Ná ’n ontploffing van reaksie op ’n SARIE-lesersbrief sê ons nou presies wat narsisme is.

Ja hy het ’n obsessie met homself, kan nie empatie betoon nie en maak jou lewe hel. Dís die narsis, in ’n neutedop.

Narsisme is aan die toeneem, onder mans en vroue en onder meer weens die invloed van die sosiale media en ouers se opvoedingstyl. Kenners wêreldwyd praat van ’n “epidemie wat buite beheer is”.

Soos die jare aanstap, raak die situasie darem rooskleuriger. Dié persoonlikheidsafwyking verbeter met ouderdom; narsistiese trekke is maar skaars onder  65-jariges. Teen daardie tyd het die narsis se “sondes” hom al ingehaal en word hy tot inkeer gedwing.

Jy kan ook jou narsistiese man leer hanteer, maar verander kan hy nie sommer nie want hy het geen insig in sy probleem nie. Hy dink: “Hoe kan ek verskoning vra as ek altyd reg is?” “Dis ook waarom dit byna onmoontlik is om hom by ’n terapeut te kry,” sê Murray Jooste, Kaapse sielkundige.

Kenners beveel in elk geval aan dat jy eerder skei van iemand wat jou emosioneel, verbaal of fisiek mishandel. As jou man “net” narsistiese trekke het – en dis reeds ’n nagmerrie – is daar wél hoop.

Maar is elke tweede vrou dan met ’n narsis getroud? Voorheen het navorsers die aantal narsiste op 1% van die bevolking geraam. Maar nuwer navorsing (2008) deur Amerika se National Institutes of Health raam dié persentasie op 6,2%. Dis meer as een uit elke 20 mense. Sowat een uit 16 het narsistiese trekke, trouens, sommige kenners reken dié getal is nader aan een uit elke 6!

Sowat 75% van narsiste is mans – meestal intelligent, met hoë kwalifikasies en in senior poste – maar vroue kan ook ernstige narsiste wees. Hulle kies dikwels beroepe waarin hulle bewonder kan word, soos dié in drama, kuns, atletiek of sport, maar ’n narsis kan ook “’n gewone man” wees wat hom so binne sy gesin of besigheid laat geld. Patriargale waardes speel ’n groot rol. Baie vroue is grootgemaak om te glo die man is die hoof van die huis en huwelik, terwyl húl fokus by die huis en gesin lê. Sy is dalk ook geleer om “ter wille van die vrede” eerder stil te bly as om selfgeldend te wees. Dit versteur die magsverhouding en versterk narsisme. FOTO: Freestocks

Hoe ken jy ’n narsis uit?

1. Vir hom gaan dit oor ek, ek, ek! Die naam narsisme kom uit die Griekse mitologie: Die jong Narsissus raak verlief op sy spieëlbeeld in die water.

2. Narsiste het ’n groot behoefte aan erkenning en bewondering, oorheers dikwels die geselskap en praat graag oor hul eie prestasies. Tog word die dryfkrag na bewondering en sukses nooit bevredig nie, sê Murray.<

3. Die narsis dink hy is beter as ander, maar hy het so ’n brose selfbeeld dat hy nie kritiek kan hanteer nie. Hy kraak  dan ander af of verneder hulle om homself beter te laat voel. Volgens Murray is “hierdie sadistiese neigings” tipies.

4. ’n Narsis kan nie empatie betoon of emosies hanteer nie. Hy sukkel om te gee en te neem en om in lief en leed te deel. Hy kan nie sy eie kwesbaarhede of swak eienskappe deel of jou waarlik liefhê nie. (Jy is eerder iemand waarop hy sy pyn kan projekteer.) Hy kán wel voorgee dat hy empaties is, soos om te huil op ’n onbekende se begrafnis.

5. Hy luister nie en stel nie in ander se welstand belang nie. Tensy hy kan voordeel trek. Die narsis manipuleer, misbruik ander om sy doelwitte te bereik en is magsbehep. Hy dink niks daarvan om jou voorstelle teen te staan en later te maak of dit sy´ idees was nie. Hy gun niemand na aan hom sukses nie, want dis kompetisie. Verhoudings hou net so lank soos ander vir hóm iets kan beteken.

6. Hy vertel leuens om beter te kan lyk in ander se oë en om te kry wat hy wil hê. Die narsis kan selfs sy eie leuens glo. Hy kan dan oor sy inkomstebelasting jok of jou verneuk. Sy optrede is “altyd reg”, reken hy, of hy raak woedend en toon geen of min berou.

7. Die narsis kan jaloers wees, hy vergelyk homself voortdurend met ander. Teenoor jou kan hy selfs patalogies jaloers en besitlik wees. Hy kan bedreig voel deur die aandag wat jy jul kinders of jou vriendinne gee. 8. Hy kan sjarmant en snaaks wees. Dis hoekom jy op hom verlief raak! Ander kan selfs dink hy is opreg hulpvaardig en vrygewig. Hy plaas jou aanvanklik op ’n troontjie, net totdat jy nie meer aan sy´ behoeftes voldoen nie. Dan begin die afkrakery en manipulasie. FOTO: Ethan Sykes

Het jy ’n verhouding met ’n narsis?

Vra jouself:

  • Tree hy op asof die lewe om hom wentel?
  • Moet ek hom komplimenteer om sy aandag of goedkeuring te kry?
  • Stuur hy gereeld die gesprek terug na hom toe?
  • Onderspeel hy my gevoelens of belangstellings, of maak hy dit af?
  • Indien jy hom teëgaan, word hy koud en afsydig?
As jy “ja” op net twee van hierdie vrae antwoord, het jy “heel waarskynlik” met ’n narsis te doen. As jy “ja” op drie of meer vrae antwoord, ís jou maat ’n narsis. Hanli van der Westhuizen, sielkundige, waarsku egter dat net ’n psigiater of kliniese sielkundige dié diagnose behoort te maak. Bron: Prof. Judith Orloff, skrywer van Emotional Freedom: Liberate Yourself From Negative Emotions and Transform Your Life (Three Rivers Press, 2011).

Jou verhouding: gevaarligte

Om te voorkom dat jy met ’n narsis trou, kyk hoe jou maat teenoor jou manlike vriende optree, vra sy mening oor chauvinisme en patriargie, let op na sy verhouding met sy ma. Vra hom hoe hy oor vertroue en respek in ’n verhouding voel. Wees versigtig as hy jou soos ’n objek behandel en van aggressiewe seks hou. Hy sal ook nie entoesiasties wees oor jou loopbaan nie, want hy wil vir jou “sorg” (oftewel beheer). As jy ’n verhouding met ’n narsis wil vermy, pasop as jy glo ’n vrou behoort onderdanig aan haar man te wees of dat hy´ haar selfwaarde gee. Pasop ook as jy iemand met ambisie soek, só graag wil trou dat jy gevaartekens miskyk, van drama hou of só empaties is dat jy glo jy sal ’n problematiese man kan verander. Probeer ’n verhouding met ’n narsis tot elke prys vermy. So nie, sal jy nooit ’n warm, intuïtiewe of gelukkige verhouding kan hê nie.

Hierdie artikel het oorspronklik in SARIE se April 2013-uitgawe verskyn. 

Lees ook:

“My man is ’n narsis” – SARIE-leser vertel

Is dié celebs narsiste?