Gevalle van die dodelike distemper virus (hondesiekte) is in dele van die Kaapstad aangemeld, waarsku die Dierebeskermingsvereniging (DBV).

Wat is hondesiekte? Dis dodelike virus wat onder meer die hond se asemhalingstelsel, maag en sentrale senustelsel aantas.

In ’n onderhoud met Cape Talk se Kieno Kammies het Belinda Abraham, die Kaapse woordvoerder, vir eienaars gevra om die volgende simptome dop te hou:

- Koors

- Inflamasie in die oë

- Loopneus

- Braking

- Diaree

- Verharding van snoet en kussingtjies

Indien jou hond enige van die simptome wys moet jy hom dadelik na die veearts toe vat. 

Hoe word die virus versprei? Die virus word van hond tot hond oorgedra deur enige kontak met vars urine, speeksel en bloed.

Is dit voorkombaar? Hondesiekte is voorkombaar mits jou hond ingeënt is. 

Die DBV het ook op hul Facebook geskryf dat eienaars van ’n hondjie onder die ouderdom van een liefs publieke areas, soos parke en strande moet vermy.