Jou kinders gee kleur en lewe aan jou huis. Maar aardetjie tog, hulle wil eenvoudig net nie ophou baklei nie. Gedurig in mekaar se hare! Menige ouer was al raadop hieroor. Dis net ’n fase, dink jy. Maar wat gebeur as die wedywering nooit ophou nie? 

Die koningin van selfies, Kim Kardashian, het onlangs aan die Live With Kelly and Ryan-aanbieder, Ryan Seacrest, verklap dat haar oudste, North, nie van haar jongste, Saint, hou nie.

“Ek weet nie of dit is omdat sy die ouer sussie is nie. Ek het gedink dit was ’n fase, maar sy hou regtig nie van haar boetie nie ... Die fase gaan net nie weg nie,” het Kim moedeloos gesê.

Kyk hier:

Maar moenie moed opgee nie, sê kenners. Hanteer die situasie reg, en hulle word dalk goeie vriende.

Leer hulle só sosiale vaardighede Sodra jou kinders kan verstaan, span sibbe-wedywering in om hulle sosiale vaardighede aan te leer.

- Moedig positiewe kommunikasie aan. Eet almal saam. Fokus daarop om primêre gevoelens te deel. ’n Kind moet bv. seerkry-gevoelens bespreek, eerder as sê “Boetie het my pop gebreek”. Jou kinders kan dan ook ervaar hoe julle as ouers behoeftes en verskille hanteer.

- Leer jou tieners om eerder selfgeldend as aggressief te wees.

- Lê vroeg reeds reeds reëls neer: ’n Gevloek, lelike name, ’n geskree of geweld is ontoelaatbaar.

- Beloon goeie gedrag. En prys hulle wanneer hulle konflik reg ontlont het.

- Leer jou kinders om kritiek met ’n positiewe stelling op te volg. Dit help om die fokus van fout vind te verander na ook erkenning gee.

- Leer almal vaardighede om stres te hanteer. Ontspanne gesinslede baklei minder.

- Leer jou kind om diep asem te haal wanneer sy haar vervies. Sy moet haarself vra: Is ek kwaad vir my broer of net gefrustreed met die situasie? En práát oor haar gevoelens.

- Leer hom om vir iets te vra, eerder as te gryp. - Leer jou kinders dat ’n mens soms kan ooreenkom om van mekaar te verskil. Dit vestig respek vir verskillende standpunte.

Bou só goeie verhoudinge

- Stel ’n goeie voorbeeld. Kinders wat voortdurend aan erge ouerlike konflik blootgestel word, neig meer tot angs en aggressie.

- Leer hulle geweld is nie ’n oplossing nie.

- Prettige gesinsaktiwiteite skep ’n goeie atmosfeer en gemeensaamheid.

- Woon as gesin mekaar se aktiwiteite by. Dit bevorder omgee en samehorigheid.

- Respekteer elke kind se vermoëns en talente.

- Keer dat jou kinders honger, verveeld of te moeg word. Dan baklei hulle éérs.

- Leer jou kind dat sy ’n geterg kan ignoreer, dit met humor kan hanteer, met die terggees kan saamstem of kan sê “genoeg is genoeg”.

- Leer hulle om mekaar geluk te wens met prestasies.

- Moenie hulle met mekaar vergelyk nie.

- Laat jou kinders spesiaal en veilig voel, en voel dat jy hul geselskap geniet.

* Die artikel, "My kinders bly stry - hoe hou ek kop?", deur Riette Rust, het oorspronklik in SARIE se September 2007-uitgawe verskyn. Kenners, onder andere, opvoedkundige sielkundiges, was geraadpleeg.