou te koop. Waaroor gaan SARIE Eet!? Michélle van Breda, SARIE se redakteur, gee meer duidelikheid:

Om ’n gelukkige kind groot te maak is elke ouer se grootste vreugde, en – kom ons sê dit maar – uitdaging! Boaan die lys van dinge om rég te kry is die kweek van goeie eetgewoontes. Maar waar om te begin?SARIE Eet! bied antwoorde op baie van die vrae wat ’n ma daagliks vra. So met die voor-die-tyd deurlees het ek weer besef dis die soort inligting wat haar gaan help om haar kind beter te verstaan en meer ingeligte besluite te neem. En om haar op die ou end die nodige gemoedsrus te gee. Boonop is SARIE Eet! prakties, met baie wenke, idees en resepte wat die hele gesin op die pad na ’n gesonder leefstyl sal plaas.Maar die grootste plus? Die artikels is nagevors deur geregistreerde dieetkundiges, wat ook ma’s is. Hulle verstaan!

Small black girl being fed with a carrot by her fa
FOTO Getty Images / Gallo Images

Wat is ’n kieskeurige eter?

Kortliks, ’n kind wie se dieet ly aan ’n gebrek aan verskeidenheid. Die volgende is algemene kenmerke van kieskeurige eters:

- Hulle eet ’n beperkte verskeidenheid kossoorte.

- Hulle weier sekere kossoorte, veral vrugte en groente.

- Hulle probeer nie graag nuwe kossoorte nie.

- Hulle verkies drankies bo kos.

- Hulle aanvaar slegs ’n paar kossoorte.

Sad baby girl sitting on high chair holding brocco
FOTO Getty Images / Gallo Images

Wat veroorsaak dit?

Jou kind se oorlog met die ertjies kan verskeie oorsake hê, wat ’n kombinasie van die volgende mag insluit:

- ’n Soeke na aandag (emosionele redes).

- Ouers wat self nie graag nuwe kossoorte probeer nie (rolmodelle).

- Sensoriese afkeure (ontwikkelingsredes).

- ’n Voorkeur vir sout of soet kossoorte wat versterk kan word deur herhaalde blootstelling aan byvoorbeeld skyfies of lekkers en kan lei tot ’n afkeur van ander kossoorte.

Children at modern school facility
FOTO Getty Images / Gallo Images

Is dit ’n probleem?

Dit kan wees … Groei en algehele gesondheid kan benadeel word as ’n kind ’n baie beperkte hoeveelheid en verskeidenheid kos eet. ’n Kieskeurige etery kan ook ’n invloed hê op voedselkeuses later in die lewe. Hou jou kind dop vir tekens van moegheid, bleekheid of herhaalde infeksies. Raadpleeg ’n pediater of dieetkundige indien jy ’n gebrek vermoed en jou kind se dieet wil aanvul.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Wat kan jy daaraan doen?

- Wees geduldig. Ouers sien dikwels positiewe resultate wanneer hulle ’n bepaalde kossoort vir ’n tyd lank herhaaldekere op die bord sit, sonder om die kind te dwing om dit te proe of te eet. ’n Nuwe kossoort word soms eers ná 10 probeerslae aanvaar, en mag self soveel as 20 blootstellings verg.

- Dit kan net ’n fase wees. Tussen die ouderdom van een en vyf jaar is daar sekere periodes waarin ’n fisiologiese afname in eetlus gesien word. Tydelike kosgrille en versnelde groeiperiodes kan ’n invloed hê op eetpatrone.

- Hou die groter prentjie in gedagte. Dit is moontlik dat daar sensoriese uitdagings kan wees wat aandag verdien.

- Moenie te vinnig oordeel nie. Jong kinders is geneig om neofobies te wees, dus bang vir nuwe dinge, en die meeste ouers ervaar dit as kieskeurigheid. Studies toon egter dat baie kinders, ten spyte van aanvanklike teenkanting, uiteindelik ’n kossoort aanvaar as hulle herhaaldelik daaraan blootgestel word. 

FOTO Getty Images / Gallo Images

Wat om NIE te doen NIE

- Moenie jou kind druk, dwing, omkoop of om die bos lei om te eet nie – dit kan lei tot ander probleme.

- Moet nooit kos gebruik as beloning of straf nie.

FOTO Getty Images / Gallo Images

Tegnieke om te probeer

- Voed om aptyt te bevorder

Gee etes en peuselhappies op gereelde tye gedurende die dag. Ongereelde peuselhappies kan veroorsaak dat jou kind voor ete versadig is. Bied melk en ander vloeistowwe eers ná die ete of peuselhappie aan, want dit kan ook jou kind laat vol voel.

- Voorkom afleidings

Die televisie, fone en tablette kan ’n kind se aandag aflei en veroorsaak dat hy belangstelling verloor in sy kos. Dit is altyd eerste prys as die hele gesin saam om ’n tafel kan sit en eet.

- Knyp oë toe vir die gemors

Laat jou kind toe om self te eet en moenie raas as sy ’n bietjie mors nie. Kinders geniet die onafhanklikheid.

- Minder is meer

Moenie vir jou kind groot porsies voorsit nie. Kleiner hoeveelhede op ’n slag is minder intimiderend. Hy sal vra vir nog as hy steeds honger is.

- Moenie oorhaastig wees nie

Wag ’n paar dae of selfs weke tussen nuwe kossoorte en sit dit op verskillende maniere voor (bv. gekook, gebak, opgesny).

- Gee keuses

Bied twee nuwe kossoorte gelyktydig aan en laat jou kind kies watter een sy wil probeer, selfs al vat sy net ’n happie.

- Wees ’n goeie voorbeeld

Kinders kom gou agter waarvan hul ouers nie hou nie en mag onbewustelik daardie kosse vermy op soek na hul ouers se goedkeuring.

Soek jy nog raad, wenke en heerlike resepte waaraan jou kleingoed kan smul? Koop SARIE Eet!

Wat jy nog kan verwag?

Eet jou kind emosioneel? | Só maak jy met fiemies | Die A-Z van mikronutriënte | Suiker: Weet hoeveel jou kind inneem | Porsies vir elke ouderdom | Help jou tas-defensiewe kind | Alles oor kosallergieë en -intoleransies | Voed jou kind se verbeelding | Die waarheid oor geriefskos | Koshigiëne | Maaltydplan en inkopielys | Vrugte en groente vir elke seisoen | Gesonde happies vir tussenin

 PLUS nog hope resepte, idees en wenke!