As jou lewensmaat met angs sukkel, kan dit baie stremming op jul verhouding sit. Want dit kan al die lekker uit die lewe boelie – ook joune.

Alle verhoudings het uitdagings. Maar as een van julle ’n angsversteuring het, kan dit dié probleme vererger, volgens die Anxiety and Depression Association of America (www.adaa.org). Vermyding is nou gekoppel aan angs – die “derde party” in ’n verhouding, noem dr. Colinda Linde, sielkundige van Johannesburg wat op depressie en angs fokus, dit selfs. Dit kan spesifiek wees, soos ’n fobie, of chronies, soos ’n algemene angsstoornis (general anxiety disorder of GAD). Jy is dan gereeld, minstens ses maande lank, intens angstig en bekommerd oor ’n wye verskeidenheid dinge.

As jou maat angstig is

’n Angsversteuring gaan gewoonlik gepaard met baie persoonlike pyn. Maar dit kan vir ’n lewensmaat net so moeilik wees. Want jy, as die maat van iemand met angs, dra dikwels meer as die normale vrag verantwoordelikhede, sê Karlien Erasmus, sielkundige van Pretoria. Verhoudings word grotendeels beïnvloed omdat die angslyer homself dikwels isoleer, sosiale geleenthede vermy en verantwoordelikheid aan jou oorlaat. Die angs neem eenvoudig “oor” en hy sien “net nie kans” om die situasie te hanteer nie.

FOTO Unsplash / Pablo Heimplatz

ADAA som op:

- Huishoudelike roetine word dikwels omvergewerp en spesiale planne/toegewings vir jou maat gemaak. Jy moet dalk al die gesinsverantwoordelikhede oorneem soos rekeninge betaal, inkopies doen en die kinders karwei.

- Dalk maak die angsversteuring dit moeilik om werk te kry, of dit te behou. Jy is dus by tye die enigste broodwinner.

- Jou geliefde kan dikwels roetinesosiale bedrywighede vermy. Jou sosiale lewe ly ook daaronder en julle kan albei geïsoleerd voel.

- Jy kan hartseer, depressief of bang wees. Of kwaad, bitter en gegrief teenoor jou wederhelf. En dan skuldgevoelens hê omdat jy so voel.

FOTO Unsplash / Pablo Heimplatz

Ondersteun jou maat

- Leer meer oor die spesifieke angsversteuring en moedig jou maat aan om behandeling te kry. Bly onbevooroordeeld, soos of jy vir of teen medikasie of terapie is. Hoor wat die psigiater sê. Gedragsterapie, wat fokus op die verandering van gedagtes en gedrag om só ’n positiewe uitwerking op jou emosies te hê, werk veral goed vir angsversteurings.

- Besef dis buite sy beheer, dis nie “aansit” nie. Vermy dus etikette soos neuroties, pateties, simpel of mal.

- Besluit saam oor kleiner, realistiese doelwitte en take sodat hy versigtig die grense waarmee hy gemaklik is, kan uitskuif. Skryf dit neer en sit dit waar julle dit albei kan sien. Dit sal help om emosioneel meer in beheer te voel. #Bemagtig jou geliefde deur hom by besluite, afsprake en die afmerk van afgehandelde take te betrek.

- Moenie al die verantwoordelikheid namens jou lewensmaat oorneem nie. ’n Belangrike deel van die herstelproses is dat hy self verantwoordelikheid moet aanvaar vir dinge wat hom angstig maak.

- Gee positiewe terugvoer vir tye/ situasies wat hy minder angstig was, of gekies het om anders op angssnellers te reageer.

- Moenie net aanvaar jy weet wat jou maat nodig het nie. Vra hoe jy kan help. Luister fyn na die antwoord.

- Erken dat jy nie weet hoe dit voel om ’n paniekaanval of enige ander vorm van irrasionele angs te hê nie.

-  Besef dis moeilik om te weet wanneer jy geduld moet hê en wanneer jy druk moet uitoefen. Vir balans moet jy dikwels probeer en leer uit jou foute.

Bronne: Karlien, dr. Linde, www.adaa.org

FOTO Unsplash / Jiri Wagner

Help jouself

- Dis belangrik, en nie selfsugtig nie, dat jy ook na jou eie behoeftes moet omsien.

- Moet dus nie jou eie lewe en belangstellings opgee nie. Dit help om asem te skep van die daaglikse stres. Jy sal dan meer energiek, gelukkiger, gesonder en beter voorberei op uitdagings voel. Moenie dat jou lewensmaat se angsversteuring jou ook insluk nie.

- Bou ’n goeie ondersteuningstelsel op. Vriende en familie by wie jy jou hart kan uitstort. En jou ondersteun op maniere wat jou maat nie kan nie – emosioneel, geldelik, ens.

-  Stel grense. Besluit waar joune lê en lig jou wederhelf in. Dit kan emosioneel, geldelik of fisiek wees. Hy werk byvoorbeeld nie, maar gaan nie vir behandeling of doen iets om beter te voel nie. Bespreek jou verwagtinge en wat jy dink nodig is om die situasie te verbeter. Huweliksterapie kan dalk ook help.

FOTO Unsplash / Jonas Weckschmied

Vir meer

Klik by www.sadag.org vir aanlynvideo’s met asemhalingsoefeninge om angstigheid te beheer. SADAG-hulplyn: 0800 212 223 of 0800 708 090

Dr. Colinda Linde: www.colindalinde.com; www.theCBTgroup.com.

Besoek: www.thoughtsfirst.com vir selfhelpwenke vir angs

Karlien Erasmus 012 362 7380, www.erasmustherapy.com